Hoofstuk van die dag: Hebreërs 4

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. (vers 12)

Die skrywer herinner ons aan die Israeliete wat wel uit Egipte verlos is, maar nie die Beloofde Land ingegaan het nie omdat hulle nie geglo het nie (vers 2). Net so kan Christene ook die beloofde rus van God (die hemel) misloop as hulle nie reageer en die evanglie-woord ter harte neem nie. Daarom die dringende oproep, want genadetyd is nog nie verby nie (vers 6).
Soos ’n offerdier op die altaar deur die priester se slagmes blootgelê word, is ons ook voor God oop en bloot (vers 13). Ons kan Hom nie flous of met voorgee wegkom nie. Wanneer God se woord begin werk, lê dit jou donker kant (jou siel) én jou ligkant (jou gees) bloot; dit beoordeel nie net wat jy met jou spiere (gewrigte) doen nie, maar ook die dryfvere (murg) daaragter. Die verskuilde bedoelings van jou hart kom aan die lig.
Niks kan ons hiervan red nie – net Jesus (vers 14) wat Homself in ons plek as offer gegee het.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 3

Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het. (vers 14)

Die belangrikste geloofsvraag wat ons moet kan beantwoord, is: Is ek vandag ’n gelowige? Is Hy vandag vir my ’n werklikheid?
Presies hieroor handel dit in hierdie hoofstuk. Dit gaan hier om die belangrikheid daarvan om elke dag as gelowige te lewe. Nie minder nie as 3 keer herhaal hy die woordjie “vandag” (vers 7,13,15).
Hoekom lê hy soveel klem op vandag? Omdat vandag verbygaan, omdat die tyd ’n mens kan inhaal, omdat uitstel afstel kan word, en voor jy jou oë uitvee, is genadetyd verby. Eendag mag daar dalk nie meer ’n vandag oor wees nie.
Dit is nie genoeg om te kan sê: Ja, ek het die Here aangeneem, destyds, op skool, in standerd sewe op die CSV-kamp of wat ook al nie. Of, eens op ’n tyd was ek tog ernstig met die kerk, was ek aktief betrokke by Christelike werksaamhede, was ek nogal entoesiasties oor dissipelskap.
Want wat van vandag? Het ek vanoggend my lewe aan Hom gewy? Dien ek Hom nóú, in die hede, in my lewe? Hou ek end-uit vol? Dís die belangrike vraag.




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 2

God, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie deel laat kry aan sy heerlikheid. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring. (vers 10)

Ons verlossing het begin lánk voordat ons bestaan het – in God se hart. Ons verlossing is sý plan. God wou baie laat deel kry aan sy heerlikheid (vers 10).
Dit het meer gevra as dat die Seun van God op ’n goeie dag aarde toe gekom het en gou-gou aan die kruis vir ons sondes kom sterf het. Want sonde kan nie met ’n kitsoplossing reggedokter word nie. Christus moes ’n _mens_ word. Hy moes ons Verlosser _word._ Hy moes ’n lang pad loop voordat Hy ons Verlosser kon wees.
En Hy het ons nie net halfpad kom help nie. Hy het nie na die wêreld gekom net om ons _Verlosser_ te wees nie. Hy het ook gekom om ons _Leidsman_ te wees, om ons as ons oudste Broer voor te gaan in ons lewe as kinders van ons hemelse Vader, om vir ons die pad te wys, om ons te leer hoe ’n verloste kind van God moet lewe.
Broer, Leidsman, Verlosser – dís Christus!




Hoofstuk van die dag: Hebreërs 1

In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. (vers 1-2a)

As God Homself aan ons bekendstel, vertel Hy verhale waarin ons Hom sien optree. Dit vertel vir ons van God se besigwees met ons. Die hele Bybel is een groot verhaal van God wat die wêreld so liefhet dat Hy dit nie oor sy hart kan kry om dit prys te gee nie.
Daarom kan die prentjie van wie God is, natuurlik nooit volledig wees sonder die verhaal van God se Seun wat mens geword het nie. “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God” (vers 3). In die verhaal van Jesus sien ons hoe God lyk, leer ons Hom ken soos Hy is. Dis een ding om te hoor dat God omgee vir jou, maar dit is ’n ander ding as jy sien hoe God se omgee in Jesus gestalte kry: hoe Hy mens word, hoe Hy met ’n vrou by die put van Sigar sit en gesels, hoe Hy by die graf van ’n vriend staan en huil …
Wil jy God ken? Kyk na Jesus!




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Hebreërs

Kyk gerus na hierdie agtergrond-video oor die brief: