Hoofstuk van die dag: Galasiërs 6

Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. (Gal 6:8)

Paulus bou hier voort op die vrug van die Gees (5:22-23). Oor en oor sê hy eintlik dieselfde ding: leef deur die Gees (5:16), word gelei deur die Gees (5:18), bly in pas met die Gees (5:25), en saai in die Gees (6:8, 2020-vertaling). As jy waarlik ’n Geestelike mens is, sal dit uitkom in jou diens aan ander in liefde (5:13), in jou sagmoedige reghelp van ander (6:1), en daarin dat jy ander se laste help dra (6:2). Jy sal jou geestelike leermeester(s) vergoed, en aan almal goed doen (6:10).
Of dit nou toegang tot God is, of ’n regte Christelike leefstyl, of ’n uitgaande, liefdevolle uitleef van die Christelike geloof – dit is die Gees wat dit in jou opwek, en dit is die Gees wat jou help om dit prakties te doen. Natuurlik moet jy saamwerk met die Gees, maar, sê Paulus, nóg ’n wettiese lewe, nóg ’n oormatige klem op jou vryheid in Christus (5:13) kan jou nader aan God bring; net die Gees kan dit vermag.

Naskrif: Môre begin ons DV met die boek Esegiël.




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 5

Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie. (Gal 5:1)

Die begrip “om vry te wees” (vers 1), het hier ’n baie definitiewe betekenis. Destyds het jy twee soorte mense gekry: die vryes, en die slawe. Die vryes het talle regte gehad; die slawe geen. ’n Slaaf was nie sy eie baas nie. Hy moes net bevele gehoorsaam, hoe onbillik of onregverdig dit ook al was. Nou sê Paulus: in die godsdienstige lewe kry jy ook die vryes en die slawe. Die Galasiërs, sê hy in 4:8, was ook slawe voordat hulle tot geloof gekom het, maar toe het die Here Jesus hulle vry gemaak, vry van die houvas van die sonde en die greep van die Bose oor hulle lewens. Nou is hulle nie meer slawe nie, maar kinders van God (4:7).
Die tragedie waaroor hierdie hele brief eintlik gaan, is dat die Galasiërs hierdie nuutgevonde vryheid verruil het vir ’n wettiese godsdiens. Daarmee het hulle eintlik hulle verlossing verbeur (vers 4). Hulle was soos slawe wat vrygekoop is, maar weier om afskeid van die boeie te neem.
Gooi af die boeie! Jy is vry om vir God te leef.




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 4

Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur … (Gal 4:4, OAV)

Die koms van die Seun na die wêreld was nie sommer ’n arbitrêre besluit van God nie. Paulus sê die Seun het in die volheid van die tyd gekom, toe die omstandighede vir sy koms ryp was (vers 4). ’n Paar faktore het ’n kritiek belangrike rol gespeel wat gemaak het dat Jesus se koms nie maar net ’n gelokaliseerde Joodse gebeurtenis gebly het nie.
Die een was die verowering van die destydse wêreld deur Alexander die Grote. Hy het ’n nuwe kultuur, Hellenisme (Hellas = Griekeland), gevestig, waar Grieks die omgangstaal van die destydse wêreld geword het, en die Griekse godsdiens ’n soort wêreldgodsdiens.
Ná die Hellenistiese tyd het die Romeinse Ryk gekom, en vrede oral gevestig (die sg. Pax Romana).
Waar Alexander die Grote aan die wêreld ’n taal gegee het waarmee die apostels maklik met almal kon praat om die evangelie uit te dra, het die Pax Romana gehelp dat Paulus-hulle in relatiewe veiligheid na ander lande kon reis. Die Griekse godsdiens het die mense teen dié tyd ontnugter as leeg en betekenisloos, en daarom was hulle honger vir die Evangelie van Jesus Christus.
God se beplanning is altyd perfek.




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 3

Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. (Gal 3:28)

Hierdie is een van die verlossende waarhede van die evangelie waarmee ons Afrikaners nog altyd gesukkel het – dat ons in Christus Jesus ’n nuwe mensdom geword het, waar ander waardes en ander verhoudings die deurslag gee.
Ek onthou nog goed hoe geskok ek as eerstejaar was, een aand by die Sendingweek op Stellenbosch, toe ds Jan Hofmeyr gesê het as hy moet kies tussen ’n wit ongelowige, en ’n swart gelowige skoonseun, is daar nie eintlik ’n keuse nie. Maar hierdie waarheid is iets waarmee ons vandag steeds sukkel. Ons sien éérs ras raak, dan Christenskap. Daarom is die NG Kerk, bv, na al die jare en na al die samesprekings, nog nie met haar dogterskerke verenig nie. In my laaste gemeente het ’n lidmaat nog vir my gesê: “As jy swartes in die kerk inbring, kan jy dit seker doen, maar weet net: ék sal dan nie weer kom nie.”
Natuurlik is daar baie praktiese struikelblokke, soos bv. die taalkwessie. Maar waar daar ’n wil is, móét daar ’n weg wees. Anders verloën ons Christus se versoeningswerk.




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 2

Toe hulle dan ingesien het dat God my hierdie voorreg gegee het, het (hulle) my en Barnabas die regterhand gegee as teken dat ons en hulle medewerkers is. (Gal 2:9)

Paulus het nie sy bediening as ’n las gesien, ’n werk wat hy moes doen nie. Vir Hom was dit ’n voorreg, ’n guns, staan dit letterlik hier in die Grieks, ’n guns wat God aan hom bewys dat hy deel mag wees van God se werk op aarde (vers 9).
Dáárom dat hy moeite doen om sy mede-gelowiges in Jerusalem te ontmoet, hulle die hand te reik, en saam met hulle oor die wil van God te worstel. Want as jy begryp dat dit ’n wonder-genade is om vir God te mag werk, sê jy nie: “As hulle wil weet wat ek oor hierdie saak dink, moet hulle na my toe kom,” nie. Nee, as God se wil belangrik is, as Hý belangrik is, dryf sy liefde jou uit na jou mede-gelowiges, en is dit nie ’n klomp moeite om saam met ander te worstel om by die waarheid uit te kom nie; nee, is dit ’n voorreg.
Ons het mekaar nodig. Ons kan mekaar help om saam by die waarheid van die evangelie uit te kom.




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 1

Toe Hy in sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg of Jerusalem toe gegaan … nie. (Gal 1:15-17)

Toe die Here Jesus Paulus op die Damaskuspad ontmoet het, het hy dadelik geweet dat God ’n plan met sy lewe het (vgl Hand 9:15). En tog gaan hy nie dadelik op ’n sendingreis nie. Nee, hy gaan na die Arabiese woestyn, en toe terug na Damaskus, en eers drie jaar later Jerusalem toe.
In Arabië het hy gaan stil word met die vraag: Hoe wil die Here Jesus my gebruik? Hy het tyd gemaak om by God te hoor wat hom te doen staan. Paulus het verstaan dat hy nie God se werk goed sal kan doen as hy nie goed weet wat hy moet doen nie.
Wat van jou? Het jy al klarigheid oor wat jou persoonlike roeping is? Dís nie ’n vraag wat jy oornag kan uitpluis nie. Dis iets wat jy biddend by God moet hoor. Hý is immers die Een wat jou roep en stuur. Dis sý koninkryk waarin jy moet leef en werk.
Paulus het drie jaar daaroor gebid. En jy?