Hoofstuk van die dag: Hooglied 2

My duif in die klipskeure, in die skuilplek teen die krans, wys my jou gesig, laat hoor my jou stem. (vers 14a)

Ek lees iemand sê as ’n mens na die huwelike in die algemeen kyk, moet ons sê daar is baie mense wat getroud is, maar daar is nie baie wat ’n huwelik het nie.
Dís nie hoe God dit bedoel het nie. God het die huwelik bedoel as ’n plek waar ’n mens veilig en geborge kan wees, en ook seksueel vervuld kan leef. Dis die konteks vir Hooglied se liefdesliedere. Party van hulle is nogal taamlik eroties. Maar die raamwerk waarbinne hierdie liedere pas, is die huwelik. Buite (en voor!) die huwelik mag dit nie. Daarom roep die meisie in vers 7 dat jy moet wag tot die tyd daarvoor ryp is. Daarom verlang die man en meisie so na mekaar, want hulle is nog nie getroud nie. Die man sê in vers 14 sy meisie is soos ’n duif in die klipskeure, in die skuilplek teen die krans – veilig maar onbereikbaar. Hy kan haar maar net op ’n afstand bewonder.
Deesdae word daardie afstand helaas nie meer gehandhaaf nie. G’n wonder dat huwelike sukkel nie.




Hoofstuk van die dag: Hooglied 1

Hy: “O, hoe mooi is jy, my liefling, hoe mooi is jy!”
Sy: “O, hoe mooi is jy, my liefste, en aantreklik!” (vers 15-16, 2020-vertaling)

Hooglied is nie ’n boek wat Christus se liefde vir die kerk (en andersom) uitbeeld nie, hoewel dit in die verlede dikwels so verklaar is. Dit is in die eerste plek liefdesgedigte, waarin ’n meisie en haar kêrel (of bruid en bruidegom) sing van hulle bewondering vir mekaar, hulle hunkering na mekaar en hulle liefde vir mekaar.
’n Belangrike deel van dié liefdesliedere gaan oor begeerte en die liggaamlike aantrekking. Seksuele ondertone (en botone) is volop.
Vermoedelik is dié liedere oorspronklik by bruilofsfeeste gesing. Ons ken vandag steeds dieselfde soort suggestiewe grappies by troues. Dis deel van jong liefde. Dis mooi om te sien en goed om te beleef.
Maar die liefde tussen man en vrou is nie net vir jong liefde nie. Dit moet deel wees en bly van elke huwelik. Jy en jou huweliksmaat behoort steeds vreugde in mekaar te vind, en dit sluit die liggaamlike in. Daarom is dit so belangrik dat jy moeite doen met jou voorkoms en jouself oppas vir jou maat, sodat die vonk in julle huwelik kan bly. God gun dit vir julle.




Hoofstuk van die dag: Hooglied (Inleiding)

Kyk gerus na hierdie insiggewende videotjie oor die boek Hooglied: