Hoofstuk van die dag: 2 Johannes

As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie … (2 Joh 10)

Ons leef in ’n tyd waar elkeen geregtig is op sy of haar opinie, en sogenaamde “politieke korrektheid” dikteer dat ons nie vir iemand met wie ons verskil, reguit kan sê wat ons regtig dink nie. Ons wil tog nie iemand anders seermaak of laat sleg voel nie. ’n Vriend van my sê die Hollanders is te reguit om ordentlik te wees, en ons is te ordentlik om reguit te wees.
Maar – dis nie noodwendig reg om so ordentlik te wees nie. Jy hoef nie beledigend te wees as jy nie met iemand saamstem nie, maar jy moet beslis wees oor wat jy glo reg is.
Dis natuurlik ’n doolhof in ons multi-kulturele en multi-godsdienstige samelewing. Johannes is egter baie beslis daaroor dat, as dit by die geloof kom, ons nie akkommoderend kan wees nie (vers 10). Daar is net een Here en een Verlosser – Jesus die Christus wat mens geword het (vers 7). Dié belydenis mag nooit in ons omgang met ander en saamwerk met ander verwater word nie.

Naskrif: Môre lees ons 3 Johannes.




Hoofstuk van die dag: 2 Johannes

… ons moet mekaar liefhê. En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe. Soos julle van die begin af gehoor het, is dit sy gebod dat julle in die liefde moet lewe. (vers 5-6)

2 Johannes is een van die kort briewe in die Nuwe Testament, selfs korter as Filemon en Judas.
Die brief is gerig aan “die uitverkore vrou en haar kinders.” Hoewel party verklaarders glo die uitverkore vrou was ’n persoon, is dit meer waarskynlik dat Johannes dié briefie aan ’n gemeente geskryf het.
As volwaardige brief wat voldoen aan die vereistes van die tipiese Griekse briefvorm, pas dié 245 woorde net mooi in op ’n standaardvel papirus. Kort en kragtig hoor ons dieselfde boodskap in 2 Johannes as byvoorbeeld in 1 Johannes: Die gelowiges moet in ooreenstemming met die waarheid lewe (vers 4). Dieselfde lewenswerklikhede spreek ons aan: verwerp sonde (vers 10-11), gehoorsaam die liefdesgebod (vers 5-6), oppas vir die verleiding deur misleiers met hul dwaalleer (vers 7) en volhard in geloofsgemeenskap en die waarheid (verse 4, 9). Die appèl is duidelik en kragtig: lééf wat jy glo en dóén wat jy bely!

Naskrif: Môre lees ons 3 Johannes.