Hoofstuk van die dag: Eksodus 34

… was hy nie daarvan bewus dat sy gesig blink geword het terwyl die Here met hom gepraat het nie. (vers 29)

Wanneer ’n gewone mens voor God lewe, kan dit nie anders nie: sy lewe verander. Sy lewe begin iets van God se heerlikheid uitstraal. Dit het met Moses gebeur. Die glans van die heerlikheid van God het uit hom begin straal, sodat sy gesig geblink het.

Dit is ook wat met gelowiges vandag nog gebeur: die beeld van God se Seun, Jesus Christus, begin hoe langer hoe meer in ons verskyn.

Toe die Israeliete na Moses gekyk het, kon hulle nie anders nie as om te weet: hy is ’n man van God. Hy het met God gepraat; hulle kon dit op sy gesig sien.

En ons? Sal mense wat na ons woorde en ons dade kyk, wat in ons gesigte vaskyk, kan sien dat ons die lewende God self ontmoet het?

Wat sien mense in jou en my oë? Die sagtheid, die liefde van die Here Jesus? Of die harde, koue blik van hierdie wêreld, van oog vir oog en tand vir tand? Van elke man vir homself?

Wat sien jou man, jou vrou, jou kinders, in jou gesig?




Hoofstuk van die dag: Eksodus 33

Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie. (vers 20)

In vers 11 staan dat die Here direk met Moses gepraat het, soos ’n man met sy vriend. Dit skep die indruk dat Moses vir God kon sien en ’n mens is lus om jaloers te word. Uit vers 20 is dit duidelik dat Moses Hom nie direk gesien het nie. ’n Wolk het telkens die tent bedek om te verhinder dat Moses God sien (vers 9).

In Eks 24:11 het ons ook gelees dat die leiers God gesien het. Soek ’n mens egter detail oor wat presies hulle gesien het, sal jy teleurgesteld wees, want al wat beskryf word, is die plaveisel onder God se voete (24:10).

Dit is in lyn met wat ons in Eks 33 lees. Kyk gerus ook na 1 Kon 19:11 en Jes 6:1-5. Selfs in Op 4 en 5 waar Johannes in die hemel is, praat hy net van “Iemand” en skryf eerder oor die glans wat Hom omring.

Hebreërs 11:1 herinner ons daarom daaraan dat ons nie deur aanskoue glo nie. En dat die Here Jesus ons prentjie van God is (Heb 1:3) vir Wie ons voor oë moet hou (Heb 12:1-3).




Hoofstuk van die dag: Eksodus 32

Maar Aäron antwoord: “U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is.” (vers 22)

Aäron laat my aan Adam en Eva dink toe God hulle uitgevang het in die Tuin van Eden. Sélf was hulle onskuldig; dis die ander wat opgemors het. Dit is ongelukkig soos mense (ons ook!) is – gou om ’n ander die skuld te gee sodat jyself blaamloos kan wees. Aäron pak alles op die volk. Sy eie aandeel was eintlik baie klein. Só redeneer hy. Hy het maar net die goud in die vuur gegooi, toe kom daar as ’t ware vanself ’n kalf uit!

’n Mens kom nie ver met sulke verskonings voor God nie. Adam en Eva moes uiteindelik die skuld van hulle opstand dra, en Moses koop nie Aäron se verskonings nie. Aäron het die volk op loop laat sit, sê vers 25.

Anders as Aäron gooi Moses nie sommer die volk weg en maak hulle af as sleg nie, al het hy alle rede gehad. Nee, ten spyte van die gruwelike sonde wat hulle aangevang het, pleit Moses vir hulle by God. Dít is ware grootheid: om nie net aan jouself te dink nie. Soos Jesus ook gedoen het. Lees gerus hoe Paulus daaroor praat in Fil 2:3-5.




Hoofstuk van die dag: Eksodus 31

“Kyk, Ek het vir Besaleël uitgekies. […] Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen […] Ek het vir Oholiab [..] aangestel om saam met hom te werk. Aan elke vakman het Ek vaardigheid gegee sodat hulle alles kan maak wat Ek jou beveel het.” (vers 1-6)

Dis nie net geestelikes wat deur God uitgesoek en toegerus word nie. Hier lees ons van vakmanne, toegerus deur die Gees om met vaardigheid, insig en verstand die tabernakel en priestersklede te maak (vers 3-5). En – die Here ken hulle op die naam, soos Hy jou ook op jou naam ken en weet watter vaardighede Hy aan jou gegee het.

God het belang by die vakmanskap en detail van die werk wat gedoen word. Daarom het Hy gedetailleerde instruksies gegee. Enige rof-en-tjommel saamgeflanste ding is nie goed genoeg vir Hom nie. Net die beste wat jy kan doen, is goed genoeg.

Jou en my persoonlike vermoëns en werksetiek maak vir God saak, want dit is Hy wat dit gee. Daarom vra Hy ook ons allerbeste, soos Hy dit van Besaleël en Oholiab verwag het.

God ken jou op die naam, en rus jou toe deur sy Gees. Gee jy jou beste vir Hom?




Hoofstuk van die dag: Eksodus 30

Die ryke moet nie meer en die arme nie minder as die offergawe van ses gram silwer vir My bring as versoeningsoffer vir sy lewe nie. (vers 15)

Die mense het destyds niks van volkstellings gehou nie, want dit het óf gegaan oor hoeveel weerbare mans daar was om oorlog te maak (Num 1:3), óf oor hoeveel mense belasting kon betaal (bv die volkstelling met Jesus se geboorte).

Hierdie volkstelling was moontlik vir militêre diens (vandaar die vrees vir ’n ramp vir dié wat getel word), maar God gebruik dit om die inrig van die tabernakel te befonds. Die ses gram silwer (’n baie klein bedraggie, in vandag se geld net ’n paar rand) was ’n versoeningsoffer vir die Here.

Interessant dat ryk en arm presies dieselfde bedrag moes gee. Dit was ’n eenmalige offer, nie soos ’n dankoffer waar elkeen volgens vermoë bydra nie (vgl 2 Kor 8:3; 9:7). Ons het almal genade en vergifnis nodig as gevolg van die dinge wat ons doen. Geen ryk mens kan die Here “omkoop” en geen arme kan betaling vryspring nie. Hy verwag dat ons almal nederig tot Hom sal kom om vergifnis te ontvang en deel van sy familie te word.




Hoofstuk van die dag: Eksodus 29

Ek sal tussen die Israeliete woon en hulle God wees. (vers 45)

Hierdie woorde van God kom aan die einde van al die voorskrifte oor hoe die priesters aan Hom gewy moet word deur ’n hele rits ingewikkelde offerhandelinge. Die punt is dat God tussen sy mense wil woon, maar dat dit nie sommer net kan gebeur nie. Daarvoor is die mense te sondig.

Die priesters moes dit moontlik maak dat God se mense voor Hom kan leef en met Hom kan kommunikeer deur hulle offers. Hulle kon nie sommer direk tot God nader nie; Hy het hulle op ’n afstand gehou deurdat die priesters as tussengangers hulle van God weggehou het. Maar voordat die priesters dié belangrike middelaarsrol in die gemeenskap kon speel, moes hulleself eers deur offers gereinig word.

Die offervoorskrifte help ons om iets van die Here Jesus se werk as Hoëpriester te verstaan (lees gerus Hebreërs 9). Jesus het nie diere geoffer soos die priesters van ouds nie; Hy het Homself geoffer om ons met God te versoen, sodat God tussen ons kan woon en ons God kan wees.

Dis die evangelie, die goeie nuus wat ons vandag kan omhels!