Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 34

Daar het nie weer ’n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken. (vers 10)

’n Mens kan jou nouliks die volk Israel voorstel sonder om aan Moses te dink. God het hom, die bangbroek hakkelaar (Eks 4:13), ’n reus onder die staatsmanne gemaak. Hy het met die kennis wat hy in die paleis in Egipte opgedoen het, Israel van ’n slawevolk na ’n nasie met ’n eie identiteit gelei. Deur sy toedoen is die volk georganiseer in ’n funksionele staat. En hy het hulle gehelp om God te leer ken en aanbid. Inderdaad was daar nie weer ’n profeet soos Moses nie. Deur hom het God wonders gedoen, wat by die volk vrees ingeboesem het en hulle met ontsag vir die Here vervul het (vers 12).
Moses se geheim was sy innige verhouding met God. Hy het die Here persoonlik geken, merk die skrywer op. Ons lees dit ook in Eks 33:11.
Ons het nie almal dieselfde geleenthede soos wat Moses gehad het nie. Ons kan nie almal staatsmanne en volksleiers wees nie. Maar ons kan almal die Here persoonlik ken.
Mag dit van jou en my waar wees!

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die Evangelie volgens Lukas.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 33

Dit gaan goed met jou, Israel! Wie is soos jy? Jy is ’n volk wat deur die Here verlos is! (vers 29)
 
Moses, die geestelike vader van Israel, seën sy kinders, die stamme van Israel, voordat hy sterf. Dis byna soos ’n testament. Ons kry dieselfde gebruik by Isak (Gen 27) en Jakob (Gen 49). Moses noem die volk “Jesurun”, Opregte (vers 5 en 26), ’n troetelnaam vir Israel, om daarmee sy innige verbondenheid met die volk te onderstreep.
In sy laaste woorde vat hy as ’t ware die kern van Israel se volk-wees saam (vers 29). Hulle is ’n volk wat deur die Here verlos is. Dít definieer hulle en onderskei hulle van alle ander volke op aarde.
Dit is steeds waar van ons, Christene, die nuwe volk van God. God het ons sy eiendom gemaak en Hy sorg vir ons. Hy het ons gekies en verlos deur sy Seun. Ons is sy kinders, en daarom is ons anders as alle ander mense op aarde. Dit is ons diepste identiteit. Ons is mense wat in die skadu van die kruis leef, verlos en saamgebind in ’n nuwe mensheid deur Jesus Christus. 
Geen ander aardse lojaliteite mag vir ons belangriker wees nie, soos Paulus ons in Gal 3:28 herinner.



Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 32

My onderrig kom na julle toe soos reënwater, my woorde verkwik julle soos dou, soos sagte reëns op die grassies, soos reënbuie op die graan. (vers 2)

Vir die Israeliete wat vir veertig jaar net die dorheid van die woestynlewe geken het, moes die beeld van reënwater, dou en sagte reën besonder treffend gewees het. Só is sy woorde (wat hy in opdrag van die Here oordra, vgl 31:19), sê Moses. Dit verkwik en bring groei en nuwe lewe.
As jy egter die hele lied lees, is daar met die eerste oogopslag min sprake van verkwikking. Dit is ’n aanklag teen Israel, want in die toekoms gaan hulle aan die Here ontrou wees. Daarom vertel dit eerder van straf en oordeel uit die hand van God.
Partykeer is soebat en mooipraat nie gepas nie, en is harde woorde nodig. Dit val nie sag op die oor nie. ’n Lidmaat het al vir my gesê sy wil nie van die preekstoel af hoor sy doen sonde nie; sy wil hoor sy is oulik en wonderlik.
Daar wás ’n tyd toe preke meer oordeel as genade verkondig het. Ek onthou hoe sieldodend dit was. Maar dalk het die pendulum nou te ver teruggeswaai. Oordeel én genadeverkondiging is nodig.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 31

Toe sê die Here vir Moses: “Jy gaan nou sterf. Daarna sal hierdie volk ontrou word en in die land waar hy gaan woon, die vreemde gode van die land aanhang. Die volk sal My verlaat en die verbond verbreek wat Ek met hom gesluit het.” (vers 16)

Ons het hier met die raaisel van die sonde te make. Jy weet wat is reg, en jy weet wat die gevolge gaan wees as jy die regte ding nie doen nie, en tog doen jy die verkeerde. Moses het dit goed verstaan, en daarom waarsku hy die Israeliete oor en oor dat hulle moet lig loop vir die versoeking om van God weg te draai. Hy spel selfs in detail uit wat die gevolge van dié afvalligheid gaan wees – hulle sal God verloor.
Paulus skryf in Rom 7:15-24 hoe hierdie einste raaisel in sy eie lewe uitspeel. Hy roep moedeloos uit: “Ek, ellendige mens!” En dan jubel hy (Rom 7:25): “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
Want Christus se kruisdood het ons nie net van die skuld van ons sonde verlos nie, maar ook van die vloek, die houvas, wat sonde op ons het.
Het jy Hom al vandag daarvoor gedank?




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 30

Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. (vers 11)

Die Bybel is die werk van baie skrywers wat in die verloop van eeue neergepen het wat hulle by God gehoor het (Heb 1:1 en 2 Pet 1:21). Daarom kry ons verskillende perspektiewe en genres in die Bybel oor God en sy handelinge met ons.
Dié veelkantige getuienis kan ’n mens moedeloos maak. Die Bybel is immers ’n dik boek, en mens weet nie altyd waar om te soek na antwoorde op jou vrae nie. Tog is God se gebod nie moeilik nie (vers 11). Ons weet intuïtief wat is reg en wat is verkeerd; dit is in ons ingeskape, deel van ons DNS (Rom 2:15). Die probleem is dat ons nie na dié ingebore gebod wil luister nie. Ons wil maak wat ons wil en nie onder God se gesag staan nie. Paulus noem dit ons ou natuur; die gevolg van die sondeval wat maak dat ons van nature dwars is.
Wanneer jy ophou om teenstrydighede en foute in die Bybel te soek en leef soos jy weet reg is, sal jy ontdek dat God se leiding helder en genoeg is.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 29

Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. (vers 29)

Ons weet nie alles van God en hoe Hy die wêreld bestuur nie. Ons weet net wat Hy aan ons bekendgemaak het. Meer as dit weet ons nie, en kan ons nie weet nie, al probeer mense ook hóé hard om die misterie wat God omhul, te deurdring. Ons kyk in ’n spieël en sien ’n raaiselagtige beeld (1 Kor 13:12), herinner Paulus ons. Dit pas ons om beskeie te wees in ons nadenke oor God.
Dit beteken egter nie dat ons niks van God kan weet nie. Wat God aan ons geopenbaar het, hoewel dit nie alles is nie, is betroubaar en genoeg. Op grond daarvan kan ons aflei hoe Hy is in sake wat Hy nié geopenbaar het nie. Om die beeld van ’n koek te gebruik. Jy hoef nie die hele koek op te sny om te weet of die koek goed gebak is of platgeval het nie, want die enkele snytjie gaan tot in die kern van die koek.
Die Bybel is soos daardie snytjie koek – genoeg.