Hoofstuk van die dag: Esegiël 29 – 32

So sê die Here my God: Ek gaan teen jou optree, farao, koning van Egipte, groot krokodil wat rustig in jou rivier lê en sê: ‘Dis my rivier, ek het hom gemaak!’ (Eseg 29:3)

Een kommentator merk op dat hierdie vier hoofstukke verskriklik is om te lees. Inderdaad. Want dit vertel van ’n wêreld wat die koers verskriklik byster geraak het, met Egipte en sy farao aan die voorpunt. Die konings van Juda het meermale na Egipte as wêreldmoondheid gekyk om hulle te help teen ander groot moondhede (teen die Here se uitdruklike waarskuwing in), en elke keer het Egipte hulle in die steek gelaat (29:6-7).
Die grootste probleem met Egipte was egter hulle misplaaste grootheidswaan. Die farao het homself as god voorgedoen. Hy het die Nyl gemaak, sê hy (29:3). Hy het hooghartig geword (31:10). Dit herinner aan koning Herodes Agrippa se einde toe mense hom ’n god genoem het en hy hom dit laat welgeval het (Hand 12:21-23).
’n Refrein wat in hierdie vier hoofstukke nege keer (29:6, 9, 16, 21; 30:8, 19, 25, 26; 32:15) opklink, help ons die boodskap verstaan: “(Dan) sal hulle besef dat Ek die Here is.”
Jahwe, en nie die konings van hierdie wêreld nie, is in beheer. Ook vandag.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 25 – 28

Dan sal daar nie meer onder die buurvolke van wie Israel soveel minagting verduur, ’n doring wees wat hom bly steek, ’n pendoring wat hom bly pynig nie. Israel sal besef dat Ek die Here God is. (Eseg 28:24)

Soos ander profete het Esegiël ook oor die volke wat Israel en Juda omring het, iets te sê. In hierdie vier hoofstukke kom die Ammoniete, die Moabiete, die Edomiete, die Filistyne en Tirus en Sidon aan die beurt. In hoofstukke 29 – 32 kom Egipte aan die beurt.
Met hierdie uitsprake getuig Esegiël dat God heers oor alle nasies op die aarde, nie net oor Israel en Juda nie. Hy bepaal die koers van volkere, nie net van dié wat Hom aanbid en dien nie. Hy wys ook dat die leedvermaak, minagting en wraaksugtigheid van ander volke op niks sal uitloop nie.
Terwyl die omringende volke (Ammon, Moab, Edom en die Filistyne) sal wegkwyn en uiteindelik sal ophou bestaan, sal Israel en Juda weer herrys. God vergeet nie sy mense nie!
Ook ons is in God se hart opgeteken. Dit behoort ons tot nederige dankbaarheid te bring. Leedvermakerigheid, minagting en wraakgedagtes mag nie deel van ons denke vorm nie. Hierin moet ons ons Here Jesus navolg (1 Pet 2:23).




Hoofstuk van die dag: Esegiël 24

Mens, Ek gaan jou vrou wat jou soveel vreugde gee, van jou af wegvat deur ’n skielike dood. Jy mag nie treur en huil nie, nie ’n traan stort nie. (Eseg 24:17)

Waarskynlik is Esegiël se vrou dood van natuurlike oorsake, en nie omdat God haar lewe geneem het nie. God gebruik hierdie verskriklike hartseer in Esegiël se lewe as metafoor vir die vernietiging van die tempel en Jerusalem wat op hande is. Enersyds toon Hy daarmee die verslaentheid van die ballinge oor dié verskriklike verlies, maar wys Hy ons ook iets van sy eie stukkende hart oor sy volk wat Hom so diep teleurgestel het.
Ons het in die Kweekskool geleer dat jy nie, wanneer jy oor iets preek wat verkeerd is, sommer dadelik oor genade ook moet praat nie, want dan sink die erns van die verkeerde nie regtig in nie. Dit is wat God ook hier doen. Hier praat Hy keer op keer oor wat verkeerd is. Later (o.a. Eseg 37) sal Hy wel deur sy profeet weer ’n boodskap van hoop bring, maar nou is nie die tyd nie. Nou moet hulle goed begryp dat Hy bedoel het wat Hy in die Tien Gebooie gesê het: Hy is ’n jaloerse God (Eks 20:5).




Hoofstuk van die dag: Esegiël 23

Haar suster Oholiba het dit alles gesien. Maar haar wellus en haar onsedelikheid was nog erger as dié van haar suster. (Eseg 23:11)

Die gelykenis van die twee susters is ’n kommentaar op die twee koninkryke van Israel en Juda. Esegiël maak gebruik van die beeld van seksuele losbandigheid en skets daardeur die politieke dwaasheid en godsdienstige afvalligheid van die twee ryke. Israel was berug vir afgodsdiens. Opgrawings in die hoofstad Samaria het bykans 500 voorwerpe van afgode blootgelê. En, sê Esegiël, Juda was nog erger (vers 11).
Esegiël is baie kru in sy vertelling, want hy probeer sy hoorders skok, sodat hulle sal besef watter pyn mense die Here aandoen as hulle ontrou aan Hom is. Hy waarsku teen godsdienstige afdwaling wég van die Here af. Hiervoor is owerspel ’n metafoor, maar dis nie al nie. Die metafoor is ’n sosiale werklikheid en daarom waarsku Esegiël ook teen onsedelikheid.
Esegiël se boodskap is dat Juda (soos Israel) van die begin af ’n ontroue volk was, en daarom God se straf verdien. Dit sal ons goed doen om ook óns eie geskiedenis en die huidige stand van sake krities te bekyk en te vra of ons in die regte verhouding met God leef.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 22

Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ’n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie. (Eseg 22:30)

Op die vooraand van die nasionale verkiesing soek ons ook oral na iemand wat die land weer op koers kan kry, maar dit lyk nie juis of daar iemand is wat opstaan nie. Dit was die situasie in Juda ook. Daar was niemand nie. Selfs nie eens God kon iemand kry nie (vers 30).
Dis nie die eerste keer dat ons dit in die Bybel sien nie. Toe God Sodom en Gomorra wou verwoes, het Abraham gepleit dat die stad gespaar sal word as daar tien regverdiges was (Gen 19:32). In Jeremia se tyd was daar ook nie ’n enkele regverdige in die stad wat die Here van besluit sou laat verander nie (Jer 5:1).
Ons lees in Op 5:3 dat daar selfs in die hemel niemand was wat God se plan kon laat voortgaan nie, sodat Johannes in trane uitgebars het. Net Een kan in die bres staan as Middelaar tussen God en ’n sondige mensdom – Jesus, die sondelose Lam (Op 5:5-6, 1 Tim 2:5). Net Hy kan ons verlos.
Kom, Here Jesus (Op 22:20)!




Hoofstuk van die dag: Esegiël 21

Sê vir die land Israel: So sê die Here: Ek is jou vyand, Ek gaan my swaard uit sy skede trek en dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen, uit jou uitroei. (Eseg 21:3)

Die Jode wou maar net nie verstaan dat wat hulle oorgekom het, nie ’n tragiese lot was of omdat die god van Babel (Marduk) sterker as Jahwe is nie. Hulle, en die hele wêreld, moet weet dat die ballingskap (en enige iets anders wat gebeur) nie toevallig is, of in die hande van mense is nie. Dit is God self wat regeer. Hý stuur Nebukadnesar na Jerusalem (vers 18 e.v.). Die ballingskap is God se straf sodat sy volk tot inkeer kan kom, en tref almal (vers 3 en 4). Tog is daar perke aan sy oordeel (vers 17).
Babel sal nie altyd ’n instrument van straf in God se hand bly nie. Daar kom ’n tyd dat Babel sy swaard sal moet terugsit in sy skede (vers 30). God se oordeel sal ook Babel tref. Selfs die gedagtenis aan Babel sal verdwyn (vers 32). Babel was wel ’n instrument in God se hand, maar hulle het hul hand oorspeel.
Wanneer God jou as instrument gebruik, hef dit nie jou verantwoordelikheid op nie.