Hoofstuk van die dag: Esegiël 37

Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’” (Eseg 37:11)

As ’n mens in gedagte hou dat daar in die Ou Testamentiese tye nog nie ’n konsep van lewe ná die dood bestaan het nie, is Eseg 37:1-14 grensverskuiwend. Natuurlik gaan hierdie visioen nie in die eerste plek daaroor nie, maar oor God se vernuwende krag om selfs waar alles dood lyk en doodgeloop het, nuwe lewe, nuwe moontlikhede, nuwe hoop te bring.
Israel het dit baie nodig gehad. Hulle sug en kla (vers 11). Vir hierdie uitsiglose situasie het Esegiël se woorde egter troos: God kan! Sy Gees bring nuwe lewe en nuwe hoop waar hulle op moedverloor se vlakte sit. Niks kan die Here keer nie, selfs nie die dood nie.
Met Christus se opstanding uit die dood het hierdie profesie letterlik in vervulling gegaan. Daar ís lewe na die dood. Daarom kan ons hoop hê op die ewige lewe by Hom.
Maar hierdie gedeelte wil ons ook moed gee wanneer ons in ’n uitsiglose situasie beland. God kan lewe bring waar jy lankal moed opgegee het. So, skep moed en leef!




Hoofstuk van die dag: Esegiël 36

Julle moet weet, sê die Here my God, dat Ek dié dinge nie ter wille van julle doen nie. Al wat julle pas, Israel, is skaamte en skande oor julle optrede. (Eseg 36:32)

Die Here beloof aan sy volk ’n nuwe hart en ’n nuwe gees, en dat sy Gees in hulle sal wees sodat hulle kan leef soos hulle moet (vers 26-27). Dis ’n bekende gedeelte wat predikante dikwels as ’n belofte aanhaal wanneer hulle in die erediens reageer op die gemeente se skuldbelydenis.
Die rede vir God se vernuwende werk is versoberend. Dit gaan nie eerstens oor ons nie. Dit gaan om God se Naam en sy eer (vers 22 en 32). Ons dra sy Naam. Hoe ons leef en is, het alles met God te doen.
Daar is ’n spreuk wat sê: Heiliges is mense wat dit vir ander makliker maak om in God te glo. Ander moet sy stem hoor in ons woorde. Daarom maak Hy ons heilig en herskep Hy ons (2 Kor 5:17-18). Hy gee ons ’n nuwe hart, dws ’n nuwe verstand, ’n nuwe wil, ’n nuwe gevoel, ’n nuwe persoonlikheid, waarin die Gees van God ons lei en dring om tot Gods eer te leef.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 35

Julle het groot monde gehad teen My, julle het My vermetel aangespreek. Ek het dit gehoor. (Eseg 35:13)

Die Edomiete is die nageslag van Esau, die (ouer) tweelingbroer van Jakob (Gen 25:19 e.v.). Van die begin af was daar wrywing tussen dié twee broers, en selfs nadat Jakob uit Haran teruggekeer het en hy en Esau vrede gemaak het, was die spanning steeds daar (Gen 33:12-16). Op pad na die beloofde land was Edom vir Moses-hulle ’n probleem (Num 20:18-21). Edom se negatiewe houding jeens Israel blyk ook uit die latere geskiedenis, en hulle duik gereeld op as vyand van Israel (vgl o.a. Ps 83:7). Met die val van Jerusalem was hulle leedvermakerig (Ps 137:7).
Maar: God het hulle houding gesien en hulle woorde gehoor (vers 13)! Wat hier op aarde gebeur, bly nie hier nie. God is immers ook hier teenwoordig. Dis ’n onheilspellende waarskuwing vir die spotters en Godloënaars: Hy is niemand se speelmaat nie en Hy laat nie met sy kinders mors nie. Hy weet presies wat in jou lewe aangaan. Dit is ons grootste troos (Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 1) – dat ons in lewe en in sterwe aan Hom behoort, en Hy ons bewaar. Ons lot is in sy sterk hande opgevang.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 34

“Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,”sê die Here my God. (Eseg 34:15)

Israel se leiers het hulle oor ’n lang tydperk in die steek gelaat (vers 2 e.v.). Nou sit hulle in ballingskap. Hulle kan nie die leiers meer vertrou nie, want dié het hulle na ’n afgrond gelei. Daarom was hulle baie angstig oor die toekoms.
Dis met hierdie mense wat die Here by monde van Esegiël praat. Hy sê Hy weet hulle is ontnugter en onseker. Hy verstaan hoe hulle oor die verlede voel; Hy weet dat hulle soos skape sonder ’n herder voel, uitgelewer aan die wrede wêreld. Hy weet dat hulle wonder wat van hulle gaan word en wie hulle kan vertrou, wie hulle kan volg, en daarom, so belowe Hy, sal Hyself vir hulle ’n herder wees (vers 11-15). Daar is deernis in God se woorde. Hy gee om vir sy mense.
Omtrent 600 jaar ná Esegiël hierdie profesie gemaak het, het ’n ander Profeet, Jesus Christus, vir God se mense gesê: Ek is dié goeie herder van wie Esegiël gepraat het (Joh 10). Hy ken sy skape (jou!) op die naam, en belowe dat niemand ons uit sy hand kan ruk nie.




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Esegiël 34-48

Kyk gerus na hierdie video. Dit gee ’n goeie oorsig oor die hele boek, en veral die tweede deel van die boek:




Hoofstuk van die dag: Esegiël 33

Mens, Ek het jou die wag vir Israel gemaak. Wanneer jy by My die opdrag ontvang, moet jy hulle namens My waarsku. (Eseg 33:7)

Soos Esegiël Israel se brandwag was, so het die Here Jesus ons ook met ’n boodskap die wêreld ingestuur (Joh 20:21; vgl 2 Tim 4:2). Wat God hier vir Esegiël sê, is dat sy getrouheid aan hierdie opdrag gevolge het vir sy hoorders én vir homself as getuie. Die Here beoordeel ons volgens ons doen en late; nie net volgens dit wat ons doen nie, maar ook volgens dit wat ons nié doen nie. Dis nou as jy anderpad kyk en verbystap sonder om ag te slaan op die nood van die mense wat oor jou pad kom, soos die priester en Leviet gedoen het in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:30-37).
Soms voel dit vir jou dit help nie. Die mense steur hulle nie aan jou nie, net soos dit kan gebeur dat die stad hom ook nie aan die brandwag gesteur het nie (vers 4). Partykeer word hulle vir jou kwaad, of ignoreer jou. Maar jy moenie ophou of moedeloos word nie (vgl Eseg 3:11). Want dalk, net dalk, steur hulle hulle tog aan jou. En dan het jy iemand se lewe gered.