Hoofstuk van die dag: Filippense 4

Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. (Fil 4:5)

Die woord inskiklik beteken dat jy ingestel is op die belange van die ander; dat jy nie net aan jouself dink nie, maar vir andere ruimte maak. Dit is welwillendheid, vriendelikheid en beskeidenheid, tegemoetkomendheid en toegeeflikheid, ’n afsien van eie regte. Een skrywer (Karl Barth) noem dit ’n sagtheid, ’n gebrokenheid in jou omgang met ander, in teenstelling met hulle wat nie die genade ontvang het nie en wat daarom onbuigsaam en hard is. Dit is nie swakheid nie, maar sagtheid, die aardse gestalte van hemelse heerlikheid. Ek dink die NLV vertaal dit baie goed: bedagsaam.
Dít is die houding wat God van ons verwag. En dan nie net teenoor mede-gelowiges nie, maar teenoor alle mense. Dit moet die kenmerk, die karaktertrek, van die Christen wees: ons inskiklikheid, ons bedagsaamheid. Die AFR2020 sê: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.”
Dís nie hoe ons van nature is nie. Daarom is dit baie belangrik dat ons goed sien wat Paulus hier skryf. Hy skryf nie net: “Wees inskiklik teenoor alle mense,” nie. Hy voeg daarby: “Die Here is naby.” Dís die geheim: Leef vanuit en in die teenwoordigheid van die opgestane Here Jesus!

Naskrif: Môre en Sondag lees ons Ps 3 en 4.




Hoofstuk van die dag: Filippense 3

Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. (Fil 3:20)

Toe my oudste broer die eerste keer skool toe is, het hy lelike woorde begin gebruik. My ma wou weet waar hy aan dié lelike woorde kom, en hy antwoord windmakerig: “Ma, dis hoe ons by die skool praat.” Toe sê my ma: “Die kinders by die skool mag miskien so praat, maar ons praat nie so nie, want ons is anders.”
Dís ’n burger van die hemel. Ons is Jesus se mense, en ons is anders. Ons maak nie maar soos almal nie. Ons maak soos ons Koning.
Ek het gehoor van ’n sendeling in Indië. Hy het ’n seun gesien wat lemoene verkoop, netjies opgestapel in ’n piramide. Iemand het in die verbyloop aan sy lemoen-stapel gestamp, en daar rol die lemoene die wêreld vol. Die arme seun het probeer om die lemoene bymekaar te kry, maar daar was net te veel mense. Toe die sendeling dit sien, het hy op sy knieë gegaan en saam met die seun die lemoene bymekaar gemaak. Toe hulle klaar is, vra die seun vir die sendeling: “Is jy Jesus?”
Lyk jý soos jou Koning?




Hoofstuk van die dag: Filippense 2

Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer_ (Fil 2:12-13)

Die 1953-vertaling het gelui: “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing.” Jy is self verantwoordelik vir jou geestelike vordering. Dit is wat Paulus hier veronderstel: dat die heil, God se verlossingsplan, in jou lewe uitgewerk moet word, dat daarmee gevorder moet word, dat daar groei sal wees op die geloofspad. Jy moet jou daarop toelê (vers 12).
Is dit nie juis die probleem hoekom daar dikwels so min lig van ons lewens skyn (vgl vers 15) nie, omdat so baie van ons nie juis vorder op die geloofspad nie? Omdat ons slagoffers bly van dieselfde slegte gewoontes, slawe van dieselfde versoekings, skuldig aan dieselfde mislukkings? Jaar na jaar na jaar? Kan jy op hierdie oomblik aan iets dink wat vir jou ’n groot probleem was, maar wat jy te bowe gekom het? Dalk ’n vinnige humeur, of ’n skindertong, of lelike taal, of liefdeloosheid? Of kroniese twyfel?
As ons getrou wil wees aan ons roeping, sal ons ons daarop moet toelê om soos verloste mense te lewe elke dag.




Hoofstuk van die dag: Filippense 1

… want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. (Fil 1:21)

In hierdie gedeelte is Paulus in ’n tweestryd (vers 23) en hy weet nie wat hy moet kies nie. Hy wil graag sterwe, en hy wil graag lewe.
Vir ons is dit vreemd dat iemand graag wil sterwe. Ons hele samelewing is daarop ingerig om die lewe te bewaar, feitlik ten alle koste. Maar Paulus dink oor sy lewe na, en sy slotsom is: die sterwe is wins. Hy sê in vers 23 dat hy verlang om heen te gaan.
Wat was sy geheim? Sy wens om te sterf was nie ’n wegvlug uit die lewe uit nie. Dit was uit verlange om saam met Christus te wees, want dit is vir hom verreweg die beste (vers 23).
Om dit te kan sê, moet die lewe vir jou Christus wees (vers 21). Moet Christus die belangrikste Persoon in jou lewe wees. Eers as jy dit regtig met jou hele hart kan sê, kan jy ook soos Paulus wens om te sterf om by Christus te wees. Want dan word die dood die kroon op ’n goeie lewe, die logiese hoogtepunt in die lewe van ’n gelowige.




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Filippense

Kyk gerus na hierdie video wat ’n goeie opsomming van die boek gee:




Hoofstuk van die dag: Filippense 4

Die Here is naby. (vers 5)

Paulus omraam sy riglyne vir ’n Christelike lewe met die versekering dat God by ons is (vers 5 & 9). Ons weet dit. Maar dis nie noodwendig ons ervaring nie. Daarvoor is nodig dat jy jou doelbewus moet instel op sy teenwoordigheid (vgl Ps 16:8 in die 2020-vertaling: “Ek _hou_ die HERE altyd voor oë”).
Die feit dat ons met Hom kan praat en ons sorge voor Hom kan bring (vs 6) help dat ons ’n ervaring van sy nabyheid kan hê. Maar gebed is meer as net jou sorge op die Here laai. Dit gaan ook daarom dat jy in God se teenwoordigheid met sý agenda besig raak; dat jy droom oor hoe jy jou deel kan doen om God se koninkryk te laat kom.
Paulus laat iets hiervan deurskemer in vers 8. Christus het gekom dat ons die lewe kan hê en dit in oorvloed. As sy koninkryk kom, word die oorvloed wat God wil gee, ’n werklikheid. Dus bid ons nie net dat God hier moet keer en daar moet bewaar nie, maar dat iets van die heerlike majesteit van sy Godsryk sigbaar sal word, ook deur ons eie lewe en optrede!

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die boek Joël.