Hoofstuk van die dag: Filippense 3

Al wat ek wens, is om Christus te ken … (vers 10)

Ek wonder oor hierdie uitspraak van Paulus, en of ons hom dit kan na-sê. Want dan mag ons fokus niks anders wees nie as net Christus: om Hom beter te ken, om met groter toewyding vir Hom te leef en te volg. Vir Paulus het dit beteken dat hy baie dinge wat eers vir hom allesoortreffend belangrik en selfs heilig was, moes los, want nou het sy lewe nie langer gedraai om wat vir homself belangrik was nie, maar om wat Christus van hom verlang: die koninkryk van God, en mense.
Dit is nie ’n klompie reëls wat ons moet nakom nie; dis ’n lewenswyse.
Christen-wees gaan daarom dat ek met hart en siel vir die Here leef en, in Christus se eie woorde, my beywer vir die koninkryk van God en die wil van God (Matt 6:33). Laat ek dit anders stel: as jy die hele week lank niks verkeerds gedoen het nie, het jy nie noodwendig verenig met Christus geleef nie.
Om Christus te ken, gaan om ’n verenig-wees met Hom, sodat sy wil joune word. Dan leef jy nie meer jou eie drome en ideale nie.
Kom ons span ons daarvoor in (vers 12)!




Hoofstuk van die dag: Filippense 2

Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer. (vers 12-13)

Soos Jesus (vers 5)! Ons moet soos Jesus word, en die Christus-himne (vers 5-11) spel dit uit – hoe Hy van Homself vergeet het, Homself in ons verloor het, Homself vir ons verneder het en vir ons kom sterf het.
Dit is waaroor navolging van Christus gaan: Alles wat jy is, wat jy doen en sê en nie doen en nie sê nie, moet Jesus naboots. Christen-wees beteken ’n leefstyl, ’n manier van praat en doen en dink en wees.
Paulus herinner ons dat Christen-wees nie net gaan om in Jesus te glo en daarom op pad hemel toe is nie. Dit mag nie net woorde bly nie; ons moet dit ook leef. Ons moet Jesus volg. Jy moet jou daarop toelê (vers 12). Die ou vertaling het gelui: “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing.”
Christen-wees is nie vir lamsakke nie. Dit vra vasbyt. Dit vra dat jy elke dag, elke minuut, vir God moet kies en lewe, getrou in jou navolging van die Here Jesus. Want dis hoe Jesus geleef het, nie waar nie?




Hoofstuk van die dag: Filippense 1

Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. (vers 12)

Paulus skryf hierdie brief vanuit die tronk, en tog staan dié brief bekend as Paulus se vreugdesbrief. Dit borrel oor van blydskap, en hy roep sy lesers ook op om altyd bly te wees (4:4).
’n Mens sou seker kon sê Paulus was maar net hardnekkig positief. Dit was hy sekerlik, want dit lyk of niks hom kon onderkry nie. In die tronk in die einste Filippi, flenters geslaan en in die blok vasgeklem, het hy en Silas lofgesange gesing (Hand 16:25)!
Nee, sy lewensvreugde en positiewe houding was nie bloot ’n karaktertrek nie. Dit is gebore uit die wete dat die Here in alle omstandighede in beheer is. Daarom sien hy nie sy gevangenskap as ’n ramp nie, maar sien hy hoe God daardeur deure vir hom oopgemaak het om by mense uit te kom wat andersins nooit die evangelie sou hoor nie (vers 13).
Vir hierdie insig bid hy ook vir die Filippense (vers 9-10). Om te midde van jou omstandighede God aan die werk te sien en jou daaroor te verbly, is immers ’n gawe van God.
Kom ons bid vandag daarvoor.