Hoofstuk van die dag: Esegiël 48

Die omtrek van die stad moet nege kilometer wees, en sy naam moet van vandag af wees: Die Here is daar. (Eseg 48:35)

’n Deurlopende tema in die boek Esegiël is Jerusalem, met al die afskuwelike sonde en afgodsdiens wat daarbinne gepleeg is, tot selfs in die tempel. Daarom staan die feit dat die stad en tempel verwoes is, helder in ’n mens se gedagtes.
Interessant dat die stad wat Esegiël visualiseer, nêrens “Jerusalem” genoem word nie. Dit is ’n nuwe stad, gereinig van alles waaroor God gewalg het. Die stad het twaalf poorte waardeur die ganse Israel vrye toegang het na die heiligdom en na die teenwoordigheid van die Here. Daar breek immers ’n nuwe tydvak aan; ’n nuwe verhouding met die Here, waar Hy op ’n nuwe manier teenwoordig is by sy kinders.
Die stad se naam is veelseggend: “Die Here is daar.” Hy is nie net teenwoordig nie, maar ook Borg van die stad en die hele volk. Later sou Johannes dit oor die Seun sê: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh 1:14). En Matteus vertel dat Jesus “Immanuel” genoem word: God by ons (Matt 1:23). So belowe Jesus ook by sy hemelvaart: Hy is by ons (Matt 28:20).
Dis die evangelie!

_Naskrif:_ Môre begin ons (DV) lees aan die Brief aan die Kolossense.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 47

Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. (Eseg 47:1)

Op 22:1-2 steun sterk op hierdie visioen van Esegiël. Daar word die rivier ten regte “die water van die lewe” genoem. Dit vloei vanuit die troon van God en van die Lam. In Esegiël ontspring dié rivier by die tempel, waar God teenwoordig is onder sy mense. Dit bring lewe oral waar dit vloei, en maak die dorre wêreld ’n lushof (47: 9, 11). Wat dood was, word lewendig.
Jesus het dié beeld op Homself toegepas – Hý is die een wat, deur sy Gees, die lewende water verskaf (Joh 4:10 en 7:37-39). Daarom kon Hy vir Marta sê dat Hy die opstanding en die lewe is, en dat dié wat in Hom glo, sal lewe (Joh 11:25).
Die water bring egter nie net lewe vir mense nie. Dit bring herstel aan die hele skepping. Daarom herinner die visioen aan Gen 2. In Paulus se lied oor die grootheid van die Seun in Kol 1:15-20 verkondig hy dat Christus nie net lewe vir die kerk bring nie, maar vir alles op die aarde en in die hemel (Kol 1:20).




Hoofstuk van die dag: Esegiël 45 – 46

Maar wanneer die gewone burgers op feesdae in die teenwoordigheid van die Here wil kom, moet dié wat deur die noordpoort inkom om in aanbidding te buig, by die suidpoort uitgaan, en dié wat deur die suidpoort inkom, moet by die noordpoort uitgaan. Niemand mag teruggaan deur die poort waar hy ingekom het nie, almal moet by die ander kant uitgaan. (Eseg 46:9)

Vir ons is al die reëls en regulasies wat hier afgekondig word, ietwat vreemd en selfs vermoeiend. Ons is mos vrygemaak deur Christus, en ons wil vasstaan in hierdie vryheid en ons nie onder ’n nuwe slawejuk laat indwing nie (Gal 5:1). Op ’n ander plek skryf Paulus ook dat alles ons geoorloof is (1 Kor 6:12 en 10:23), maar – en hier is die vangplek – nie alle vryhede wat ek het, is opbouend nie.
Dis in die lig hiervan dat ons die reëlings wat Esegiël hier tref, moet verstaan. Dit gaan nie oor doodse wettiese reëls nie. Maar as almal maak wat hulle wil, sal dit tot anargie in die kerk lei. Daar ís ’n plek vir sterk, vaste riglyne in die kerk. Daarom moet ons ag slaan op geestelike leiers wat die reëls neerlê, soos Esegiël hier doen.
Dit geld ook vir jou persoonlike geloofslewe.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 44

Hierdie poort moet toe bly, dit moet nie oopgemaak word nie en niemand mag daardeur gaan nie, want Ek, die Here, die God van Israel, het daardeur gekom; die poort moet toe bly. (Eseg 44:2)

Die oospoort van die tempelkompleks is die poort waardeur die Here die tempel ingekom en met sy magtige teenwoordigheid gevul het (43:1-5). Dié poort was nie net verbode vir mense om daardeur te gaan nie; dit moes toe bly, want dit was net vir God se gebruik.
Die feit dat God beveel dat die poort toe moet bly, beteken ook dat Hý dit nie weer gaan nodig hê nie, want Hy gaan nie weer sy mense verlaat nie. Hy het na die tempel gekom om te bly.
Slegs die regeerder mag in die poortgebou gaan sit om in God se teenwoordigheid te eet, maar die poort self mag hy nie gebruik nie (44:3). Israel het immers net Een wat oor hulle heers en die wag hou, en dit is die Here God. Net Hy word in die tempel gedien en niemand anders nie. Die ou gebruik dat die koning se paleis aan die tempel vas was, is nou opgehef (43:8).
Die Here is altyd by ons. Ons kan ons in sy blywende teenwoordigheid verheug.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 40 – 43

Mens, jy moet die tempel vir Israel beskrywe, sodat hulle kan skaam kry oor hulle oortredings. Laat hulle die plan van die tempel nagaan, […] sodat hulle die hele uitleg van die tempel en al die voorskrifte wat vir hom geld, in ag kan neem en daarvolgens kan optree. (Eseg 43:10-11)

Salomo se tempel was die sentrum van Juda se geestelike lewe; ’n kragtige simbool van God se blywende teenwoordigheid. Maar dié tempel is verwoes. Tog het God nie sy mense sonder hoop gelaat nie. By monde van Esegiël kondig Hy aan dat Hy ’n geheel nuwe tempel beplan. Die uitleg van die nuwe tempel word in Eseg 40 – 42 in fyn besonderhede beskryf.
Die doel van dié uitvoerige beskrywing was om die Jode te laat skaam kry oor hulle oortredings en mislukkings as God se mense, en hulle te laat besef dat hulle God nodig het. Soos die man in Esegiël se visioen God se nuwe tempel noukeurig afgemeet het, moes hulle hulle eie lewe in oënskou neem en ’n voorraadopname voor God maak.
Dieselfde beginsel geld vir ons. In ons diepste nood, in tye van groot verlies of vrees, roep God ons tot selfondersoek, en om dan daarop te fokus dat Hy altyd by ons is (43:7).




Hoofstuk van die dag: Esegiël 38 – 39

“Maar,” sê die Here my God, “die dag wanneer Gog die land Israel aanval, sal my toorn teen hom losbreek.” (Eseg 38:18)

Gog, die leier van die land Magog, is ’n legendariese, uiters gewelddadige figuur wat angs en verskrikking inboesem. Hy is die verpersoonliking van die vyande van God se mense, wat daarop uit sal wees om Israel te vernietig wanneer die ballingskap verby is en die Israeliete en Jode na Kanaän terugkeer. Dit sal dus iewers in die toekoms gebeur, wanneer die land oop lê omdat al die stadsmure en vestings deur Nebukadnesar vernietig is en die mense weerloos is (38:11-16).
Die troos wat Esegiël bring, is dat God se mense nie regtig weerloos teen die aanslag van die Bose is nie. God sal self ingryp om die Bose te stuit. Esegiël beskryf taamlik grafies hoe Gog en sy hordes deur God afgemaai sal word en in ’n massagraf begrawe sal word (39:11-16).
God is groot en heilig. So wil Hy geken, geëer, gevrees en geliefd wees. Almal moet dit weet, selfs dié wat dit nie wil weet of hoor nie. Elkeen moet swig voor die besef dat God die Here is (38:23 en 39:25-28).
’n Nuwe tyd sal aanbreek as die Gees uitgestort is (39:29). Dis mos Pinkstertyd!