Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Galasiërs

Kyk gerus na hierdie insiggewende videotjie as agtergrond vir ons lees van die boek:




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 6

Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. (vers 14)

Wanneer jy Jesus aanneem, neem jy ook sy kruis aan as die deurslaggewende faktor van jou lewe. Dit verander alles, want die kruis verbind ons aan God en skei ons van die wêreld. Jy het saam met Christus gesterf, en daarmee het jy die wêreld afgesterf. Jy het saam met Christus opgestaan, en daarmee het jy deel gekry aan die nuwe lewe wat God skenk.
Hierin lê ’n moeilike implikasie: jy kan jou nie verheug in die vrug van Christus se kruis as jy weier om deel te hê aan die verwerping wat sy kruis inhou nie. Dit is wat navolging van Christus beteken (Matt 16:24).
Om jou kruis op te neem, behels meer as om net maar goed te wees. Dit vra van ons om goed te _doen_ (vers 2) soos Jesus. Dit beteken dat ons nie met ’n houding sal leef dat ons heiliger as ander is nie, maar dat ons ander se laste sal dra en elke geleentheid sal aangryp om diensbaar te wees.

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die boek Sefanja.




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 5

Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. (vers 25)

Die feit dat ons nie slawe is nie, maar kinders van God, beteken natuurlik nie dat ons kan maak soos ons wil nie. As deel van God se familie moet ons mekaar in liefde dien (vers 13).
Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, want ons ou, sondige natuur wil ons beheer, en dit lei tot die verdoemenis (vers 19-21). Dit is hoekom dit so belangrik is dat ons die Gees toelaat om ons te beheer (vers 16). Want die Gees werk vrug in ons elkeen (vers 22-23), sodat ons innerlik verander kan word om soos Jesus te word.
Dit gebeur ongelukkig nie vanself nie. Vanself baklei ons verwoed teen die werk van die Gees in ons. Daarom moet ons ons sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes kruisig (vers 24). Dit beteken daaglikse sterwe aan jouself, daaglikse oorgawe, sodat die Gees kan oorneem. Dan verander ons al hoe meer om soos Jesus te lyk (2 Kor 3:18).
Dink net hoe dit kan wees as die Gees jou verander en liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in jou lewe skitter!




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 4

Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak. (vers 7)

’n Gesin werk nie met ’n menigte reëls nie, dit werk met riglyne van respek, waardering, omgee. As dít in plek is, is ’n klomp reëls onnodig. Elkeen doen wat gedoen moet word, omdat elkeen ’n gewaardeerde lid van die gesin is en graag wil bydra tot die goeie gees in die huis.
Ons is deel van God se huishouding. Ons is sy kinders. Die Gees van Jesus werk in ons en help ons om in te pas in God se familie (vers 6). Daarom is daar nie talle reëls vir elke klein dingetjie nodig nie. Dit is wat Jesus ons kom leer het. Daar is net een reël, en dit is dat ons God moet liefhê, en mekaar (Matt 22:37-40 en Joh 13:34).
Dit is natuurlik baie makliker om ’n reël vir elke ding te hê, want dan weet jy presies wat om te doen en hoef jy nie daaroor te dink nie. Maar ons is nie slawe nie. Daarom moet ons met verantwoordelikheid keuses maak, gelei deur die Gees en die wet van die liefde.




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 3

Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang! (vers 1)

In die meeste van sy briewe is Paulus nogal diplomaties. Hy het geglo ’n sagte antwoord laat die woede bedaar (Spr 15:1), maar wanneer dit by die onvervalste evangelie kom, was hy onwrikbaar in sy standpunt en nie bang om selfs skerp te skryf nie. Hy vermaan dié wat die boodskap van Christus verwater sodat hulle hulle tradisies kan handhaaf, sonder omhaal van woorde. Die Joodse reinigingsreëls en besnydenis het vir hulle swaarder geweeg as die evangelie van verlossing.
Dit kan met ons ook gebeur. Dan tel ons tradisionele standpunte swaarder as die waarheid van die Woord, al glo baie mense dat hulle juis in die vasklou aan hulle standpunt die Woord eer. ’n Nuwe verstaan van wat Jesus kom leer het, word dan summier verwerp. Te dikwels is mense boonop te bang om sterk standpunt hierteen in te neem, want hulle wil nie aanstoot gee nie.
’n Leerbare gees – dís wat ons nodig het om in nuwe omstandighede steeds die onvervalste evangelie van Jesus Christus te leef.




Hoofstuk van die dag: Galasiërs 2

Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was. (vers 11)

’n Mens kan amper nie glo dat Petrus, van alle mense, só ’n fout kon maak nie. Petrus, die rotsman, op wie se belydenis die kerk gebou is! Kan dit dan moontlik wees, wil ons uitroep.
Hier sien ons ’n baie belangrike waarheid: Sekere dinge is nou maar eenmaal só diep in ons in gegraveer deur ons opvoeding, of is deur jare só in ons harte vertroetel, dat ’n mens telkens maar weer daaroor tot bekering moet kom. Dit kan so maklik gebeur dat jy glo jy het met hart en siel van ’n sondige standpunt of ’n sondige gewoonte afgesien, net om later maar weer te ontdek dat jy nog steeds met dieselfde probleem worstel. Soos Petrus, wat hier in Antiogië struikel oor ’n hekkie wat hy, so het hy waarskynlik gedink, lankal oorgesteek het.
Die verleiding van die sonde is nie iets waarmee ons ooit klaar is nie. Dikwels, in ’n onbewaakte oomblik, slaan die versoeking toe, en kan dit met enige een gebeur, soos met Petrus, dat jy gly.
Bly dan op jou pos (Efes 6:10-11)!