Hoofstuk van die dag: Esegiël 8

Hulle dink: die Here sien ons nie, Hy is nie meer in die land nie. (Eseg 8:12)

Die visioen wat Esegiël sien, laat jou hare rys. Die leiers van die volk (vers 11), die vroue (vers 13), die priesters (vers 16), almal is besig om God op die gruwelikste wyse te verloën en te laster. Die rede? Hulle dink God is afwesig (vers 12; vgl Ps 10:11 en 94:7). Daarom het hulle finaal van Hom afskeid geneem en hulle na ander gode gewend.
Dis nie net ’n antieke Joodse verskynsel nie. Vandag nog draai mense van die Here weg en probeer Oosterse godsdienste, of neem afskeid van geloof.
Dis menslik om in krisistye te begin vrae vra oor God en geloof. Dan moet jy nie te gou wees om ander “oplossings” te soek of op te gee op God nie. Maak tyd om na te dink oor die Here se pad met jou, soos die digter in Klaagl 3:21 (wat terloops ook uit die Ballingskapstyd kom). Jy kan gerus Klaagl 3:18-33 lees.
As jy fokus op jou ellende, is jy in ’n doodloopstraat (Klaagl 3:18-20). Dan beleef jy ’n afwesige God. Maar as jy dieper kyk, sal jy besef dat die Here nog altyd by jou is (Klaagl 3:24).




Hoofstuk van die dag: Esegiël 7

Die dag is hier, dit kom … (Eseg 7:10)

“Die dag van die Here” of net “die dag” is ’n uitdrukking wat die einde van ’n era aandui. By Esegiël is dié dag ook een waarop die Here Homself openbaar, sodat mense opnuut sal besef wie Hy is (vers 9).
Die Here is niemand se speelmaat nie. Ons moet Hom en sy walging oor die sonde ernstig opneem en nie dink (soos die Jode destyds) dat Hy maar net altyd weer sal red en beskerm nie. Dan maak ons sy genade goedkoop. Tog is Hy nie hardvogtig en wreed nie. Selfs sy oordeel (soos hier in soveel detail beskryf) is bedoel om mense terug te roep na Hom toe. God wil nie straf nie, maar seën. Wanneer Hy straf, is dit omdat mense Hom daartoe dwing. Hy wil sy mense wakker skud uit hulle selftevredenheid en oorgerustheid. Hy wil hê hulle moet tot inkeer kom, sodat Hy ’n nuwe begin met hulle kan maak.
Jy kan óf beangs raak as jy ’n hoofstuk soos hierdie lees, want dis ’n kant van God waarvan ons nie graag wil weet nie; óf jy kan terugkeer na Golgota en diep dankbaar voor Jesus buig. Daar het Hy God se woede in jou plek gedra.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 6

(Dan) sal julle besef dat Ek die Here is. (Eseg 6:7, 10, 13, 14)

Die ballinge kon maar net nie verstaan hoekom God die ballingskap toegelaat het nie, en dit ten spyte van al die waarskuwings van Jeremia. Weer en weer het hy gesê dat hulle probleme die gevolg was van hulle eie afgodsdiens en ander sondes.
In Babel het God vir Esegiël gebruik om dit nog eens duidelik te maak. Oor ’n tydperk van 20 jaar het die profeet herhaaldelik die sondes van die volk uitgespel, en hulle gewaarsku dat God se oordeel onvermydelik op hande is. Maar hulle wou nie luister nie.
Dis in die lig hiervan dat ons die frase: “(Dan) sal julle besef dat Ek die Here is”, wat tussen 60 en 70 keer in die boek herhaal word, moet verstaan. Dikwels sê die Here dit selfs midde-in die waarskuwings, soos in hierdie hoofstuk gebeur (verse 7, 10, 13, 14).
Ons kan die Here ken, óf in sy genade en ontferming, óf in sy woede en oordeel. Die keuse is ons s’n. Ons sal egter beslis weet dat God die Here is, wat ook al ons keuse is. Want Hy wil gehoor word, en gehoorsaam word. Hy is die Here. Dit moet ons goed verstaan.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 4 – 5

Mens, vat ’n baksteen, sit dit voor jou neer en teken daar ’n stad op: Jerusalem. Beleër die stad … (Eseg 4:1-2)

Esegiël, soos ander profete (o.a. Jesaja, Jeremia en Hosea) het van simboliese handelinge gebruik gemaak om hulle boodskap oor te dra. Dis soos ’n oudio-visuele preek, wat heelwat meer trefkrag het as slegs woorde, want die beelde versterk die boodskap. Dis hoekom mense kinderpreke dikwels beter onthou as gewone preke.
Die Here beveel Esegiël hier om baie eienaardig op te tree, en dit moes lank aanhou: altesaam 390 dae. En daarná moes hy sy hare en baard met ’n swaard afskeer en opkap. Dit moes die boodskap by sy volksgenote duidelik maak: daar gaan nié ’n wonderbaarlike redding kom wat Jerusalem en die ballinge gaan red nie. Jerusalem gaan val, en die Jode wat nog weerstand bied, gaan afgemaai word.
Die rede is duidelik: hulle het God té veel uitgetart met hulle afgodediens en ander sondes (5:9). Hulle het gedink, solank Jerusalem en die tempel daar is, is daar hoop, maar ook dié vals hoop neem God weg (5:14).
Die boodskap is vandag steeds van krag: God laat nie met Hom spot nie (Gal 6:7). As jy daaroor twyfel, moet jy ’n keer weer by Golgota gaan staan.




Hoofstuk van die dag: Esegiël 3

Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.” Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond. (Eseg 3:3)

Een van die dinge wat ek as predikant moes leer, is dat die Woord eers met mý moet werk voordat ek dit aan ander kan verkondig. Dis nie sommer net opwip op die kansel op en daar preek jy nie. Dis ure van lees, en herkou, en kopkrap, voordat God se Woord as ’t ware sigself vir jou oopmaak. Wanneer dít gebeur, staan jy verwonderd voor die rykdom van die Woord.
Dit is presies wat Esegiël ook beleef het. Eers moes hy God se woorde in die boekrol eet en verteer, sodat dit deel van hom kon word. Dán kon hy dit gaan deel.
Sy ondervinding is iets wat elke Bybelleser van tyd tot tyd beleef: die vreugde wat in jou loskom as jy die Bybel lees, en herlees, en bedink, totdat die boodskap glashelder voor jou staan. Soos Esegiël half verbaas sê: dit is soet soos heuning in jou mond.
Baie gelowiges mis dié vreugde omdat hulle te haastig lees, net wil klaar wees, sodat hulle met hulle gewone take kan aangaan. Moenie dieselfde fout maak nie!




Hoofstuk van die dag: Esegiël 2

Die stem het vir my gesê: “Mens, staan regop, Ek wil met jou praat.” (Eseg 2:1)

Esegiël is deur God persoonlik geroep, met ’n duidelike opdrag. Die gesigte wat hy gesien het, was bisar en sekerlik ook ontstellend (Eseg 1), en God het met ’n hoorbare stem gepraat. Ons lees van baie ander mense in die Bybel aan wie God ook verskyn het (bv Moses in Eks 3, of Jesaja in Jes 6). In die Nuwe Testament lees ons hoe die Here Jesus sy dissipels (Joh 1:43, Matt 9:9 e.a.) en die apostel Paulus (Hand 9:3-6, Rom 1:1) persoonlik geroep het.
Vir die meeste van ons is God se roeping baie minder dramaties. Dit beteken egter nie dat dit minder betekenisvol is nie, want as God roep, raak dit elke enkele aspek van jou lewe: jou beroep, jou gesin, jou identiteit, jou geloof, jou verhoudings, en selfs ook die manier waarop jy na die lewe en die toekoms kyk.
Daar is mense wat nie positief op God se roepstem reageer nie, soos die ryk jongman (Matt 19:21-22), of halfpad omdraai, soos Demas (2 Tim 4:10). Maar vir dié wat hoor en antwoord, wag ’n lewe van vervulling.
Het jy al moeite gedoen om God se plan vir jou te hoor?