Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Efesiërs

Alhoewel hierdie brief bekend staan as die Brief aan die Efesiërs, was dit heel moontlik nie net vir die gelowiges in Efese bedoel nie, maar eerder ‘n omsendbrief aan die verskillende gemeentes in Klein-Asië. In baie manuskripte is daar ‘n spasie waar die gemeente se naam moes wees, sodat elke gemeente hulle eie naam daar kon invul.
Kyk gerus weer na hierdie video wat ’n goeie opsomming van die boek gee:




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 6

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. (vers 11)

Ons is in ’n oorlog gewikkel as gelowiges – nie teen ander mense nie, maar teen die listige aanslae van die Bose. En in hierdie stryd is ons weerloos as ons op ons eie probeer om staande te bly. Ons het wapens nodig – die wapens wat God ons gee om ons te beskerm teen die aanslae: die waarheid, die vryspraak deur God, die bereidheid om die evangelie te verkondig, geloof, verlossing en die woord van God (vers 14-17).
Interessant dat Paulus nie aanvalswapens noem (soos ’n spies of pyl en boog) nie. Een verklaarder sê die Here gee nie vir ons aanvalswapens nie, want Hy verwag nie van ons om die duiwel aan te val nie. Dit sal Hý doen. Hy gee ons wapens om ons mee te verdedig as Satan óns kom aanval.
Ons kan nie elkeen in hierdie oorlog maak wat ons wil en waar ons wil nie. Daarvoor gee God ons die wapen van gebed (vers 18). Want in God se teenwoordigheid kry ons van ons hemelse Bevelvoerder die leiding wat ons nodig het.

Naskrif: Môre begin ons met die boek Ester.




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 5

… laat die Gees julle vervul … (vers 18)

Iemand wat aan Christus behoort, hét reeds die Heilige Gees ontvang. En tog sê die Bybel: “… laat die Gees julle vervul.” Want hoewel die Heilige Gees in elke gelowige woon en werk, beteken dit nie dat alle gelowiges outomaties ook met die Gees vervul is nie. Baie gelowiges se lewens is van so ’n aard dat hulle eie ek nog die botoon in hulle lewens voer.
Wat die Bybel hier van ons vra, is dat ons ons daarop moet instel dat die Heilige Gees die beheer oor ons lewens kan oorneem, dat die Gees ons só moet vul dat ons as mense van die lig sal lewe (vers 8), dat ons vol sal wees van die dinge van die Here, dat ons gedurig daaroor sal dink en praat.
Dit beteken om die Heilige Gees toe te laat om jou lewe te lei en te rig op God en sy wil vir jou lewe. En kyk net wat gebeur met ’n mens as die Gees jou vervul: So ’n mens se lewe word ’n lied, hy begin sing (vers 19) en leef dankbaar (vers 20).
Lof en dankbaarheid: dís wat die Gees wil doen; ook in jóú lewe.




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 4

Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. (vers 4)

As daar ooit ’n tyd was wat ons hierdie woord moet hoor, is dit nou. Die kerk is flenters, versplinter in honderde denominasies, en dit hou net nie op nie. Tans is daar ook weer sprake van skeuring in die NG Kerk. Daar is die sg. verkramptes en liberales. En hulle is bitsig met mekaar. Dis om van te huil.
In die nuwe huisgesin van God is bloed dikker as water; dis Christus se bloed. Ek kan nie my familie kies nie. God, ons een Vader, het dit reeds gedoen. En ons – nou moet ons optree “in ooreenstemming met die roeping” wat ons van God ontvang het “deur in vrede met mekaar te lewe” (vs 3).
Daarom mag (en móét!) ons nie net huil oor die verdeeldheid nie. Ons moet met groter vasberadenheid, in beskeidenheid, vriendelikheid en geduld mekaar in liefde verdra, sodat ons die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, kan handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe (vers 3). Só sal ons as kerk na Christus toe groei. Ons is tog deur die Gees genadegawes van Christus vir mekaar.




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 3

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word … (vers 16)

Is dít nie wat ons ook nodig het nie? Die innerlike krag, die moed om vir Christus op te staan? Dat ons nie net die visie sal hê (vers 18) van wat God kan doen as Hy mense se lewens verander nie, maar dat ons ook die moed sal hê om op te staan en te sê: Hier is ek! Ek meld my aan. Ek gaan betrokke raak by die God se besig-wees in die wêreld. Ek gaan nie langer wegskram van die opofferings wat ek weet my betrokkenheid gaan vra nie.
Paulus het alles geweet van die opofferings en selfs ontberings wat sy roeping van hom geverg het. Dit was immers van die begin af God se plan met hom (Hand 9:15). En tog beskou hy dit as ’n voorreg en ’n eer om deel van God se plan te mag wees, al vra dit offers (vers 8-9). Want sy hart het soos God s’n begin klop. Hy het geleer om soos God te dink, soos God na die mense om hom te kyk.
Mag dit van ons ook waar wees!




Hoofstuk van die dag: Efesiërs 2

Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. (vers 3-4)

God het met ons nuut begin. Ons ou sondige lewe het Hy weggevee en ons lewend gemaak. Ons, wat gelewe het soos hierdie sondige wêreld en ons laat lei het deur die vors van die onsigbare bose magte (vers 2), ons ontvang saam met Christus ’n plek in die hemel (vers 6).
Dís wat gebeur as God ingryp. Dan verander jou lewe handomkeer. Niks is meer dieselfde nie, want jý is nie meer dieselfde nie. God het jou lewend gemaak.
As ’n mens na jouself kyk, wil jy net jou kop skud dat God dit alles vir jou oor het; dat Hy jou innig liefhet (vers 4). Geloof vra dat ons moet leer om nuut na onsself te kyk. Dat ons moet sien dat Jesus se offer ons verander het. Daarom kan ons nuut lewe.
Ons kan. Want in Christus Jesus is ons nuut! God het ons deur die werk van die Heilige Gees saam met Christus Jesus nuutgemaak, soos vers 10 sê: “… om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”