Hoofstuk van die dag: Esra 10

Kom ons maak ’n plegtige onderneming teenoor ons God dat ons al dié vrouens en hulle kinders sal wegstuur. Laat ons doen wat u en dié wat vir die gebod van ons God eerbied het, ons aanraai in ooreenstemming met die wet. (vers 3)

Vir ons vandag lyk hierdie voorstel van Sekanja baie drasties. Mense sal sê ’n God van liefde sal nie so-iets van sy kinders verwag nie. Ek kan my die hartseer wat hierdie stap meegebring het vir die vroue en kinders (én die mans) wat nou uitmekaar geskeur word, indink.
Dit is egter so dat sonde, ongehoorsaamheid aan God en sy gebod, áltyd konsekwensies het en altyd hartseer en pyn bring. Dalk is die probleem met ons ongemaklikheid oor wat Esra-hulle hier doen, die feit dat ons nie meer so ernstig voel oor sonde nie. Soos die Franse filosoof Voltaire al gesê het: “God sal vergewe. Dit is sy werk.”
As jy God bo alles liefhet (Matt 22:37) sal sy gebod by jou die hoogste prioriteit hê. Dit het Jesus in Matt 10:37 in soveel woorde uitgespel. Daarom is dit beter om jou van die begin af deur God se gebod te laat bind, sodat jy nie in die aaklige strik van die sonde val nie.

Naskrif: Môre gaan ons voort met Psalms. Ps 141 kom aan die beurt.




Hoofstuk van die dag: Esra 9

Ons mense en hulle seuns het getrou met nie-Joodse vrouens; hulle het hierdie volk hom laat vermeng met heidene. Leiers en ampsdraers het die voortou geneem in dié trouelose optrede. (vers 2)

Ondertrouery met iemand wat nie ’n Israeliet was nie, was van die begin af verbode in Israel (Deut 7:3-4). Dié verbod was nie om die volk “ras-suiwer” te hou nie, maar om hulle geloof suiwer te hou. Een van die klassieke voorbeelde van hierdie geloofsontrou was koning Salomo, wat deur sy uitlandse vroue verlei is om ook húlle gode te dien (1 Kon 11:1-8).
Dat dit nie bloot om ras gegaan het nie, is duidelik uit die verhaal van Rut, ’n Moabiet. Die Moabiete was by uitstek verbode (Deut 23:6), maar Rut is aanvaar omdat sy ’n gelowige geword het (Rut 1:16).
Dit behoort vandag nog die maatstaf te wees as dit by die keuse van ’n huweliksmaat kom. Dis nie verkeerd om met iemand uit ’n ander volk of kultuur te trou nie, al plaas dit m.i. onnodige ekstra druk op ’n egpaar. Om egter met ’n nie-gelowige te trou, al is dit iemand uit dieselfde volk en taal as jy, mag nie (2 Kor 6:14 e.v.).
G’n wonder nie dat Esra gerou het (vers 3).




Hoofstuk van die dag: Esra 8

Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat. (vers 22)

Dis maklik om te praat oor wat God kan doen. Ons bely immers dat Hy almagtig is. Dis nie altyd so maklik om jou belydenis in die praktyk uit te leef nie.
Die reis wat Esra aangepak het, was lank en moeisaam; ’n trek van 1600 km wat 4 maande geduur het. Oorlog tussen strydende nomade-groepe en bende-aanvalle op reisigers was aan die orde van die dag. Om in dié omstandighede met ’n waardevolle vrag (vers 26-27) op pad te wees, klink na malligheid. Die reis het egter sonder voorval geskied, want God het hulle beskerm (vers 31).
Esra se geloofsmoed daag ons vandag uit om te doen wat ons bely. Wat help dit ons praat oor vertroue in God alleen, maar dan, wanneer dinge warm word, gryp ons na allerhande ander sekuriteite?
Onthou gerus 2 Kron 16:9: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”




Hoofstuk van die dag: Esra 7

Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer. (vers 10)

Esra kom hier vir die eerste keer op die toneel; ’n goed-opgeleide teoloog en priester. Hy moes toesien dat die tempel reg funksioneer en die geestelikes en ook leiers onderrig in regspraak van die wet van God (vers 25).
Dis nie presies duidelik hoe Esra en Nehemia skakel nie. Wat ons wel weet, is dat hulle op ’n stadium gelyktydig in Jerusalem gewerk het, en dat albei met die volle seën en ondersteuning van koning Artasasta in Jerusalem was. Ek vermoed dat Nehemia heelwat te doen gehad het met die goeie gesindheid van die koning (lees gerus wat ek by Nehemia 8 geskryf het). Nehemia het die koning immers persoonlik geken.
Afkoms en opleiding en die regte vriende is egter nie al wat nodig is as jy ’n betekenisvolle plek in God se koninkryk wil inneem nie. Esra het naby God geleef, soos duidelik is uit sy reaksie op Artasasta sy opdrag (vers 27-28). Dit het natuurlik ook gehelp dat Esra ’n passie vir God se saak gehad het (vers 10).
Wat bied jý vir God se koninkryk?




Hoofstuk van die dag: Esra 6

… sodat hulle vir die God van die hemel offers kan bring wat vir Hom aanneemlik is en kan bid dat die lewens van die koning en sy seuns gespaar mag word. (vers 10)

Koning Darius se bevel is selfs meer as waarop die Jode gehoop het. Die hele tempel-projek moes uit die staatskas gefinansier word. Verder moes die staat ook voorsien dat die daaglikse offerdiens by die tempel kon voortgaan. As teenprestasie moes die Jode onderneem om in die tempel tot God te bid “dat die lewens van die koning en sy seuns gespaar mag word.”
Paulus dring ook daarop aan dat “met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en almal wat gesag uitoefen,” want ’n goeie regering is nodig vir ’n veilige omgewing waarin ons met toewyding aan God kan lewe (1 Tim 2:1-2; vgl Rom 13:1). Dit geld nie net vir ’n regering waarvan jy hou  of waarmee jy saamstem nie. Darius was ’n heiden; so ook die keiser in Paulus se tyd.
Ek wonder of ons hierdie opdrag as gelowiges goed uitvoer. Ons regering sukkel en het nodig dat God die dinge bestuur. Bid jý vir die owerheid?




Hoofstuk van die dag: Esra 5

Maar God het ’n oog gehou oor die Judese leiers, en die werk is toegelaat om aan te gaan tot tyd en wyl daar aan Darius verslag gedoen is en daar van hom ’n beslissing oor die saak ontvang is. (vers 5)

Die werk aan die tempel het vir jare stilgestaan, totdat die profete Haggai en Sagaria opgetree het en die leiers aangespoor het om die bouwerk te hervat. Uit hulle profesieë is dit duidelik dat dit nie nét die koninklike bevel (Esra 4:23-5:1) was wat die werk tot stilstand laat kom het nie. Die mense se prioriteite was ook nie reg nie. Volgens Haggai het hulle meer daarin belang gestel om hulle eie sake te bevorder as om aan die tempel te werk (Hag 1:4).
As God se saak nie by jou voorrang geniet nie, gaan teenstand maak dat jy nie sal volhou nie. Daarom het die Here Jesus ons beveel om ons allereers vir die koninkryk van God te beywer en vir God se wil, en Hy sal sorg vir die res (Matt 6:33).
Dit het met die herbou van die tempel ook gebeur. Toe hulle weer skouer aan die wiel sit, ontdek hulle tot hulle verstomming dat God sy oog oor hulle hou.