Hoofstuk van die dag: Hebreërs 8

Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. (Heb 8:10)

Paulus skryf in 2 Kor 5:17 dat iemand wat aan Christus behoort, ’n nuwe skepping (AFR2020) is. Wat voorheen gegeld het, geld nie meer nie. Dit is wat die Hebreërskrywer onderstreep. In Christus is alles nuut. Ons het nie meer wettiese opsigters nodig om te sorg dat ons die wet onderhou nie, want God se wette is in ons verstand en op ons hart geskryf (vers 10).
Natuurlik moet ons onthou hoe God werk. Waar Hy ons by sy werk kan betrek, doen Hy dit. Daarom moet ons verstaan dat God se wette nie outomaties deel word van wie ons is, die oomblik dat ons Christus as Verlosser erken nie. Ons eie lees, oordink en gehoorsaamheid aan die Woord in ons lewe is nodig. Jy moet jou deel doen; die Gees van God sal vir die res sorg. Hy sal sy wette dan in jou verstand gee en in jou hart skryf.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 7

… die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het ’n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God nader. (Heb 7:19)

Die ou orde van menslike priesters wat mekaar moes opvolg, met al die voorskrifte wat daarmee saamhang, is afgeskaf omdat dit geen permanente oplossing gebring het nie en swak en kragteloos was (vers 18; vgl Rom 8:3). Dit kon nie krag en lewe gee aan hulle wat die wet onderhou het nie. Die swakplek in die ou orde het in die swakheid van die mens self gelê. Die wet was bloot om vir mense ’n norm te gee om hulle eie lewe aan te meet. Die sin van die ou orde het daarin gelê dat dit die inleiding was tot ’n beter bedeling, wat in Christus beliggaam is. Die skrywer noem dit ’n beter hoop (vers 19) en ’n beter verbond (vers 22).
In die ou bedeling moes mense elke keer weer offers bring. Nou, in Christus, is daar ’n nuwe bedeling. Deur Hom kan ons, en alle Christene van alle tye, tot God nader. In die ou bedeling kon net die hoëpriester God nader vir vergifnis van sonde, maar nou kan almal Christus nader deur sy Gees (vgl Joh 4:23).




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 6

God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie. (Heb 6:10)

Op die oog af lyk dit hier asof ons deur ons liefdeswerk by God punte kan verdien. Maar as ons dit só verstaan, staan dit lynreg teen ons belydenis dat ons nie ons saligheid by God kan verdien nie (vgl Rom 3:24 en 28). Dit kan dus nie wees wat die skrywer bedoel nie. Wat ons van God ontvang, is alles genade en nie ’n beloning vir prestasie nie.
As ons egter die woorde hoor vanuit die konteks van swaarkry en sukkel, maak dit sin. Dit kan gebeur dat jy wonder wat dit jou help om vir die Here te leef, want jy kry uit verskillende oorde klappe en beledigings (vgl Mal 3:14-16). Jy kry dan dalk jouself jammer, of jy wonder waarheen God met jou op pad is. Dis in dié omstandighede dat jy hierdie woorde in Hebreërs moet hoor, en weet: God sien wel raak wat in jou lewe aangaan, en Hy sien jou geloofsvolharding. So, hou moed. Hy het jou nie vergeet nie!




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 5

Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei. (Heb 5:14)

Die verskil tussen ’n baba en ’n volwassene is dat ’n volwassene op sy eie bene kan staan. Net soos ’n volwassene nie meer net van melk en Purity kan leef nie, het ons in ons geestelike lewe ook meer nodig as om net te hoor hoe ons gered kan word (vers 12). Anders word jy deur elke wind van dwalleer omgewaai (Ef 4:14) en groei jou insig in die Woord nie (vers 13).
Daarby kan gelowiges wat nog baba’s in die geloof is, nie vir ander iets beteken nie, want hulle moet self gepamperlang word. Hulle vra aandag en wil versorg word, sonder om self verantwoordelikheid in die gemeente te neem.
Dis nie hoe God dit bedoel het nie. Hy het ons sy kinders gemaak sodat ons kan groei op geestelike gebied, soos Christus kan word. Natuurlik is kennis van Hom verskriklik belangrik. Maar geestelik volwasse wees beteken dat ons ook by ’n punt kom waar ons verantwoordelikheid vir mekaar begin aanvaar, waar ons begin werk in God se wingerd, waar ons vir ander mense iets begin doen.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 4

Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. (Heb 4:9-10)

As ons aan die sabbat dink, dink ons outomaties aan die dag van die Here, een maal per week, wat ons Sondae vier. Maar vir die Hebreërskrywer is die sabbat veel meer. Dis nie bloot ’n rus van harde werk een maal per week nie, maar om jou lewe in lyn te bring met God se ritme. Hy het immers ná sy skeppingswerk van ses dae, op die sewende dag gerus. Dit gaan daaroor dat ons rus moet vind in God se voltooide werk in Christus; dat ons sy verlossing (en nie onsself nie) sal vertrou. Soos vers 11 sê, ons moet ons beywer om in die rus in te gaan deur op te hou om in eie krag te stry. Dit vra dat ons Christus se verlossing volledig moet omhels.
Só beskou wys die sabbat heen na die ewige rus wat Christus se verlossing gebring het. Dit bring ’n einde aan ons eie vrugtelose pogings om ons saak met God reg te stel. Christus bring vir ons rus; Hy ís ons rus.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 3

Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. (Heb 3:13)

Ek het as kind in die Transkei gewoon, waar my pa sendeling was. Daar was baie lidmate in sy gemeente wat nie kon sê hoe oud hulle is nie. Maar dit was nie vir hulle belangrik nie. Wat vir hulle belangrik was, was die feit dat hulle gesond is en lewe.
Dis ook waar van ons geestelike lewe. Die vraag: “Presies wanneer het ek ’n kind van God geword?” is tog nie die noodsaaklike vraag wat ons moet kan beantwoord nie, maar: Is ek vandag ’n gelowige? Is Christus vandag vir my ’n werklikheid?
In ons lewe voor die Here help dit jou nie om jou te beroep op jou destydse bekering en jou destydse geloof, en meen dit sal genoeg wees om jou huidige gebrek aan toewyding uit te kanselleer nie. Vir die Hebreërskrywer is dit juis die dodelike erns van ongeloof. Die geloof is ’n pad, en ’n mens moet daarop bly, saam met die Godsvolk, deur die woestyn, op weg na die belofte, anders val jy uit. Dit is waaroor die skrywer ons waarsku.