Hoofstuk van die dag: Genesis 44

“En my beker, my silwerbeker, moet julle bo in die sak van die jongste sit saam met die geld vir sy graan.” (vers 2)

Met watter soort speletjie is Josef hier besig?

Vir my lyk dit of sy plan was om Benjamin in hegtenis te neem en die ander weg te jaag. Dan is hy ontslae van sy broers wat hom soveel leed aangedoen het, en kan sy boetie Benjamin by hom bly. En kan hulle lank en gelukkig saam wees, soos die sprokies mos gaan.

Maar hierdie is nie ’n sprokie nie. Josef werk met regte mense, en hy het hom boonop lelik met hulle misgis. Want hulle het nie die hasepad gekies soos hy verwag het nie. Destyds het hulle immers niks daarvan gedink om van hom ontslae te raak nie, so hy het gemeen hulle sal bly wees om van Benjamin ook ontslae te wees.

En daar draai hulle almal om. Hulle weier om hulle broer in die steek te laat.

Juda se pleitrede is hartroerend. Merkwaardig is dat sy grootste kommer gaan oor wat van hulle pa gaan word (vers 34).

Josef ontdek dat sy broers verander het sedert hy as slaaf verkoop is. Hý is die een wat agter gebly het!




Hoofstuk van die dag: Genesis 43

Hulle het by Josef gekom, en toe hy sien Benjamin is by hulle, sê hy vir sy hoofamptenaar: “Vat die manne na my huis toe. Laat slag en laat ’n ete voorberei, want hulle moet vanmiddag by my eet.” (vers 15-16)

Ons het grootgeword met die idee dat Josef ’n wonderlike mens was en dat hy met alles wat hy sy broers aandoen, net besig was om hulle gesindheid te toets.

As ’n mens hierdie verhaal met ’n oop gemoed lees, moet jy minstens die moontlikheid oorweeg dat Josef nie grootmoedig besig was om sy broers te toets nie, maar eerder kat en muis met hulle te speel. Hy kry hulle terug vir die ellende wat hulle hom aangedoen het. Dit lyk asof hy alles uithaal om hulle te verwar. Die een oomblik gooi hy hulle in die tronk, en die volgende oomblik onthaal hy hulle in sy eie huis.

Josef het gedink sy wraak sal soet wees, maar dit was nie. Dit dryf hom tot trane (vers 30). Daarom sê God in Lev 19:18 (vgl ook Rom 12:19): “Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”




Hoofstuk van die dag: Genesis 42

(Josef) het aan sy drome van vroeër gedink … (vers 9)

Toe Josef se oudste seun gebore is, het hy hom Manasse genoem, want, het hy gesê, God het hom alles laat vergeet, ook wat sy familie hom aangedoen het (Gen 41:51). Daar was baie om te vergewe, en ek vermoed Josef het hard daaraan gewerk om die seer van die verlede agter hom te sit.

Op hierdie stadium het hy seker gedink hy is nou uitgesorteer en gelukkig in sy nuwe omstandighede. Hy het ’n fantastiese pos aan die farao se hof, ’n wonderlike vrou en twee seuns. Hy het aanbeweeg.

Alles verander egter in ’n oogknip toe sy broers voor hom buig. Dit krap die ou wonde weer oop totdat dit bloei. Terug is al die pyn en seer, die woede, die verontwaardiging, die vernedering, die lyding. Josef is toe nie so uitgesorteer soos hy gedink het nie. En die ou Josef is terug. Weg is die voorbeeldige jongman wat almal se vertroue gewen het. Hy is dadelik gereed om sy broers te laat boet.

Die toets vir ware vergifnis lê nie net in wat jy vir die Here sê nie, maar ook (veral!) hoe jy optree teenoor dié wat jou seergemaak het.




Hoofstuk van die dag: Genesis 41

En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef. (vers 57)

God is ’n ruimhartige God – nie net vir ’n paar uitgesoekte bevoorregte kinders van Hom nie, maar vir almal. Die Here Jesus het van God gesê: “Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” Dis juis waarom Hy vir Abraham roep: “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”

God wil die wêreld seën deur sy kinders te gebruik. So het God vir Josef gebruik om sy seëninge na ander mense toe te laat oorvloei. Daarom het God hom in ’n posisie gebring waar hy tot seën kon wees vir mense van die hele destydse wêreld. Want toe die wêreld wil vergaan van die honger, was daar danksy Josef se bemiddeling kos in Egipte.

Josef was ’n werktuig in God se hand, en hy moes ’n baie groot persoonlike prys daarvoor betaal. Natuurlik het hy uiteindelik self óók seën daardeur ontvang.

God werk vandag nog so. Hy gebruik jou en my om sy genade by ander te bring. Wat ’n voorreg!




Hoofstuk van die dag: Genesis 40

Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet. (vers 23)

Ek wonder of Josef alte bewus was van die Here se teenwoordigheid (Gen 39:23). Ek glo hy het in dié tyd dikwels tot God geroep – in die put, op pad na Egipte, in Potifar se huis, toe Potifar se vrou hom in ’n hoek wou keer, en ook nou hier in die tronk.

Die antwoord wat hy gekry het, was sekerlik nie vir hom bemoedigend nie. Want hy is nog steeds nie terug in Kanaän nie. Boonop is hy nou nie meer net ’n slaaf nie, maar ’n bandiet! Nie juis ’n posisie wat getuig van die Here se guns nie.

En die ergste van alles is die hopeloosheid van sy situasie. In hierdie hele hoofstuk gebeur daar eintlik niks met hom nie; dit lyk asof sy lewe in die tronk gaan eindig.

Josef moes jare wag dat die lig deurbreek. Eers dertien jaar ná hy Egipte toe is, het dinge vir hom begin draai. Maar dit was nie dertien leë jare nie, al het dit vir hom so gevoel. God was by Josef, en besig met hom. Daarom kon hy daardeur. Dít is die evangelie.




Hoofstuk van die dag: Genesis 39

Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. (vers 2)
… alles was in Josef se hande, want die Here was by hom. (vers 23)

Die Josef van Gen 39 verskil radikaal van die bedorwe brokkie van Gen 37. Ons leer hom hier ken as ’n verantwoordelike en Godvresende man, betroubaar en opreg. Dit gebeur mos so dat die moeilike tye die beste in ’n mens na vore laat kom.

Die hoofstuk word omraam deur die uitspraak dat die Here by Josef was. En tog gaan dit van kwaad na erger met hom.

Ons moet dit goed verstaan: die feit dat jy aan God behoort en Hom dien, is geen waarborg dat alles op tydelike gebied met jou goed sal gaan nie. Die Here was by Josef, maar tog word hy vals beskuldig deur Potifar se vrou en beland hy in die tronk.

Dis vir my duidelik dat Potifar nie sy vrou geglo het nie, anders het hy Josef summier tereggestel. Maar hy kon Josef nie teen sy vrou se getuienis in in sy diens hou nie. Daarom beland Josef in die tronk wat direk onder Potifar as hoof van die koninklike lyfwag se toesig geval het.

Die Here was inderdaad by Josef!