Hoofstuk van die dag: Eksodus 40

Moses kon nie in die tent van ontmoeting inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul. (vers 35)

In Eks 33:11 lees ons: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend.” En tog, toe die wolk die tabernakel gevul het, kon Moses nie ingaan nie. Die heiligheid van God het dit verhoed. Dit het ook by die brandende doringbos in Eks 3:5 gebeur.

Dit is iets wat ons baie goed moet verstaan. God is die Gans Andere. Hy is heilig. Voor Hom moet ons altyd huiwer. Die Spreuke-digter sê dit by herhaling (1:7, 2020-vertaling): “Ontsag vir die Here is die begin van kennis.” God is in misterie omhul, en geen mens behoort dié misterie te ontrafel nie. “God is in die hemel en jy is op die aarde; daarom moet jou woorde min wees.” (Pred 5:1)

In die Here Jesus het God natuurlik tot by ons gekom en vir ons die toegang tot die Vader geword. Maar – al is Hy ons oudste Broer en Vriend (Joh 15:15), is Hy nie ons tjommie nie. Ook in verhouding met Hom moet ons met ontsag leef.

 


Naskrif: Dankie dat jy die Bybel saam met my lees. Ek stuur (DV) op 1 Februarie my volgende hoofstuk.




Hoofstuk van die dag: Eksodus 39

Moses het al die werk geïnspekteer en gesien dat dit gemaak is soos die Here beveel het. Toe het Moses die vakmanne gelukgewens en bedank. (vers 43)

Soos ’n goeie leier inspekteer Moses die werk, en wens hy die vakmanne geluk met hulle prestasie. ’n Mens sou ook kon vertaal dat hy hulle geseën het.

Interessant dat die beskrywing hier aan die einde van die hoofstuk baie herinner aan die beskrywing van die voltooiing van die skepping (Gen 2:1-3). In die skeppingsverhaal word beskryf hoe God vir ons ’n woning gemaak het, en in Eksodus staan hoe die Israeliete vir God ’n woning maak sodat Hy tussen hulle kon woon. In beide gevalle rus die seën van die Here op die werk.

In hierdie gedeelte word sewe maal herhaal dat die Israeliete gemaak het “presies soos die Here vir Moses beveel het” (vers 32). Dié instruksies staan in hoofstuk 28. Dit was nie ’n oefening in vrysinnigheid nie, maar in gehoorsaamheid. Dit is soos dit hoort. ’n Mens kan nie die Here dien én jou eie kop volg nie.


Naskrif: Ons sluit môre af met die boek Eksodus. Gedurende die vakansie hou ek vir eers op met die hoofstuk per dag. Ek sal (DV) weer op 1 Februarie 2021 die program hervat met die boek 1 Korintiërs.




Hoofstuk van die dag: Eksodus 38

Hier volg die hoeveelhede van die materiaal wat gebruik is om die tabernakel waarin die getuienis was, op te rig. (vers 21)

Behalwe vir Besaleël en Oholiab, die vakmanne wat in beheer was van die ontwerp en maak van alles in die tabernakel-kompleks, lees ons nou van ’n derde persoon in die span: Itamar. Hy was die rekenmeester van die projek, of dalk die bourekenaar, as ons ’n moderne titel vir sy taak soek. Hy en die Leviete onder hom was verantwoordelik vir die noukeurige opteken van al die materiaal wat vir die tabernakel geskenk en gebruik is.

Vir party van ons klink dit na ’n vervelige taak, dalk onbelangrik of selfs onbenullig. Dié wat weet, sal dadelik vir jou sê dat ’n noukeurige bestekopname en voorraadbestuur noodsaaklik is vir enige projek. As dié saak beter in ons land hanteer is, sou daar baie minder geleentheid vir korrupsie en wanadministrasie wees.

Wanneer ’n mens vir die Here werk, is daar nie belangrike en minder belangrike take nie, soos Paulus ons in 1 Kor 12:12-31 uitwys. Daarom is die bietjie of die baie wat jy vir die Here doen, belangrik genoeg dat jy jou beste daarvoor gee.




Hoofstuk van die dag: Eksodus 37

Hy het ook die gewyde salfolie en die geurige, rein wierook gemeng soos ’n bekwame vakman dit doen. (vers 29)

As ’n mens hierdie hoofstukke lees, sou jy maklik onder die indruk kon kom dat Besaleël alles wat genoem word, op sy eie gemaak het. Dit is natuurlik nie so nie. Ons het in Eks 36:8 gelees van “begaafde vakmanne” wat die werk gedoen het. Besaleël was die leier van dié groep vakmanne. Maar ons weet ook van Oholiab (Eks 36:1) wat hom bygestaan het, om nie te praat van die vroue wat die spin- en weefwerk gedoen het (Eks 35:25-26).

Met spanwerk kom ’n mens baie verder as wat jy alles alleen probeer doen. Dit moes Moses vroeg al by sy skoonpa Jetro leer (Eks 18:17). Die Prediker sê dit ook (Pred 4:9): “Twee vaar beter as een.”

Dis vandag nog so. Die Here het aan ons elkeen gawes gegee, maar dis eers as ons ons gawes saam met ander gebruik, dat seëninge daaruit voortvloei. Dit is onder andere wat die begrip “die gemeenskap van die heiliges” volgens die Heidelbergse Kategismus vraag 55 beteken: “… dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.”




Hoofstuk van die dag: Eksodus 36

Daar was meer as genoeg om al die werk te doen, daar was selfs nog oor. (vers 7)

Wat ’n wonderlike getuigskrif vir die Israeliete! Vandag sukkel baie kerke om genoeg middele te kry. Daar is baie redes voor – dalende lidmaatgetalle, sukkelende ekonomie, ouer-wordende gemeentes … Dit is alles realiteite waarmee ’n gemeente nie kan stry nie.

Partykeer is die rede egter op ’n ander plek te soek. Die Here Jesus het in sy brief aan Efese (Op 2:4) sy vinger sekuur op die wond geplaas: “Julle het my nie meer so lief soos in die begin nie.”

Maar genoeg van hierdie negatiewe opmerkings. Dis ’n voorreg om vir die werk van die Here by te dra, en dit het die Israeliete besef. Daarom hou hulle aan om te gee totdat die vakmanne hulle moet stop (vers 6). Ons lees iets van hierdie groothartigheid vir die werk van die Here in 2 Kor 8, waar Paulus vertel van die gemeentes in Masedonië se ruim bydraes. Dan gee hy die geheim in vers 5: “Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.”




Hoofstuk van die dag: Eksodus 35

Ses dae moet julle julle werk doen, maar die sewende dag moet vir julle ’n gewyde dag wees. Dit is ’n rusdag tot eer van die Here. (vers 2)

Hoe moeilik is dit vir jou om weg te breek van jou werk? Kan jy dit vir ’n hele dag los? Dís waaroor die sesde gebod gaan. Dit

gaan oor rus om die dodelike roetine van werk, werk, werk te breek. Een dag in die week stop dit. Daardie dag is ’n gewyde dag, dit behoort aan God, sodat ons Hom kan eer en die feit dat Hy ons verlos het, kan vier. Vir ons as Christene is dit Sondag.

As jy jou Sondag só inrig dat daar nie tyd is om saam met ander gelowiges jou verlossing te vier nie, het jy ’n probleem. Sondag is ’n present wat God vir ons gegee het. Ons kan rus! Ons kan kerk toe gaan om God te aanbid, om sy ander kinders te ontmoet en deur die saamwees met hulle in ons geloof versterk te word. Ons hoef nie Sondae te werk nie. Daarom het ons tyd vir God, mekaar en vir onsself.

Dit is mos onnosel om dié wonderlike geskenk van God op te mors!