Hoofstuk van die dag: Daniël 6

Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.” (vers 6)

Hierdie vertelling is een van die bekendste Bybelverhale wat ons van kindsbeen af goed ken. Dit het baie ooreenkomste met hoofstuk 3, waar Daniël se vriende in die brandende oond beland en ongeskonde daar uitkom, danksy God se bewaring. Dit onderstreep weer eens dat ons nie aan ons eie lot oorgelaat word nie, en dat ons daarom met hoop kan leef, kom wat wil.
Die verhaal konfronteer ons egter ook. Daniël se voorbeeld praat hard. Sekerlik is sy getroue en volhardende gebedslewe (vers 11) vir ons ’n voorbeeld. Baie gelowiges het bv. nie die vrymoedigheid om in ’n restaurant openlik die Here te dank vir die kos nie. Hulle bid terwyl hulle oor die voorkop vryf, om so hulle gebed te verdoesel.
Maar meer nog. Hy het sy werk letterlik onbesproke gedoen (vers 5), al het hy as senior minister sekerlik baie geleenthede gehad om homself te verryk. Nou wonder ek, as mense na mý lewe kyk en iets soek om my mee by te kom, sal hulle genoeg rede kry om van my ontslae te raak?




Hoofstuk van die dag: Daniël 5

‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. (vers 27)

Belsasar was Nebukadnesar se kleinseun. Hy was die regent terwyl sy pa Nabonidus met ’n veldtog in Arabië besig was. Die koningin (vers 10) was Belsasar se ma. Belsasar het hierdie feesmaal-orgie gehou terwyl die stad deur Kores die Pers beleër is. G’n wonder Daniël is gewalg deur sy arrogansie (vers 22-24) nie!
Met hierdie vertelling onderstreep die skrywer die tema van die boek: God regeer. Hy is in beheer. Hy skenk die lewensasem en beskik oor die lewe (vers 23). Hy weet wat aangaan, en almal, hoe magtig ook al, word deur Hom geweeg. Dis die troos van die evangelie.
’n Mens se eerste reaksie op hierdie verhaal en wat met Belsasar gebeur het, is: goed so! Ek kan aan ’n hele paar mense dink van wie dit hoog tyd is dat hulle ook geweeg word. Die Bybel is egter in die eerste plek vir my en jou geskryf. Óns moet hierdie woord ter harte neem en nie die splinters in ander se oë soek nie (Matt 7:5). Ook ons lewens word geweeg.
Ek wéét ek is te lig. Deur God se genade is dit nie mý gewig wat tel nie, maar Christus se offer. Dis my troos.




Hoofstuk van die dag: Daniël 4

Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou. (vers 27)

Die Bybel waarsku op talle plekke dat hoogmoed ’n mens tot ’n val bring (o.a. Spr 29:23). Hierdie vertelling onderstreep dit in dik hale. Nebukadnesar, die magtigste man op aarde, verloor alles omdat hy ’n groot kop gekry het (vers 30, 33). Eers toe hy erken dat dit God is aan wie die mag behoort (vers 37), word hy in sy eer herstel.
Niemand regeer as God dit nie in sy genade toelaat nie (Rom 13:1). Die skrywer van die boek Daniël wil met hierdie berig sy lesers bemoedig. God is die Een wat in beheer is. Hulle mag met hoop leef dat hulle nie vir altyd verdruk sal word nie. Ook vandag moet die owerhede weet dat hulle slegs by die grasie van God regeer.
Verder moet ek en jy die boodskap van die hoofstuk ter harte neem. Soos die Spreuke-digter in 3:34 waarsku: “Met hooghartige spotters dryf Hy die spot, maar Hy is goed vir dié wat beskeie is.” Hoogmoed pas nou maar eenmaal nie by God se kinders nie.




Hoofstuk van die dag: Daniël 3

Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie … (vers 17-18)

Ek is seker daar was Jode wat gedink het dié drie is darem net té vroom. Hulle kon mos maar net gemáák het of hulle die beeld aanbid, en só vir hulleself baie ellende gespaar het, of hoe?
Die ding is, ’n mens kan nie ’n kompromis met die Bose maak nie. Ons getuienis in hierdie wêreld is ononderhandelbaar. En die Here Jesus belowe tog dat Hy in sulke omstandighede vir ons deur sy Heilige Gees sal lei (Mark 13:11).
Wat my aangryp, is dat die drie vas staan, selfs al het hulle geweet daar is nie ’n waarborg dat hulle behoue anderkant gaan uitkom nie (vers 17-18). Ons weet immers nie hoe God se plan loop nie. Ons kan maar net ons deel doen en aan Hom getrou bly en vertrou dat Hy sal weet wat moet gebeur.
Ware geloof is ’n “selfs al” geloof. Ons staan immers in die Here se diens, nie Hy in ons s’n nie.




Hoofstuk van die dag: Daniël 2

Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime kan openbaar … (vers 28)

Wat doen ’n mens as die frustrasie oorkook, of ’n krisis dreig om jou te oorweldig? Daniël 2 vertel van twee uiteenlopende reaksies. Nebukadnesar se oplossing vir sy frustrasie is eg menslik: geweld. Al die koninklike raadgewers moet doodgemaak word.
Geweld is egter nie die gelowige se oplossing nie. Daniël reageer deur “versigtig navraag” te doen (vers 14). In die 2020-vertaling staan dat hy “met raad en goeie oordeel gereageer” het. Nie arrogant of uitdagend nie, maar diplomaties. Hy onderhandel uitstel, sodat hy en sy vriende met God oor die krisis kan praat.
Jare later was dit presies wat Paulus vir die gemeente van Filippi bid: begrip en fyn aanvoeling om te onderskei waarop dit werklik aankom (Fil 1:9-10). Sagaria onderstreep dit in Sag 4:6: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”
Daniël het dit verstaan, en geleef soos Psalm 127:2 leer: “Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.” Of soos Spr 3:5-6 ons maan: Vertrou volkome op die Here en ken Hom in alles wat jy doen. Dis nog net so waar vir ons vandag.




Hoofstuk van die dag: Daniël 1

Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. (vers 8)

Dit is duidelik dat dit vir koning Nebukadnesar nie maar net daaroor gegaan het om die klomp Joodjies ’n goeie opleiding te gee nie. Dit het vir hom om hulle harte gegaan. Alles wat hulle aan hulle Joodsheid en geloof in Jahwe herinner het, het hy vervang met Babiloniese inhoud: hulle name, hulle spyskaart, hulle taal.
’n Mens kan jou daaroor verwonder dat Daniël en sy drie vriende dié aanslag kon weerstaan. Natuurlik het God alles daarmee te doen gehad. Ons lees dat God die hele tyd by hulle betrokke was (verse 9 en 17).
Ander faktore het hulle ook gehelp. Daniël was nie alleen nie. Hulle was vier wat saamgestaan het. En hulle was nie meer laerskoolkinders nie; hulle was omtrent 14 jaar oud. Die geloofsfondament wat hulle van huis uit as kinders gekry het, het hulle in staat gestel om tussen reg en verkeerd te onderskei en staande te bly.
Moenie dit wat jy jou (klein)kinders leer, onderskat nie! Dís waar hulle geloof en karakter gevorm word.