Hoofstuk van die dag: Hebreërs 2

Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. Maar ons sien Jesus … (Heb 2:8-9)

In Psalm 8, waaruit die skrywer in vers 6-8 aanhaal, besing die digter die grootheid en almag van God na aanleiding van die wonder van die skepping. En dan sing hy ook oor die wonderlike plek wat die mens in die skepping ingeneem het. Maar in plaas daarvan dat ons oor God se mooi wêreld heers, mors ons dit op. G’n wonder hy sê ons sien dit nie (vers 8). Ons is nie wat God bedoel het dat ons moet wees nie. Ons reflekteer nie die heerlikheid van ons wonderlike God nie.
Dáárom het Jesus gekom, om God se bedoeling met die mens te kom vervul. Wat ons nie kan nie, waar ons misluk het, daar het Jesus gekom, juis om aan God se hoë verwagtinge van die mens te kom beantwoord. Jesus word mens sodat ons konings kan word, kinders van die hemelse Vader. Want net as kinders van God kan ons weer die kroon van die skepping wees soos Ps 8 so pragtig beskryf.
Jy en ek is deur Jesus verander tot Koningskinders! Kom ons leef dan so.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 1

Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel. (Heb 1:3)

Die brief aan die Hebreërs is geskryf aan mense wat moeg geword het om te glo, om hulle aan te spoor om te volhard – want tóé al was die probleem daar dat mense geestelik moeg en afgestomp geword het en selfs gevaar geloop het om op te hou glo.
As ék nou aan sulke mense moes skryf, sou ek dalk met ’n verwyt begin het: Wat het van julle geword? Hoekom sien ons julle nie meer in die kerk nie?
Hebreërs begin heel anders. Nie met die lidmate se laksheid en koudheid nie, maar met Jesus. Hy teken ’n prentjie van die wonderlike Here wat ons volg. Hy vertel van sy heerlikheid en goddelikheid, dat Hy ons van ons sonde gereinig het, en dat Hy na die hemel opgevaar het om sy ereplek aan die regterhand van die Vader in te neem (vers 3).
Nie jou traagheid nie, maar Christus se heerlikheid. Dáár begin God, ook met jou!




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Hebreërs

Kyk gerus na hierdie agtergrond-video oor die brief:




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 13

Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring … (vers 15)

In die Ou Testament is die lof van God geweldig belangrik. Om te leef, beteken om te kan loof. Die grootste verskrikking van die doderyk was dat God nie meer geloof sal kan word nie (Jes 38:18). Daarom was dit verskriklik om weg van die tempel te wees, waar God saam met die aanbidders geprys word (vgl Ps 84). Dit was so goed as om reeds dood te wees!
’n Mens kan sê: Iemand wat afgeleer het om God te prys, of wat dit nooit aangeleer het nie, leef nie regtig nie. Die sin van ’n mens se bestaan is daarin geleë dat jy God loof.
Ons kan dit doen deur met ander oor God te praat. Ons kan ook ’n lof-offer aan God bring deur met God self te praat, deur ons gebede, maar veral ook in die gemeente, deur ons sang. In sang kan jy dikwels dié dinge sê wat jy nie in spreektaal kan sê nie. Daarom is dit so nodig in die erediens. Gemeentesang is aanbidding en lof op sy beste.
G’n wonder nie dat Ps 22:4 sê God woon waar die lofsange van Israel weerklink.

Naskrif: Dankie dat jy saam met my Hebreërs gelees het. Môre keer ons terug na die Psalms. Ons lees Ps 120.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 12

Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele … (vers 22)

Jesus het ’n nuwe realiteit vir ons geskep – ons kan naby aan God kom en hoef nie vir Hom hoef bang te wees nie; ons mag met vrymoedigheid voor God se troon staan omdat ons daar hoort as verloste kinders van God.
In hoofstuk 12 roep die skrywer ons op om te leef vanuit hierdie nuwe realiteit. Ons moet leef soos mense wat verstaan dat ons eintlik al klaar deel van die hemelse werklikheid is. Dis asof ons reeds in die hemel is, tussen die skare verlostes, in God se teenwoordigheid, by Jesus. Dis ’n werklikheid wat nou al aangebreek het. Ons hét daar gekom, verseker hy ons (vers 22).
Geloof is nie net om sekere goed oor Jesus te weet en te bely nie. Geloof is ’n manier van dink oor jouself, en daarom ook ’n manier van leef in die wêreld, as nuwe mens, as deel van die hemelse vergadering. Geloof is ’n lewenswyse, ’n lewe in en vanuit die teenwoordigheid van Christus.
Om te lewe as lid van die hemelse vergadering: dit is ons werklikheid in Christus.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 11

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. (vers 1)

Geloof is om oortuig te wees van die dinge wat ons (nog) nie sien nie, maar waarop ons hoop (vers 1). Om te weet daar is meer as dit wat ons met ons sintuie kan waarneem; dat daar agter die sienlike ook die Onsienlike is.
In Heb 2:8,9 skryf hy: “Nou sien ons nog nie … Maar ons sien Jesus …” Ons sien nog nie vir God nie, ons sien niks … maar tog sien ons iets: Jesus! Daarom sê die skrywer telkens dat die gemeente hulle oog op Jesus gevestig moet hou. “Daarom … moet julle noukeurig let op Jesus …” (Heb 3:1), “… die oog gevestig op Jesus … Hou Hom voor oë …” (Heb 12:2,3).
Jy mag jou nie blind staar teen wat jy met jou gewone oë kan sien nie, want jy weet: die wêreld is méér. Daarom kyk jy anders as ander mense. Jy sien God se wil raak en kyk nie vas en word verlei deur wat voor oë is nie, want jy weet God is deel van jou lewe, en jy rig jou lewe daarvolgens in. Dís geloof.