Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 28

As jy die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen, sal Hy jou in stand hou as sy heilige volk soos Hy met ’n eed aan jou beloof het. (vers 9)

Ons weet goed dat dit nie so eenvoudig is dat as jy die Here dien, alles met jou goed sal gaan, en as jy Hom nié dien nie, ellende jou sal tref nie. Daarvoor is daar net te veel Godvresende mense wat swaarkry, en ook te veel goddeloses wat nie die einde van hulle voorspoed ken nie.
Die sg. voorspoedsteologie steun sterk op gedeeltes soos hierdie.
Hoe moet ons hieroor dink? Enersyds moet ons in hierdie hoofstuk Moses se dringende pleidooi hoor dat gehoorsaamheid aan God alles is, en dat God se seëninge rus op dié wat Hom dien. Ongehoorsaamheid en ontrou lei eventueel na die afgrond van verdoemenis. Dit het inderdaad so uitgespeel vir Israel, toe eers die noordelike stamme, en later ook Juda, in ballingskap weggevoer is.
Andersyds moet ons onthou dat ons nie God se seëninge nét in materiële voorspoed moet meet of verwag nie. God se seëninge is daar waar jy sy hand in jou lewe ervaar, selfs al gaan dit broekskeur (vgl Matt 5:3-12!).




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 27

Wanneer jy deur die Jordaanrivier trek op pad na die land toe wat die Here jou God aan jou gee, moet jy groot klippe opstapel en hulle met kalk afwit. (vers 2)

Dis merkwaardig op hoeveel maniere die Here die Israeliete gehelp het om te onthou dat hulle sy volk is. Die verbondsteken van die besnydenis; die voorgeskrewe feeste het hulle telkens herinner dat hulle die Here s’n is en dat Hy hulle verlos het; hulle moes klossies aan hulle klere vaswerk (Deut 22:12); hulle moes die gebooie op hulle deurkosyne en stadspoorte skryf (Deut 6:9 en 11:20).
In hierdie hoofstuk gee Moses opdrag dat afgewitte klippe met die gebooie daarop geskryf, op Ebalberg (dit is naby Sigem in die middel van die land) opgestapel moet word (vers 1-8) as ’n verdere herinnering aan hulle roeping om as heilige volk te leef.
Ons het vandag ook sulke herinnerings – die doop en nagmaal, die jaarlikse kerklike feeste, die teken van die kruis, die Bybel … genoeg om ons telkens te herinner dat ons God s’n is en vir Hom moet leef. Die vraag is net of ons daarop ingestel is om op hierdie herinneringe ag te slaan. Want dan sal ons geloof vars en innig bly.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 26

Jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huis gegee het – jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou is. (vers 11)

Ek was in my bediening telkens verbaas oor hoeveel misverstand en selfs wrewel daar by lidmate bestaan oor die gee van dankoffers. Vrae soos: “Wat wil die kerk met al die geld maak?” en: “Hoekom praat julle so baie oor geld?” is meermale geopper. En natuurlik die grappie dat die “NG” in “NG Kerk” staan vir “en gee en gee en gee.”
As ’n mens deur die Bybel blaai, val dit op hoeveel keer daar oor gawes en offers en tiendes gepraat word. Deut 26 is deel daarvan. Wat my óók opval, is dat die gee van offers en tiendes met vreugde en vrolikheid gepaard gaan (vers 11). Paulus skryf ook in dié trant oor die saak in 2 Kor 8:2 (oorvloedige blydskap), 2 Kor 9:5 (’n werklike offer van dankbaarheid, en nie iets wat afgepers is nie) en 2 Kor 9:7 (God het die blymoedige gewer lief).
Hoekom gee party mense dan so knyp-knyp hulle offers? Is hulle nie dankbaar vir al God se goeie gawes aan hulle nie? Of is dit bloot uit onkunde?




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 25

In Israel kry hy dan die naam Huis van die Uitgetrekte Sandaal. (vers 10, 2020-vertaling)

Die swaershuwelik is om twee redes ingestel. ’n Weduwee was destyds in groot moeilikheid as sy nie ’n kind gehad het wat vir haar kon sorg nie. ’n Vrou het nie regstatus gehad nie en kon moeilik op haar eie oorleef. Deur met haar man se broer te trou, kon sy kinders kry wat vir haar kon sorg op haar oudag. Verder het dié reëling verseker dat die vrou nie met ’n vreemdeling trou en die erfgrond so uit die familie vervreem raak nie.
Nie almal was bereid om die swaershuwelik aan te gaan nie. Die klassieke voorbeeld is dié van die eerste losser in die verhaal van Rut (Rut 4:6). Die verteller van die boek Rut was nie beïndruk met hom nie. Dan was daar natuurlik Juda se seun Onan, wat wel met Tamar getrou het, maar geweier het om kinders by haar te verwek (Gen 38:8-9).
Moses wou dié soort gedrag in die kiem smoor, en reël dat die man wat nie sy plig wou nakom nie, in die openbaar verneder word (vers 9).
As gelowiges moet ons soms van onsself vergeet om ander te help. Dis immers wat Jesus gedoen het.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 24

Wanneer ’n man met ’n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy ’n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur. (vers 1)

Met hierdie bepaling het Moses dit moeiliker gemaak vir ’n man om sommer net sy vrou te los oor iets onbenullig. Maar later was daar verskil van mening oor wat Moses bedoel het met “iets onbetaamliks”. Die woord in die oorspronklike Hebreeus is ’n tegniese term, waarvan die presiese betekenis verlore gegaan het. Só was daar in Jesus se tyd twee denkrigtings. Die skool van Rabbi Sjammai was strenger en het egskeiding slegs toegestaan op grond van die vrou se owerspel. Rabbi Hillel was meer toegeeflik en het egskeiding op enige grond toegelaat. Selfs verbrande kos was volgens dié siening iets onbetaamlik en ’n grond vir egskeiding!
Toe Jesus oor hierdie saak gekonfronteer is (Matt 19:3-9), kies Hy die standpunt van Rabbi Sjammai. Die feit dat Moses egskeiding hoegenaamd toegelaat het, was ’n toegewing, nie die norm nie. Egskeiding druis in teen God se skeppingsbedoeling, sê Hy (Matt 19:4-6).
Egskeiding is nie God se plan nie, en mag steeds slegs as allerlaaste opsie oorweeg word.




Hoofstuk van die dag: Deuteronomium 23

Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie. (vers 3)

Die vyandskap tussen Israel en die Ammoniete en Moabiete spruit uit die tyd toe dié volke geweier het om aan Israel deurgang te gee op pad Kanaän toe, en ook die optrede van die Moabitiese koning Balak, wat wou hê dat Bileam Israel moet vervloek (vers 4, vgl Num 22-23).
’n Interessante uitsondering op die vredesverbod met dié volke is Rut, die skoondogter van Naomi. Hoewel sy ’n Moabiet was, het sy deel geword van Israel toe sy eers met Maglon, en later met Boas getrou het (dié verhaal is in die boek Rut vir ons bewaar). So het sy die oumagrootjie van koning Dawid geword (en dus ook ’n voorsaat van die Here Jesus, vgl Rut 4:22).
Die boek Rut is elke jaar tydens die Huttefees gelees. Die verbod op vrede met Moab was dus nie absoluut nie. God is immers soewerein oor alle nasies, selfs oor hulle wat die mees veragte vyande van sy volk was.
God is ’n God van nuwe kanse (Ps 103:9). Daar is hoop vir ons elkeen!