Hoofstuk van die dag: Esra 4

Maar Serubbabel en Jesua en die ander familiehoofde van Israel het vir hulle gesê: “Julle bou nie saam met ons aan die tempel van ons God nie. Ons alleen sal vir die Here die God van Israel bou.” (vers 3)

Dit was net hier waar die vyandskap tussen Jode en Samaritane begin het. Die Jode het die Samaritane se godsdiens as sinkretisties (’n vermenging van verskillende godsdienste) beskou, al beweer die Samaritane dat hulle dieselfde God dien (vers 2).
Die Jode se besluit het later vir hulle baie hoofbrekens besorg. Moes hulle nie liewer die mense toegelaat het om te help nie? Watter kwaad kon dit doen? Maar as jy só redeneer, verloor jy uit die oog dat ’n sinkretistiese godsdiens nie die ware God dien nie, maar ’n selfgemaakte afgod. Dit kon die Jode nie toelaat nie, en tereg ook. “Ons dien tog maar almal dieselfde God” is vandag nog net so ’n mistasting soos destyds.
Ons leef vandag in ’n totaal ander situasie. Tog is dit steeds waar dat die kerk sy boodskap as sout en lig vir die wêreld (Matt 5:13-16) en sy identiteit as kerk van die Here Jesus verloor as ons kompromieë met die wêreld aangaan. Nee, ons moet in liefde by die waarheid bly (Efes 4:15).




Hoofstuk van die dag: Esra 3

Baie van die oueres […] wat nog die eerste tempel geken het, het hardop aan die huil gegaan toe hulle sien hoe die fondamente van hierdie tempel gelê word. (vers 12)

Hoewel ’n mens seker nie kan sê dat almal wat gehuil het, teleurgesteld was omdat die nuwe tempel so sleg afsteek teen die een wat Salomo nog gebou het nie – daar was ook diegene wat gehuil het van vreugde omdat hulle nou weer ’n tempel gaan hê – is dit duidelik uit Haggai 2:3 dat die mense wat nog die eerste tempel kon onthou, afgehaal was. Die oue was soveel beter. Daarom het hulle die oprig van die nuwe tempel met gemengde gevoelens beleef.
Dis natuurlik nie ’n onbekende emosie nie. Baie van ons hunker ook terug na die goeie ou dae toe alles in die kerk nog bekend was en ’n gevoel van veiligheid geskep het. Die leiding wat van sinode-weë gekom het, het ons gehelp om presies te weet wat ons glo en wat ons verwerp.
Tog lê ons sekuriteit nie in wat was nie. Ons sekuriteit lê in God, wat gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is (vgl Heb 13:8). Te midde van al die veranderinge is Hy steeds ons anker (vers 11).




Hoofstuk van die dag: Esra 2

Hierdie families het probeer vasstel of hulle in die registers opgeneem is, maar daar kon niks gevind word nie, en hulle is uit die priesteramp onthef. (vers 62)

Laat ek eerlik wees: dié ellelange lyste van name is van die verveligste dele in die Bybel. Dit beteken vir die huidige lesers nie veel nie, hoewel dit vir die mense in die tyd van die terugtog baie belangrik was dat hulle kon bewys dat hulle tot die nageslag van die ballinge behoort.
Dit is so dat ’n nageslag en die land self sedert die dae van Abraham vir Israel ontsettend belangrik was. En dit sien ons in hierdie hoofstuk. God se roeping en opdrag aan Abraham (waarby die belofte van ’n eie land en ’n nageslag ingesluit is) was ter wille van hulle getuienis in die wêreld. Hulle moes ’n lig vir die nasies wees, soos Jesaja dit genoem het (o.a. in Jes 42:6). Gaandeweg het die Jode egter van dié hoë roeping vergeet en het hulle ’n ekslusiewe groep geword wat meerderwaardig was oor die suiwerheid van hulle herkoms.
Paulus waarsku ernstig teen die opvatting dat jou herkoms alte belangrik is in hoe jy oor jouself dink (Rom 9:6 en Efes 2:8-9). Ons vandag val ook nog in dié versoeking.




Hoofstuk van die dag: Esra 1

In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het: die Here het koning Kores van Persië laat besluit om dwarsoor sy ryk ’n proklamasie te laat afkondig. (vers 1)

Kores van Persië het die Ryk van Babilonië omvergewerp (Dan 5:25-30). Een van sy eerste groot skuiwe was om al die ontheemde volke in die ryk toe te laat om na hulle eie lande van herkoms terug te keer en die tempels vir hulle gode te herbou. Daarmee wou hy die guns van al die volke onder sy mag wen. Die Jode het ook by dié proklamasie baat gevind, en so is hulle ballingskap ná 70 jaar beëindig, soos die Here in Jer 29:10 aangekondig het.
Kores se proklamasie het nie net vir die Jode gegeld nie. Tog sien die Jode hierin God aan die werk, en dat Kores ’n instrument in God se hand is. God regeer oor alles en almal (Rom 11:36,1 Kor 8:6). Hy kan selfs ’n heidense wêreldheerser gebruik om sy doel te bereik.
Nie almal besef dit nie. Om God in alles te sien, vra ’n geloofsoog. Daarsonder gaan jy sukkel om God se betrokkenheid in jou daaglikse lewe raak te sien.




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot die boek Esra

Kyk gerus na hierdie kort oorsig oor die boek Esra: