Hoofstuk van die dag: 2 Petrus 3

En beskou die geduld wat ons Here met ons het as geleentheid om gered te word. (vers 15)

Die Here dink anders oor tyd as ons, sê die Bybel. As daar dan ’n lang tyd al verloop het vandat die Here gesê het dat Hy weer kom, beteken dit nie dat die Here vergeet het van sy belofte nie; inteendeel, Hy maak meer tyd sodat al meer mense Hom kan leer ken, tot bekering kan kom, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore moet gaan nie.
Elke dag is nog ’n geleentheid wat God in sy goedheid vir ons gee om te gebruik om nader aan Hom te kom, om te groei op die geloofspad, en om vir ander te vertel van Hom. Daarom is dit goed dat ’n mens van tyd tot tyd bestek opneem van die tyd wat verby is. Het jy jou geleenthede gebruik? Wat het jy met God se tyd gemaak? Het jy oor die jare gevorder op die geloofspad? As jy terugkyk op jou lewe, is jy nou nader aan die Here as ’n jaar gelede?
Miskien wil jy, soos ek, skuld voor die Here bely, omdat jy die genadetyd van God misbruik vir jou eie dinge?

_Naskrif:_ Môre begin ons (DV) met die boek Deuteronomium.




Hoofstuk van die dag: 2 Petrus 2

Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit ’n foltering was vir sy opregte gemoed. (vers 8)

Lot bly vir my ’n raaisel. Volgens Petrus was hy ’n gelowige wat gefolter is deur sy losbandige bure, maar sy keuses het ’n ander storie vertel. Hoekom het hy nie uit Sodom padgegee as dit so sleg was nie? Hoekom het hy besluit om uit die buitewyke van die stad (Gen 13:12) tot binne-in Sodom te trek?
Iets wat vir my ontstellend is, is dat Lot se keuses en lewenswyse uiteindelik sy getuienis kragteloos gemaak het. Sy vrou het omgedraai en is nie saam met hom die stad uit nie; sy skoonseuns het geweier om die stad te verlaat, en sy dogters maak hom dronk en verlei hom om kinders te kan kry (Gen 19).
Pasop! Ook gelowiges kan verkeerde keuses maak, soos Lot, wat uit gierigheid sy oom Abram voorgespring het om die beste van die land op te eis (Gen 13:10). En daardie keuse het hom uiteindelik baie duur te staan gekom.
Hoe het die Here Jesus gesê? Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (Matt 6:21).




Hoofstuk van die dag: 2 Petrus 1

… geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig. (vers 21)

Ons bely dat die Bybel ’n geïnspireerde boek is. Die Heilige Gees het mense meegevoer (vers 21). Dis nie asof Hy woord vir woord gedikteer het wat neergeskryf moes word (die sg. meganiese inspirasieleer) nie. Hy het eerder ’n boodskap in die hart van ’n skrywer gelê, en dié het dan met sy eie gawes en vermoëns dié boodskap op skrif gestel (die organiese inspirasieleer). Daarom sê ons die Bybel is God se woord, deur mense neergepen.
Die Bybel is dus nie onfeilbaar as ’n mens dit aan die wetenskap meet nie. Dit is wel onfeilbaar as ons die boodskap wat God deur die teks aan ons wil oordra, reg hoor. Daarom vereis die regte lees van die Bybel dikwels van ons om te vra: Wat is die boodskap wat die oorspronklik skrywer wou oordra? Wat was die konteks? En: Hoe moet ons daardie boodskap vandag vertolk? Ons omstandighede en kultuur verskil immers wesenlik van die Bybelskrywer s’n.
Eers as ons ons huiswerk goed doen, kan ons staat maak op die lig van die Bybel vir ons lewe (vers 19).




Hoofstuk van die dag: Inleiding

Kyk gerus na hierdie kort videotjie om ’n oorsig oor hierdie brief te kry:




Hoofstuk van die dag: 2 Petrus 3

Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. (vers 9)

Dis nou al twee duisend jaar sedert Jesus terug is hemel toe. Wanneer kom Hy weer? Hoekom talm Hy? En – en dis waaroor Petrus hier skryf – hoekom sal ons op sy wederkoms wag? Dit lyk dan of Hy glad nie weer gaan kom nie!

Daar is mense wat dink ons kan uit Bybelse gegewens ’n berekening maak oor sy wederkoms. Elke dan en wan is daar iemand wat baie seker is van ’n datum. Die tragedie is dat hulle volgelinge kry wat alles los, want in die lig van die wederkoms is hulle aardse werk en selfs gesinne irrelevant.

Petrus sê die wederkoms sal so onverwags kom soos ’n dief in die nag (vers 10). Sommetjies maak gaan jou nie nader aan ’n antwoord bring nie. ’n Beter plan is om te sorg dat jy elke dag gereed is en met verwagting leef, in die regte verhouding met God en onbesproke. Dan kan jy uitsien na daardie wonderlike dag.

Naskrif: Ons gaan môre die boek Psalms verder lees, van Psalm 41 af. Seënwense!




Hoofstuk van die dag: 2 Petrus 2

Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën. (vers 1)

Petrus herinner ons in hoofstuk 1 dat dit die Gees se werk is om mense mee te voer om die woord van God te verkondig (2 Pet 1:21). Maar nie almal wat preek, doen dit gedring deur die Gees nie. Daar is ook mense wat vir eie gewin in die preek-besigheid is. Hulle is vals leraars wat mense agter hulle aan verlei. Hulle is nie leraars omdat hulle die Here Jesus liefhet nie, maar vir eie gewin. In hulle hebsug buit hulle liggelowiges uit (vers 3).

Petrus beskryf in geen onduidelike taal nie wat God met sulke mense sal maak, en waarsku ons teen sulke vals leraars. Dis ongelukkig nie altyd so maklik om ’n vals leraar as vals te herken nie. Petrus gee wel ’n paar wenke. Pasop vir stinkryk predikers (vers 3); aanmatigende predikers (vers 18); predikers wat losbandig of pervers is (vers 18).

’n Ware Geesvervulde se lewe, woorde en dade spreek daarvan dat Jesus sy Here is. Dís die predikers wat navolgenswaardig is.