Hoofstuk van die dag: Daniël 12

Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd. (vers 13)

Wanneer dit baie swaar gaan, kan jy maklik moed opgee en in wanhoop versink. Die boodskap van die boek is egter een van hoop. Daar ís lig aan die einde van die tonnel. Dinge sal nie vir altyd so sleg bly nie.
Eggo’s van Daniël se visioene oor groot verdrukking kom in verskillende dele van die Nuwe Testament voor, selfs in die woorde van die Here Jesus (Matt 24:21). ’n Logiese reaksie op so ’n aankondiging is: Wanneer gaan dit gebeur? En wanneer is die wederkoms? (vers 5,7,13). Dit was ook die dissipels se reaksie (vgl Hand 1:6).
Daar is tot vandag toe nog mense wat probeer bereken wanneer die wederkoms sal plaasvind. Nóg Daniël, nóg die dissipels het ’n antwoord op dié vraag gekry. Die antwoord lê nie in wanneer hierdie dinge gaan gebeur nie, maar in hoe ons moet leef – in hoopvolle verwagting op die wederkoms. Vir Daniël sê die engel (vers 13): “Maar hou jy aan tot die einde toe.” Vir die dissipels sê Jesus (Hand 1:8): “Julle sal my getuies wees.” Dis ook vir ons waar.

Naskrif: Ons lees môre die Tweede brief van Johannes.




Hoofstuk van die dag: Daniël 11

Hy sal sy koninklike tente opslaan tussen die see en die pragtige berg waar die heiligdom staan. Maar dan sal hy aan sy einde kom en niemand sal hom kan help nie. (vers 45)

In Daniël 11 deel die engel aan Daniël die verloop van die geskiedenis mee (vgl Dan 10:21). Dit begin by die laaste jare van die Persiese Ryk en die verowering deur Alexander die Grote (vers 3). Dit loop uiteindelik uit op die regering van Antiogos IV Epiphanes se wrede bewind en ontheiliging van die tempel (vers 31) en vervolging van die Jode wat aan God getrou gebly het (vers 32).
Die verteller wil met hierdie verhaal sy lesers aanspoor om aan God getrou te bly. Uiteindelik sal Antiogos IV Epiphanes se bewind tot ’n einde kom (vers 45), en daarom moet hulle moed skep. God is in beheer van sake.
Hierdie versekering van die skrywer van die boek Daniël is vandag nog net so waar. God is in beheer. In Christus het Hy ons losgekoop van die bose magte wat ons wil verslaaf, en uiteindelik sál Hy triomfeer oor alle magte wat Hom teenstaan. Daarom hoef ons nie te skrik as ons teenstand beleef nie. Die geskiedenis is in God se hand.




Hoofstuk van die dag: Daniël 10

Die engel van die Persiese ryk het my een en twintig dae lank teruggehou, maar toe het Migael, een van die vernaamste engele, my te hulp gekom … (vers 13)

Daniël treur en vas drie weke lank (vers 2). Dit kon moontlik wees omdat so min Jode die geleentheid wat Kores hulle twee jaar tevore gebied het om na hulle vaderland terug te keer, aangegryp het. Die gryse ou profeet se hart is stukkend omdat sy mense nie sy passie oor die beloofde land deel nie.
Die engel van die Persiese ryk (vers 13) en die engel van Griekeland (vers 20) is na alle waarskynlikheid bose engele, in diens van Satan. Satan en die bose engeleryk is net so ’n werklikheid soos wat God en sy engele is, soos wat die apostel Paulus ons in Ef 6:12 waarsku. Dit is een van die redes waarom ons soms lank moet wag vir ’n antwoord op ons gebede. Die duiwel probeer van die begin af God se werk in die wiele ry, en hy het nog nooit daarmee opgehou nie, soos ons uit hierdie gedeelte so treffend kan sien.
Die duiwel en sy trawante kan ’n mens ontstel. Gelukkig is ons veilig in die hande van Hom wat ons liefhet (vers 19).




Hoofstuk van die dag: Daniël 9

In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare ’n puinhoop sou wees. (vers 2)

Daniël sien hierdie visioen kort ná die val van Babel. In sy studie van die profesieë van Jeremia ontdek hy Jeremia se voorspelling dat Jerusalem vir 70 jaar ’n puinhoop sal wees (vers 2; vgl. Jer 25:11,12 en 29:10). Hy besef dat die tyd vir terugkeer uit ballingskap op hande is. Sy reaksie is, verrassend genoeg, nie ’n lofgebed nie, maar ’n verootmoedigende skuldbelydenis (vers 4-19), want hy is bang dat sy volksgenote nie gereed is om die beloofde land terug te ontvang nie.
Die antwoord wat die engel Gabriël bring, herhaal eintlik net wat Daniël in die vorige twee visioene (hoofstuk 7 en 8) reeds gesien het. Dit kom daarop neer dat God die geskiedenis in sy hand hou, en dat die ellende wat Antiogos IV Epiphanes gebring het, net vir ’n kort rukkie sal duur voordat God ingryp (vers 27).
Vir Daniël was die eer van God op die spel (vers 19); daarom smeek hy om vergifnis vir sy mense. Waaroor gaan dit in jóú gebede?




Hoofstuk van die dag: Daniël 8

Deur sy vindingrykheid sal hy slaag met sy sluwe optrede. In sy verwaandheid sal hy baie mense goedsmoeds om die lewe bring. Hy sal selfs die hoogste Regeerder uitdaag, maar sal vernietig word sonder die toedoen van ’n mens. (vers 25)

Die visioen van die skaapram en die bokram wat Daniël in hoofstuk 8 sien, stem grootliks ooreen met die visioen van hoofstuk 7. Dit handel ook oor die opeenvolgende regerings van Medië en Persië en van Griekeland, of eintlik Alexander die Grote (verse 20-21). Ná Alexander die Grote se ontydige dood het sy ryk in vier opgebreek, en Antiogos IV Epiphanes het die een deel van die ryk wat Palestina ingesluit het, later regeer. Sy pogings om die Jode te onderdruk en hulle geloof te vernietig was ongehoord (vers 24). Hy het bv. die Joodse priesters gedwing om varke te offer, selfs op die altaar in die tempel, en só die tempel ontheilig (Dan 9:27).
Die skrywer herinner sy lesers daaraan dat dié goddelose heerser nie vir altyd sal regeer nie. God Self sal hom vernietig (vers 25). In Christus hét Hy dit gedoen, en daarom kan ons Hom vandag sonder vrees of dwang aanbid en dien.




Hoofstuk van die dag: Daniël 7

My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. (vers 13)

’n Baie belangrike uitgangspunt vir die korrekte verstaan van hierdie gedeelte is dat ons hier met ’n apokaliptiese inkleding van die geskiedenis te make het en nie met profesieë (oor die toekoms) nie. Die skrywer (wat in die tweede eeu vC geleef het) beskryf die geskiedenis van die wêreld en van Israel sedert die ballingskap tot met sy eie tyd en gebruik Daniël as mondstuk om dit te doen. Deur hierdie bekende Godsman uit die verlede aan die woord te stel, kry die skrywer dit reg om anoniem te bly, en kan hy sonder vrees vir vervolging die gruwels van die goddelose koning Antiogos IV Epiphanes (175-164 vC) aan die kaak stel en die oordeel van God oor sy ryk aankondig.
“Iemand soos ’n menslike wese” (letterlik “seun van ’n mens”) dui op die koms van Christus, wat Homself dikwels só genoem het (o.a. Matt 8:20). Hý is die Een wat aardse koninkryke omverwerp (vers 14) en ’n ewige heerskappy kom oprig het en tot in ewigheid sal regeer. By Hom is ons veilig.