Hoofstuk van die dag: Efesiërs 6

Bly dan op julle pos […] Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. (Efes 6:14,18)

Toe ek nog diensplig gedoen het en ek moes wagstaan, moes ek aanmeld vir wagparade. Daar het die offisier aan diens ons klere en wapens geïnspekteer om te kyk dat alles reg is, en dan instruksies gegee oor waar en wanneer elkeen se beurt is.
In die stryd teen die Bose kry ons ook wapens, sodat ons op ons pos kan wees, gereed vir die listige aanslae van die duiwel: waarheid, vryspraak, bereidheid om te getuig, geloof, verlossing, die Bybel (vers 14-17). Dan voeg Paulus by dat ons dit biddend moet doen (vers 18). Dis soos die wagparade, want in gebed, in God se teenwoordigheid, kry ons leiding oor hoe en waar ons veral wakker moet wees.
Die wagparade is natuurlik iets wat vóór die wagbeurt moet gebeur. Dit lyk my, om gereed te wees vir die listige aanslae, moet ons aan die begin van die dag aanmeld. En dan biddend leef.
Dis hoe Jesus geleef het (Luk 3:21; 6:12; 9:18,28; 11:1; 22:41; Heb 5:7). Hierin moet ons Hom elke dag getrou volg. Dis die enigste manier.

Naskrif: Môre lees ons die Brief aan Filemon.




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 5

Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. (Efes 5:1)

Ons lewe in ’n stukkende wêreld. Ongelukkig, so skryf Paulus, is dit nie net ongelowiges wat hiervoor verantwoordelik is nie (4:25 – 5:5). Valsheid, woede, diefstal, vuil taal, afbrekende gesprekke, bitterheid, opvlieëndheid, vloek en skel, ontug, onsedelikheid, gierigheid, growwe en ligsinnige praatjies – hierdie dinge kom onder gemeentelede voor! Onder ons. Ons wat beskuldigende vingers na die ander mense wys. Ons doen hierdie dinge aan mekaar.
God het ons sy kinders gemaak en Hy wil hê ons moet na Hom aard en sy voorbeeld volg (vers 1), maar ons lyk nie soos Hy nie. Ons is kinders van God, en Hy word nie moeg vir die wêreld nie. Ons is na sy beeld geskep, soos God gemaak, sê Efes 4:24. Daarom moet ons God se voorbeeld volg (vers 1). Hy het nie die wêreld afgeskryf nie.
Voordat ons die wêreld by God kan aankla en kan vra dat Hy die wêreld verander, sal ons eers sélf voor Hom moet kom staan met ons eie sondeskuld, ons selfsug, ons liefdeloosheid – met die feit dat ons God se kinders is, maar nie soos God is nie.




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 4

Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. (Efes 4:7)

Paulus het dit in dié hoofstuk oor die eenheid van die kerk (vers 3); ’n eenheid wat in die laaste paar jaar al broser geword het. Om die eenheid te behou, pleit hy by sy lesers om altyd beskeie, vriendelik en geduldig te wees, en mekaar in liefde te verdra (vers 2). Namate ons al hoe meer groei in ons geloof en meer soos Christus word, groei ons ook in die kerk na mekaar (vers 15,16).
Om ons hiermee te help, het Christus, die Hoof van die liggaam, aan elkeen van ons ’n gawe gegee (vers 7). Die Heidelbergse Kategismus sê dat ons elkeen verplig is om ons gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (HK 55).
Anders gestel: Ons is Christus se genadegawes vir mekaar. Christus het ons vir mekaar gegee, sodat ons mekaar kan help, mekaar kan dien, en saam die kerk kan opbou. Daarom moet ons met groter vasberadenheid, in beskeidenheid, vriendelikheid en geduld mekaar in liefde verdra. Só sal ons as kerk na Christus toe groei.
Dís ons roeping as gelowiges vandag.




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 3

En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie […] word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God … (Efes 3:6)

Paulus skryf hier van die geheimenis wat God, soos nooit tevore nie, nou deur sy Gees aan hom en die apostels geopenbaar het (vers 3-5). ’n Mens verwag onwillekeurig dat dié geheimenis daarin geleë is dat Christus ons kom verlos het. So is ons immers: selfgerig. Dit gaan oor mý. Jesus se hele koms was om mý te red.
Natuurlik het Hy vir my gekom, en vir jou. Maar vir Paulus lê daar ’n ander groot wonder in Christus se koms: dat ook dié wat tradisioneel uitgesluit was, nou deel van God se volk kan wees en deel kry aan wat God belowe het (vers 6).
Ek het geskrik toe ek lees wat Paulus geskryf het, want ek mis daardie soort passie vir ander se redding in myself. Dit gaan nie in die kerk en die evangelie (net) oor my nie. Dit gaan oor almal, en ons vreugde moet daarin lê dat ander mense wat nou buite die kerk staan, in Christus ook plek in die gemeente kan kry.
Dís nou grensverskuiwend.




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 2

Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. […] Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. (Efes 2:11 en 13)

Rassisme is nie ’n nuwe verskynsel nie. In Efese was daar Joodse gelowiges wat neergesien het op almal wat nie Jode was nie en hulle gojim genoem het, ’n skeldwoord. En dan was daar die Griekse gelowiges wat almal wat nie Grieks was nie, barbaroi genoem het; ook ’n skeldwoord. Ons ken vandag nog sulke skeldwoorde om mense wat anders as ons is, mee te beskryf en te degradeer tot mense wat ons mindere is.
Paulus skryf dat hierdie soort verdeling van mense in verskillende kampe nie in die kerk tuishoort nie. God het ons immers nuut gemaak (vers 10). Daarom moet ons vanuit hierdie nuutheid na ander kyk, en in gedagte hou dat ons ook eers buitestanders was (vers 11). Christus is immers ons vrede. Hy het die vyandskap tussen mense afgebreek (vers 14).
Christus het dit in sy hele lewe uitgeleef. Hy het grense afgebreek. Hy het tyd gehad vir vroue, gesels met Samaritane, met tollenaars, met sondaars. Hy het uitgereik na hulle wat verstoot is. Hierin moet ons Hom volg.




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 1

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet […] hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. (Efes 1:18-19)

Dit lyk soms vir buitestanders asof die Here tot wie ons Sondae lofliedere sing, net in die kerk is. Want as ons eers by die kerkdeure uitgestap het, is ons net so beangs, benoud en verward soos die ongelowiges. Ons God is so klein dat Hy in ’n kerkgebou toegesluit kan word, tot volgende Sondag – so lyk dit.
Ons lewe soos sukkelaars, en dit terwyl Christus gesê het dat Hy gekom het om ons die lewe te gee, en dit in oorvloed. Ons krimp ineen as ons sien hoe die duiwel rondloop soos ’n brullende leeu, en dit terwyl ons Heiland die groot Koning is.
Hoekom? Omdat ons nie verstaan dat God op ’n ongelooflike manier in ons aan die werk is nie. Daarom dat Paulus hier bid dat God ons oë sal verhelder dat ons kan weet hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo – dieselfde krag wat Christus uit die dood opgewek het. Dáárdie krag werk ook in ons!
Ag nee wat! Ons durf nie sukkel-sukkel aanstrompel op die geloofspad nie. Ons is bekragtig!