Hoofstuk van die dag: Esegiël 14

Mens, wanneer ’n land teen My sondig en heeltemal troueloos word, en Ek steek my hand teen hom uit […] sou selfs daardie drie manne van ouds, Noag, Daniël en Job wat volgens my wil geleef het, net hulleself in die lewe kon hou, sê die Here my God. (Eseg 14:13-14)

Blykbaar het die ballingskap nie die Jode tot inkeer gebring nie. In Eseg 14 kom hulle doodluiters na Esegiël en vra dat hy die Here vir hulle moet raadpleeg (vers 1). God is egter nie te vinde daarvoor nie (vers 3). Die enigste woord wat hulle van God af kry, is ’n dringende oproep tot bekering (vers 6).
Niemand kan ’n mens of volk red wat van God afvallig geword het nie, selfs nie die geloofshelde van ouds, Noag, Daniël en Job nie (vers 14). (Ons ken Noag en Job uit die Bybel. Ons weet nie wie Daniël was nie. Dit kon nie die Daniël van die Bybel wees nie, want hy het self eers in die ballingskapstyd geleef. Moontlik was dit ’n Fenisiese koning, bekend vir sy regverdigheid.)
Net gelowiges sal gered word, en nie eens hulle volwasse kinders saam met hulle nie. Elkeen moet self voor God rekenskap gee. Ek en jy ook.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 13

Hulle het my volk verlei, hulle het gesê: ‘Dit sal goed gaan’ toe dit nie sou goed gaan nie, en toe die volk ’n muur bou, het daardie profete dit netjies afgewit.’ (Eseg 13:10)

Die muur (vers 10) staan vir die hoop van die Jode toe Nebukadnesar se magte gedreig het om die land en Jerusalem te verwoes. Dit was ’n valse hoop, soos Esegiël (en Jeremia voor hom) telkens gewaarsku het. Dit was egter nie wat die mense wou hoor nie. Hulle het geglo dat God op die een of ander manier hulle situasie sou omkeer.
Die vals profete en waarsêers (soos bv Gananja in Jer 28) het hierdie ongegronde hoop aangeblaas. Hulle het die muur van hoop stukrag gegee en dit met hulle uitsprake afgewit, sodat dit al hoe meer geloofwaardig gelyk het. Maar dié muur bestaan nie, sê die Here (vers16).
Jesus het dieselfde beeld gebruik toe hy na die skrifgeleerdes en Fariseërs verwys het as witgeverfde grafte (Matt 23:27). Hulle vroom uiterlike steek egter ’n klomp doodsbeendere weg.
Oppas vir predikers wie se woorde altyd streel en nooit teregwys nie; wat sê wat die mense wil hoor; wat gewild wil wees. Toets hulle woorde aan die volle Skrif voor jy alles vir soetkoek opeet.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 12

Ek het die dag my goed wat ek in ballingskap sou wou saamvat, uitgebring en die aand het ek met my hande ’n gat deur die muur gebreek. Ek het in die donker vertrek … (Eseg 12:7)

Hierdie simboliese handeling sluit aan by die vorige een, waar Esegiël Jerusalem moes beleër (Eseg 4). Dis ’n uitbeelding van wat in Jerusalem sou gebeur. Ons weet dat koning Sedekia inderdaad deur ’n gat in die stadsmuur probeer ontsnap het, met rampspoedige gevolge (vers 10, vgl 2 Kon 25:3-7).
Met hierdie sigbare preek wou God hulle die realiteit van die naderende val van Jerusalem laat insien, maar hulle sien en glo net wat hulle wou sien en glo. God sê herhaaldelik dat hulle ’n weerbarstige volk is (vers 2, 9, 25). Selfs die profetestem maak hulle af as maar net praatjies waarvan niks sal kom nie (vers 22).
Ons leef in ’n tyd waarin mense die skouers optrek oor die werklikheid van God se teenwoordigheid, en oor die wederkoms. “Dit is maar net die praatjies van naïewe, pre-moderne mense. Vandag weet ons beter,” sê hulle. Oppas vir dié vals redenasie. Iemand wat só redeneer, is soos ’n slegte slaaf, sê Jesus (Matt 24:48).
Kom ons bly aan die werk (Matt 24:46)!




Hoofstuk van die dag: Esegiël 11

Ek sal hulle ’n ander hart gee en ’n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee. (Eseg 11:19)

Die grootste krisis wat ’n mens kan tref, is om afgesny van God en sy liefdevolle beskerming en genade te wees. Dit is wat die ballinge beleef het. Hulle is ver verwyder van die tempel en alles wat hulle herinner het dat die Here na hulle omsien. God verseker hulle egter by monde van sy profeet dat Hy nie in Jerusalem agtergebly het nie. Trouens, in die vreemde het Hyself vir hulle ’n heiligdom geword (vers 16).
Jesus het dit ook vir die Samaritaanse vrou bevestig (Joh 4:23). God is nie ingeperk in ’n tempel of kerkgebou nie; Hy is oral waar jy is.
God gee nog ’n belofte aan sy volk: dat Hy sal sorg dat daar by hulle ’n hartsverandering sal posvat. Hy sal die koppige eiesinnigheid wegneem en ’n ontvanklike hart vir sy mense gee (vers 19-20). Dié belofte het Hy op Pinksterdag vervul toe Hy sy Gees gegee het om in gelowiges te woon en te werk.
Dat ek en jy, anders as die Jode van destyds, gelowig kan volhard, is ’n gawe Gods.

 

Naskrif: Ons is nou op die vooraand van die Paasnaweek, die hoogtepunt van die kerkjaar. Vanaand gaan baie gemeentes die nagmaal vier, gedagtig aan die heel eerste nagmaal daardie aand voor Jesus gevange geneem is. Môre is dit Goeie Vrydag, waarop ons Jesus se kruisiging herdenk. Van my en Elmien: Geseënde Pase!




Hoofstuk van die dag: Esegiël 10

Toe Hy die man met die linneklere beveel: “Gaan vat vuur tussen die wiele, tussen die gerubs,” het hy langs ’n wiel gaan staan. (Eseg 10:6)

Calvyn skryf oor vers 4 dat, soos die magtige teenwoordigheid eens die tempel gevul het, dié teenwoordigheid (God self!) die tempel verlaat en in ’n donker wolk hul. God het Hom onttrek van sy volk, in voorbereiding op die vernietiging van Jerusalem. Hy kan nie langer tussen ’n goddelose volk woon nie. Ironies dat juis die tempel, die Jode se groot veiligheidshawe, nou die plek word vanwaar God sy oordeel (die vuur in vers 6 en 7) voltrek, soos detyds met Sodom en Gomorra (Gen 18-19).
Die man in linneklere, wat pas die uitverkorenes gemerk het (Eseg 9:4), word nou beveel om kole vanuit die teenwoordigheid van God te neem en dit oor die stad uit te strooi (vers 2). Hy huiwer egter (vers 7); die magtige teenwoordigheid van die Here het hom van angs laat vries. Dit is wat God se magtige teenwoordigheid aan ’n mens doen. Maar God kom dikwels die mens se onvermoë te hulp, hierdie keer deur ’n gerub (vers 7, vgl Fil 2:13). Ons moet maar net gewillig wees om diensbaar vir Hom te wees.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 9

Die Here het […] gesê: “Gaan deur die stad, deur Jerusalem, en maak ’n merk op die voorkoppe van almal wat sug en kla oor al die afskuwelike dinge wat in die stad gebeur.” (Eseg 9:4)

Die ooreenkoms van vers 4 met Eks 12 is ooglopend: dáár is die huise met bloed op die kosyne oorgeslaan, en hier word dié wat met ’n merk op die voorkop gemerk is, oorgeslaan. Interessant dat die merk, die Hebreeuse letter “tau”, destyds as ’n X geskryf is. Vroeë Christene wys op die ooreenkoms met die † van die Christendom. Beide tekens wys op God se genade en verlossing van sondaars.
Die gemerktes was dié wat geprotesteer het teen die “enorm groot” afskuwelikhede van hulle tyd (vers 9). Die merk is nie lukraak aangebring nie. God se genade is bedoel vir hulle wat gesug en gekla het oor hulle eie sonde en dié van ander. God verwag van ons om nie maar net alles wat verkeerd is in ons wêreld, gelate te aanvaar nie. Te dikwels bly ons stil omdat die oormag van die kwaad so oorweldigend is. Almal doen dit, dink ons dan. Dit sal tog nie ’n verskil maak nie. Esegiël sê dat dit in God se oë ’n groot verskil maak.