Hoofstuk van die dag: Hebreërs 10

… ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom… (vers 19, 2020-vertaling)

Die woord parrêsia wat met “vrymoedigheid” vertaal is, is in die ou Griekse stadstate gebruik vir die praat- en stemreg wat die vrye burgers gehad het (in teenstelling met die vreemdelinge en slawe). Iemand met parrêsia kon deelneem aan die openbare gesprekke en besluite in die stadsamekomste. Dit was iets wat iemand gehad het – baie soos moderne stemreg. Dit is iets wat ons het, wat ons nie hoef te vra nie.
Parrêsia is verder ook die moed om hierdie reg uit te oefen. ’n Mens wat parrêsia het, het dus die reg om te praat, en ook die moed om daardie reg te gebruik. In die ou Griekse vertaling van die Ou Testament word hierdie woord gebruik waaruit die betekenis nogal baie duidelik na vore kom: “Ek, die Here, is julle God wat julle uit Egipteland laat wegtrek het, sodat julle nie langer hulle slawe hoef te wees nie. Ek het die skeie van julle jukke gebreek en julle regop laat loop.” (Lev 26:13, 2020-vertaling).
Dít het Jesus vir jou verwerf – die vryheid om regop te mag loop. Voor God en die mense!




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 9

Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. (vers 11)

In die ou bedeling was die toegang tot God gelokaliseerd; eers was dit die tent van ontmoeting, en later die tempel. Die hele godsdiens van die volk het om dié gelokaliseerde aanbiddingsplek gedraai. Dit is waar die offers gebring is, en waar die feeste jaarliks gehou is.
Met Jesus se versoeningswerk het dit verander. Ons is nie meer tot ’n tempel iewers beperk as ons tot God wil nader nie. Dit het Jesus vir die Samaritaanse vrou gesê in Joh 4:21: “Glo My, Mevrou, daar kom ’n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie.” Ons kan die Vader nou enige tyd en op enige plek deur die Gees nader (Joh 4:22-23). En wanneer ons tot die Vader nader, kan ons weet dat ons Hoëpriester gereed is om vir ons in te tree (Rom 8:34).
Die Here Jesus het dit vir ons maklik gemaak om in kontak met die Vader te bly. Wat ’n heerlike voorreg en genade! Maar ook: wat ’n groot verantwoordelikheid.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 8

Hy is bedienaar van die heiligdom, die ware verbondstent, wat deur die Here opgerig is en nie deur ’n mens nie. (vers 2)

Die ou bedeling (ook genoem testament of verbond) van priesters en offers is uitgedien (vers 13), want dit was net ’n voorafskadu van die nuwe verbond, waar Christus as volmaakte Hoëpriester in die hemel diens doen (vers 1-2). Nou is dit nie meer ’n priester wat as middelman tussen ons en God optree nie, maar Jesus (vers 6).
Die rede hoekom die ou bedeling misluk het, is omdat die mense nie hulle kant van die ooreenkoms nagekom het nie (vers 9). In die nuwe bedeling skryf God self sy wet in ons hart, sodat ons vir Hom ’n volk kan wees (vers 10-11). En omdat Christus, ons Hoëpriester, ons sondes versoen het, sal God glad nie meer daaraan dink nie (vers 12).
Deur die werk van die Gees het hierdie voorspelling, wat al deur Jeremia (Jer 31:31-34) gemaak is, op Pinksterdag ’n werklikheid geword. Ons kan die wil van die Here ken omdat ons sy Woord het, en die Gees verklaar dit aan ons (Joh 14:26). Wat ’n voorreg om deel te mag wees van hierdie nuwe bedeling!




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 7

So het Jesus ook van ’n beter verbond borg geword. (vers 22)

Ons lees net op twee plekke in die Ou Testament van Melgisedek. In Gen 14, waar Abraham sy nefie Lot uit die kloue van koning Kedorlaomer red, verskyn koning Melgisedek van Salem (=Jerusalem) uit die bloute en bring vir Abraham en sy manskappe brood en wyn en seën vir Abraham, waarna Abraham ’n tiende van die buit vir Melgisedek gee. Verder lees ons ook van Melgisedek in Ps 110:4, die “teks” wat die Hebreërskrywer gebruik vir sy preek.
Met tipiese (vir ons vreemde) rabbiniese uitleg toon die skrywer aan dat Melgisedek se priesterskap bokant dié van Aäron is (vers 1-10), en dat Jesus se hoëpriesterskap insgelyks hoër is as Aäron s’n is (vers 11-28). Melgisedek word dan ’n soort vooraf-skadu van Jesus. Selfs die brood en wyn is betekenisvol en herinner aan die nagmaal.
Hebreërs se punt is dat Jesus se hoëpriesterskap nie na Aäron teruggevoer kan word nie. Sy priesterskap kom nie uit ’n feilbare, menslike linie nie, en is heilig, skuldeloos en smetteloos omdat Hy sonder sonde is (vers 26-27). Daarom kon Hy, deur Homself te offer, eens en vir altyd ons sonde versoen. Ander offers is nie meer nodig nie.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 6

Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap … (vers 1)

Mense sê graag vir jou hulle maak hulle nie moeg oor dié of dáárdie geloofsaspek nie; hulle glo soos ’n kind. En dit is goed om onwrikbaar die Bybelboodskap te omhels. Maar ongelukkig kan dit ook ’n verskoning wees om nie dieper te delf in die Woord nie en tevrede te wees met die bietjie Sondagskool-kennis wat hulle het.
Die Here het by monde van Hosea gesê: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” (Hos 4:6, OAV). Dit is die Hebreër-skrywer se frustrasie ook. Sy lesers is nog babatjies in die geloof (Heb 5:11-14) wat vasgesteek het by die basiese begrippe van Christen-wees. Geestelike volwassenheid verg meer. Dit vra kennis oor die volle inhoud van die evangelie (vers 1).
Daarom flikker die rooi ligte vir die kerk. Al hoe minder lidmate lees die Bybel soos hulle behoort. Ek kry al hoe meer katkisante wat werklik niks van die Bybel weet nie; nie eers waar om die boek Matteus in die Bybel te kry nie.
Net geloof wat gevoed word deur kennis van die evangelie kan jou help om staande te bly.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 5

Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. (vers 8)

’n Priester wat namens die volk by God intree, moes een van hulle wees. En daarom, om Hoëpriester te kan wees wat namens ons voor God kan staan, moes die Here Jesus in alle opsigte méns word, een van ons.
Sy lyding het Hom ons Middelaar gemaak.
Dit gee my moed, want ons het ’n Hoëpriester wat ons verstaan. Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes (vers 2) omdat Hy self aan swakheid onderhewig was. Ps 103:14 sê dit mos: “Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.” Ons aanbid nie ’n Verlosser wat só hoog bokant ons staan dat Hy nie ’n snars verstaan van ons node en stryd nie. Daarom kan ons met vrymoedigheid na die genadetroon gaan (Heb 4:16).
Ons gaan dit maak! Want ons Verlosser, die Een wat vir ons intree by die Vader, is een van ons. Hy verstaan ons. Maar Hy het nie, soos ons, gefaal nie. Hy het nie soms handdoek ingegooi nie. Hy het oorwin! Hy weet hoe! Dis Hý wat ons Leidsman is.
Met Hom by my sien ek kans.