Hoofstuk van die dag: Amos 9

Ek, die Here God, hou die sondige koninkryk dop, Ek gaan hom wegvee van die aarde af! Maar tog, Ek sal nie die nageslag van Jakob heeltemal uitroei nie, sê die Here. (vers 8)

Die oordeelsaankondigings in die boek Amos is uiters ontstellend. Dit het gekom in ’n tyd van hoogbloei in Israel onder koning Jerobeam II. Van hierdie florerende koninkryk sal daar niks oorbly nie. Die tempel en altaar sal verwoes word (vers 1) sodat kommunikasie met die Here beëindig sal word. Daar sal geen wegkomkans wees nie (vers 2); selfs ballingskap sal hulle nie vrywaar nie (vers 4). Niemand kan vir God wegkruip nie. Hy regeer vanuit die hemel. Sy Naam is Here! (vers 6)
En tog is daar hoop vir dié wat aan Hom getrou bly. Dít bly die ongelooflike van God se handelinge met die mensdom en met ons. Die Here se oordeel is nooit sy laaste woord nie. Sy oordeel suiwer en sif ons (vers 9).
Daarom sluit Amos af met ’n heilsprofesie. Iemand uit die huis van Dawid gaan nuwe heil bring (vers 11). Ons ken mos sy naam: Jesus Christus! Hy neem ons saam na die nuwe koninkryk van God, waar daar oorvloed, vrede en veiligheid sal wees (vers 13-15).
Kom, Here Jesus!

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die boek Markus.




Hoofstuk van die dag: Amos 8

Maar daar kom dae, sê die Here my God, dat Ek ’n honger oor die aarde laat kom: ’n honger nie na kos nie, ’n dors nie na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor. (vers 11)

In Deut 8:3 staan dat ’n mens nie net van brood leef nie. Dis die Skrifgedeelte wat Jesus aanhaal in sy gesprek met Satan (Matt 4:4). Dis hoe die geestelike verval in Israel beskryf is toe Eli hoëpriester was en Samuel as seun in die tempel begin werk het (1 Sam 3:1): “Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie.”
Stel jou ’n lewe voor waarin God se Woord nie meer gehoor word nie, en mense tevergeefs rondval op soek daarna (vers 12). En dit terwyl die Here se woord die lig op ons pad is en die lamp vir ons voet. Duisternis sal neerdaal. God onttrek Hom aan die mens; Hy swyg, hoewel mense onophoudelik na Hom roep.
Wie die Woord nie wil hoor en gehoorsaam nie, word dit ontneem. Wat ’n vreeslike oordeel!
Dis nie in ons tyd die geval nie, maar ’n mens kán jou doof hou vir God. Sonder geestelike brood wag geestelike dood onvermydelik.




Hoofstuk van die dag: Amos 7

Die Here het toe van sy voorneme afgesien, Hy het gesê: Dit sal nie gebeur nie. (vers 3, vgl vers 6)

Blykbaar het Amos die eerste twee visioene (die sprinkane en die vuur) gesien voordat hy in Israel begin optree het. Sy gebed dat God sal vergewe (vers 2 en 5) is dan nie ’n gebed dat hulle sonde oorgesien moet word nie, maar dat God sy oordeel sal uitstel, sodat hulle eers gewaarsku kan word, o.a. deur Amos se prediking.
’n Mens dink onwillekeurig aan Jesus se gebed vir dié wat Hom gekruisig het (Luk 23:24). Daarmee het Hy gebid om uitstel van die voltrekking van God se oordeel oor dié wat Hom gekruisig het. Iets daarvan lees ons ook by 2 Pet 3:9: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie […] Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”
Interessant dat God nie vir Amos kans gee om ná die derde visioen wéér om uitstel te pleit nie. Hy sê vir Amos (vers 9): “Ek gaan hom nie meer spaar nie.” Israel het nie die genadetyd wat Hy hulle gegun het, gebruik nie.




Hoofstuk van die dag: Amos 6

Die Here my God het ’n eed afgelê by Homself, die Here die almagtige God sê: Ek verafsku die hooghartigheid van Jakob, Ek het ’n weersin in sy mooi huise! (vers 8)

Die toneel wat Amos vir ons skets oor die rykes wat in weelde leef, salig onbewus (vers 1) van die naderende onheil van God se oordeel (vers 3), laat my dink aan Nero wat glo viool gespeel het terwyl Rome afbrand. Weelde kan ’n mens blind maak vir wat om jou aangaan, soos Jesus ons ook in die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Luk 16:19-31) waarsku. Dis wat in Israel gebeur het. Hulle het opgehou om die nood van randfigure om hulle raak te sien en só die reg verkrag (vers 12).
Hierdie soort selfgenoegsaamheid is ’n gruwel in die oë van die Here (vers 8). Daarom sê Jesus in sy saligsprekinge (Matt 5:3): “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.” Iemand wat alte belangrik is in sy eie oë, is ver van God se plan vir sy of haar lewe. So iemand het nie plek in sy hart vir ander nie. En uiteindelik is presies dít die toets wat Jesus op die Laaste Dag sal aanlê (Matt 25:31-46).




Hoofstuk van die dag: Amos 5

Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie! Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ’n standhoudende stroom. (vers 23-24)

Jy het waarskynlik gehoor van die Indiese leier Ghandi wat gesê het hy hou baie van Christus en het al oorweeg om ’n Christen te word, maar as hy na die Christene se optrede kyk, stel hy nie meer belang nie. Of iemand wat sê hy kom nie kerk toe nie, want die ouderling wat so vroom Sondae in die kerk sit, is ’n monster by die huis en by sy werk.
Dis waaroor dit hier gaan. Daar was nie ’n korrelasie tussen die Israeliete se godsdiens en hulle daaglikse lewe vol sosiale onreg en uitbuiting nie.
Die Bybelse boodskap is van die begin af een van liefde vir God én liefde vir die naaste, soos Jesus in Matt 22:36-40 dit helder uitspel. Die een kan nie sonder die ander nie. Daarom skryf Jakobus dat jou geloof gedefinieer word deur jou optrede teenoor jou naaste (Jak 2:24).
Ons weet dit almal. Die vraag is of ons dit leef.




Hoofstuk van die dag: Amos 4

So hou julle mos daarvan, Israeliete, sê die Here my God. (vers 5b)

Die Here se woorde by monde van Amos in vers 4-5 herinner sterk aan die Here Jesus se gelykenis van die tollenaar en die sondaar (Luk 18:9-14). In die gelykenis spog die Fariseër in sy gebed oor sy voorbeeldige lewe en talle oorvloedige offers. Maar uiteindelik was dit nie hy nie, maar die tollenaar, wat huis toe gegaan het as iemand wie se saak met God reg is (Luk 18:14).
Israel se godsdiens, sê God, is niks anders nie as sonde (vers 4). Want deur hulle offers het hulle hulle eie gewete gestreel en goed gevoel oor hulleself (vers 5b). Só het hulle nie God nie, maar net hulleself gedien.
Wanneer dít wat jy as kerklidmaat doen, daarop gemik is om jou gewete te sus en goed te voel oor jouself, of indruk op ander te maak, raak dit ’n klug. Jy flous niemand anders nie as jouself, sê die Here.
Amos 4 is ’n ernstige waarskuwing aan ons almal. Om kerk-kerk te speel beïndruk nie die Here nie. Ons moet besef dat ons met die lewende, almagtige God te make het (vers 13).