Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 24

Nadat hy die volk laat tel het, het Dawid se gewete hom gekwel. Hy het teenoor die Here bely: “Ek het swaar gesondig met wat ek gedoen het. Vergewe tog nou my oortreding, Here! Waarlik, ek het baie dwaas opgetree.” (vers 10)

Israel was God s’n. Dawid was wel die koning, maar hy was dit by God se grasie, en die volk het nie aan hom behoort nie. Tog laat Dawid sy onderdane tel om sy seggenskap oor die volk te bevestig. Selfs Joab besef dat dit verkeerd was (vers 3). Dawid se sonde was dat hy oor Israel begin dink het as sýne. Sý land, sý mense, sý onderdane. Iewers het God se gawe in sy eie kop opgehou om ’n geskenk te wees, en het hy daarop beslag gelê.
Die Israeliete het dieselfde gedoen. Hulle het gedink dis húlle land, en hulle kan self besluit wie hulle koning moet wees. Daarom het hulle niks daarvan gedink om Absalom as koning uit te roep en so die Here se gesalfde te verwerp nie. Dit verklaar hoekom die pes die volk tref, en nie vir Dawid nie.
Hierdie verhaal gaan oor die vraag waar God inpas in mense se lewens. Behoort jou lewe en jou wêreld aan Hom?

_Naskrif:_ Môre begin ons DV met 1 Timoteus.




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 23

Hy wat regverdig oor mense heers, wat regeer in eerbied teenoor God, is soos die môrelig as die son opkom op ’n oggend sonder wolke; dit skitter na die reën; die gras skiet op uit die grond. (vers 3-4)

Van ’n koning word twee dinge verwag: om regverdig oor mense te heers en om in eerbied teenoor God te lewe. Indien die koning dit doen, kan sy regering vergelyk word met mooi oomblikke in die natuur: die helder, vroeë oggend, die aarde na die reën en nuwe gras wat uitspruit (vers 4). Daar is lewenskrag en skoonheid in so ’n regering.
Dawid se uitspraak is aan die konings wat uit sy nageslag sou kom, gerig. Hierdie vereistes geld egter nie net ’n koning nie. Dit is die ideaal vir alle mense, klein en groot. Hulle wat regverdig optree en in die vrees van die Here leef, sal geseën word en ’n seën vir ander wees. Goddeloses of skurke (2020-vertaling) het geen blywende nalatenskap nie, en sal verbrand word (vers 6-7).
In die volgende gedeelte is ’n lys van Dawid se helde (vers 8-39). Die lys eindig met Urija die Hetiet, om ons te herinner dat Dawid ’n feilbare mens was.




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 22

In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep. Ek roep na Hom om hulp, en Hy luister na my. (vers 7)

Die hele lied (wat byna woordeliks met Ps 18 ooreenstem) is ’n jubeling in die Here omdat Hy in nood help.
Aanvanklik is Dawid se nood so erg dat hy dit beleef dat die dood naby is (vers 6). Sy vyande het gedreig om hom te oorweldig. Dan gryp God in (vers 8-16) en verlos hom van sy vyande (vers 17-30) omdat Hy Dawid liefhet (vers 20).
Teen die einde van die lied is dit nie meer Dawid wat vlug nie, maar sy vyande (vers 41). God het ingegryp en die bordjies verhang.
Die boodskap van die lied is eenvoudig maar aangrypend: Die Here help in nood. Daar is baie gevare en vyande wat ’n kind van God bedreig. Party dae staar ’n mens selfs die dood in die gesig. Maar jy kan weet: God is vir jou ’n bron van sekuriteit. Hy help jou om jou probleme, jou hartseer, jou swaarkry storm te loop en te oorwin. Daarom moet jy Hom loof voor die nasies, tot eer van sy Naam ’n lofpsalm sing!




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 21

Maar die koning het vir Armoni en Mefiboset, die twee seuns wat Rispa dogter van Aja by Saul gehad het, gevat asook die vyf seuns van Saul se dogter Merab wat sy gehad het by Adriël seun van Barsillai die Megolatiet. (vers 8)

Die laaste hoofstukke van 2 Samuel is los vertellings wat nie kronologies ingevoeg is nie. Hoofstuk 21 pas waarskynlik vroeg in Dawid se koningskap.
Ons lees van die Gibeoniete in Jos 9. Daar het die Israeliete met hulle ’n verdrag gesluit (Jos 9:15). Hulle moes toe dwangarbeid vir die Israeliete verrig. Baie van hulle het die Leviete bygestaan by die Tent van Ontmoeting en het later deel aan die tempeldiens gehad. Toe Saul die priesters van Nob laat vermoor het, het talle van hulle ook omgekom (1 Sam 22:6-18). Nou eis hulle vergelding (vers 6).
Ons kan seker redeneer dat Dawid ’n kind van sy tyd was, en dat hierdie soort optrede destyds aanvaar is. Tog was dit nie een van Dawid se groot oomblikke nie. Nie alles wat algemeen aanvaar word, is reg nie.
Die Here het in Eseg 18:2-4 Hom sterk teen dié soort gebruik uitgespreek. Kinders behoort nie te boet vir hulle ouers se wandade nie.




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 20

Terwyl hulle by die groot klip in Gibeon was, het Amasa by hulle gekom. (vers 8)

Amasa was ’n susterskind van Seruja (17:25) en dus ’n neef van Joab. Absalom het hom as hoof van sy leër aangestel om teen Dawid te veg, maar ná Absalom se dood het Dawid hom in Joab se plek hoof van die leër gemaak om Israel se lojaliteit terug te wen (19:13).
Met sy heel eerste opdrag sleep Amasa egter voete (vers 5), wat nie net vrae oor sy bekwaamheid gewek het nie, maar ook oor sy lojaliteit teenoor Dawid. Boonop tref Joab-hulle hom in Gideon in die gebied van Benjamin aan, wat verdere suspisie wek. Joab is nog gebelg omdat Amasa hom as hoof van die leër vervang het en het nie verdere aanmoediging nodig om Amasa uit die weg te ruim nie (vers 10), net soos hy vroeër met Abner gedoen het (3:27).
Joab neem nou weer bevel oor en beleër Abel, die stad waar Seba skuiling gaan soek het (vers 14). Hy sou sonder skroom die hele stad vernietig het as dit nie vir die wysheid van ’n vrou was nie (vers 16).
Selfs toe die wêreld deur mans oorheers is, was dit dikwels vroue wat moeilike situasies beredder het.




Hoofstuk van die dag: 2 Samuel 19

Verder het die koning vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het dit vir hom selfs met ’n eed bevestig. (vers 23)

Dawid sou met reg Simeï se kop kon eis. Simeï het hom immers gevloek toe hy baie kwesbaar was (2 Sam 16:5-13). Abisai is ook dadelik reg om die doodstraf te voltrek. Dawid wil niks daarvan weet nie. Hy besef dat geweld net nog geweld wek. Daar het al klaar te veel bloed gevloei, en hy kies om te vergewe eerder as om wraak te neem.
Dawid is moeg vir sy suster Seruja se seuns Joab en Abisai (vers 22). Hoewel hulle van sy beste aanvoerders was wat in menige stryd vir hom die knoop deurgehak het (vgl o.a. 2 Sam 10:7-14), het hulle, en veral Joab, hom dikwels groot probleme gegee met hulle eiegeregtige en wraakgierige optrede (kyk bv na 2 Sam 3:38).
Soms moet ’n mens jou trots sluk en vergewe, al is die reg aan jou kant en kan jy iemand terugkry vir die leed wat jou aangedoen is. Dis wat Jesus gevra en gedoen het (Matt 5:38-43; 1 Pet 2:23). Draai die ander wang. Loop die tweede myl saam. Jesus noem immers die vredemakers salig (Matt 5:9).