Hoofstuk van die dag: Genesis 50

Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het. (vers 20)

Josef het in dit wat met hom gebeur het, God se hand, God se plan gesien. Wanneer Josef terugkyk na wat gebeur het, sien hy nie net die verskriklike onreg wat sy broers hom aangedoen het nie; hy sien ook hoe God hierdie kwaad omgebuig het, ingespan het om sy doel daarmee te bereik. Josef sien raak dat God iets goeds laat gebeur het deur die hele stuk hartseer heen: dat Hy op só ’n manier voorsien het in die behoeftes van sy uitverkore volk tydens die verskriklike hongersnood.

Die feit dat God die kwaad omgebuig het tot die goeie, beteken natuurlik nie dat sy broers se sonde goedgepraat word nie, maar dit het vir Josef gehelp om verder as net homself en sy verontregting te sien. Josef het oor sy lewe teruggekyk en die wonder gesien dat God in beheer van sy lewe is, dat Hy hom nooit laat los het nie, selfs in sy diepste nood, selfs toe dit vir hom gevoel het sy hele wêreld stort in duie.

NB: Ek is tans met verlof en gaan vir die res van Augustus nie weer stukkies uitstuur nie. Ek begin (DV) weer op 1 September. Ons gaan dan die boek 2 Petrus lees.




Hoofstuk van die dag: Genesis 49

Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer … (vers 8)

Juda was die vierde oudste seun van Jakob. Drie ander broers het voor hom in die ry gestaan om die vernaamste te wees: Ruben, Simeon en Levi. En hulle het al drie hulle aanspraak verloor oor hulle onbeteuelde drif. Ruben het Bilha, sy pa se slavinvrou, verkrag in ’n poging om sy aanspraak as oudste seun te verstewig (Gen 35:22; vgl 2 Sam 16:21). Simeon en Levi het hulle suster se verkragting gewreek, maar dit was nie vir hulle genoeg nie. Hulle het ook al die mans van die stad vermoor (Gen 34:25).

Juda was ook nie ’n engeltjie nie, maar hy was nie iemand wat sy eie belange ten koste van ander bevorder het nie. Trouens, hy was bereid om sélf ’n slaaf te word sodat Benjamin vry kon kom (Gen 44:33 – en onthou, hy kon nie geweet het dat Benjamin onskuldig was aan die diefstal van Josef se beker nie).

Dis hierdie gesindheid wat baie tel in die Koninkryk. Paulus raak in 1 Kor 13:4-7 liries daaroor, en in Fil 2:3-5 verbind hy dit direk aan die voorbeeld van die Here Jesus.

Dís mos nou ’n voorbeeld om te volg!




Hoofstuk van die dag: Genesis 48

Toe sê Israel vir Josef: “Ek gaan binnekort sterf, maar God sal by julle wees. Hy sal julle terugbring in die land van julle voorvaders.” (vers 21)

Josef het in Egipte die kruin bereik. Hy was voorspoedig, magtig, suksesvol, en baie welvarend. In vergelyking met die weelde en status wat hy in Egipte geniet het, was dít wat Kanaän gebied het, maar karig. In sy afskeidswoorde herinner Jakob hom egter daaraan dat aardse rykdom en voorspoed nie opweeg teen die seëninge wat God gee nie. Hulle toekoms lê nie in Egipte met al sy weelde nie, maar in die land van God se belofte.

Die suigkrag van die wêreld dwing voortdurend om ons oë van God en sy sorg weg te trek. Dis wat Satan ook probeer het toe hy die Here Jesus in die woestyn versoek het. Jesus se antwoord in Matt 4:4 sluit aan by wat Jakob vir Josef gesê het: “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Ons mag nie burgers van die wêreld word nie; ons bly vreemdelinge hier op aarde (Gen 47:9) wat ander prioriteite het.




Hoofstuk van die dag: Genesis 47

“Wanneer ek sterf, moet jy my uit Egipte wegvat en in die graf van my voorvaders gaan begrawe.” (vers 30)

Ná al Jakob se wedervaringe en sy pogings om die beloofde land syne te maak (dink maar aan sy stryd met Esau) het hy steeds baie min om te wys: net die Makpela-grot wat sy oupa Abraham gekoop het (Gen 23:1-20), ’n put by Berseba (Gen 21:22-34) en’n lappie grond by Sigem (Gen 33:19).

In teenstelling hiermee word hy en sy nageslag grondeienaars in Egipte, danksy die bemiddeling van Josef (vers 11). Uiteindelik het hulle nou ’n plek wat hulle hul eie kon noem.

Dié nuwe omstandighede laat Jakob egter nie van God se beloftes vergeet (o.a. Gen 46:4) nie. Egipte is hoogstens ’n tydelike skuif. Die beloofde land is nog altyd Kanaän. Daarom laat hy Josef belowe dat hy hom in Kanaän sal gaan begrawe, want dis waar hulle toekoms lê.

Nuwe omstandighede dwing ons van tyd tot tyd om aanpassings te maak, en dit is ook reg so. Ons moet die beste van ons omstandighede maak en aan beweeg. In die opwinding van die nuwe mag ons dan nie die basis van ons lewe vergeet nie (vgl 2 Tim 3:14).




Hoofstuk van die dag: Genesis 46

Israel en almal by hom het vertrek. Hy het by Berseba gekom en daar ’n offer gebring aan die God van sy pa Isak. (vers 1)

God het vir Abraham twee goed belowe: Hy sal vir hom ’n eie land gee, en ’n groot nageslag (Gen 12:1-3). Vir Abraham en Isak was ’n groot nageslag die belangrikste kwessie, want Sarai en Rebekka het albei gesukkel om swanger te raak. Jakob het nie dié probleem gehad nie. Met sy eie oë het hy gesien hoe die belofte van ’n groot nageslag waar word, soos Gen 46 ook vertel.

Jakob se groot stryd was dus nie die nageslag nie, maar die land. Twee maal in sy lewe moes hy die beloofde land verlaat; die eerste keer toe hy vir Esau moes vlug, en nou omdat die droogte hom Egipte toe gedryf het. En elke keer ontmoet God hom op die grens van die beloofde land: by Bet-El in die droom (Gen 28), by Maganajim en die Jabbokdrif (Gen 32), en nou by Berseba.

Hierdie keer is dit egter Jakob wat uit sy eie vir God raadpleeg voordat hy die land verlaat. Hy het met die jare gegroei in sy verhouding met God. En jy?




Hoofstuk van die dag: Genesis 45

Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. (vers 5)

Dis asof die legkaarstukkies van Josef se lewe in mekaar begin pas. Skielik maak soveel dinge vir hom sin: sy drome van destyds, die swaarkry as slaaf en bandiet in Egipte, die voorsiening van graan in die jare van oorvloed – alles was deel van God se plan. Só bely hy teenoor sy broers.

Ons het natuurlik nie almal die voorreg om só duidelik te sien hoe die legkaarstukke van ons lewe in plek val nie. Dikwels sit ons met vrae oor goed wat met ons gebeur het, draaie wat ons lewenspad gemaak het wat eenvoudig net nooit vir ons sin maak nie. Ander sien weer duidelik hoe die Here gely en voorsien het.

Hoe ook al, dít kan ons weet en glo: God is in beheer, al verstaan ons nie. Hy is die Een wat die dinge reël. Ons deel is om met opregtheid en oorgawe as gelowiges te volhard, ondanks alles. Josef het dit gedoen, en kon uiteindelik sê: “God het dit gedoen.”

Dit is hoe God se koninkryk kom.