Hoofstuk van die dag: Hosea 14

Kom met julle woorde en keer terug na die Here. Sê vir Hom: “Vergewe ons sondeskuld volkome, aanvaar ons belydenis; ons wil met die vrug van ons lippe vergoed.” (vers 3, 2020-vertaling)

Israel was tot niet. Assirië het reeds die land beset. Talle mense is weggevoer in ballingskap, en dié woorde van die Here is aan die mense van Israel gerig wat na Juda gevlug het. Nog steeds is daar vir hulle ’n geleentheid om terug te keer!
Maar hierdie keer moet hulle dit anders doen. In plaas daarvan om God te probeer paai met leë, formele offers waarin hulle hart nie is nie, moet hulle terugkeer met opregte berou en toewyding. Hulle moet dit met woorde doen (vers 3), deur ’n belydenis van skuld oor die drie groot dwalings: hulle vertroue op buitelandse hulp, hulle eie militêre krag en hulle afgodsdiens. En hulle moet ook erken dat daar net by die Here ontferming te vinde is (vers 4).
Die Here se uitnodiging sluit ook ’n belofte in. Hy sal hulle ontrou genees en van hulle harte liefhê en versorg (vers 5-9).
Hierin hoor ons die hart van God klop, ook vir ons. By die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker, sê Ps 130:7.

Naskrif: Môre begin ons met die Evangelie volgens Johannes.




Hoofstuk van die dag: Hosea 13

Maar toe hulle by goeie weiding gebring is, het hulle hulle vol geëet, en toe hulle vol geëet was, het hulle hoogmoedig geword. Daarom het hulle My vergeet. (vers 6)

Dié aanklag laat my dink aan die man wat dringend ’n parkering moes kry, en toe vurig gebid het dat die Here vir hom een sal gee. Terwyl hy bid, gaan daar ’n parkering reg voor hom oop. Toe sê die man: “Toemaar, Here, ek het self ’n parkeerplek gekry.”
Dit wat Israel gedoen het, is tipies mens. Ons ontvang die Here se seëninge, maar dink dis ons eie prestasie. Ek het mos hard gewerk vir die bevordering, so dis net reg dat ek dit kry. Só redeneer ons God se hand uit ons lewe weg.
Hosea waarsku dat dit lewensgevaarlik is om God te ignoreer. Sy seën kan in ellende verander (vers 7). God is nie ’n soort noodwiel wat gerieflik daar is as ons Hom nodig het, maar andersins dink ons nie juis aan Hom nie.
Ja, jy mag en moet die goeie gawes uit God se hand geniet. Dis ons voorreg as sy kinders. Maar jy mag nie op God se gawes beslag lê asof dit jou goeie reg is nie. Dit bly die guns van God.




Hoofstuk van die dag: Hosea 12

Wat jy moet doen, is om na jou God toe terug te keer: jy moet Hom liefhê en sy bevele gehoorsaam, jy moet jou hoop altyd op jou God vestig. (vers 7)

Die moeilikheid met Israel, sê die Here, is dat hulle na hulle vader Jakob aard. Hy het sy broer Esau onderkruip van voor sy geboorte af (vers 4, vgl Gen 25:26). Later het hy met God by die Jabbok geworstel (vers 5, vgl Gen 32:24) en gehuil om sy broer se hart sag te maak (Gen 33:4).
Nou meen Israel dat God met hulle sal kom praat soos Hy destyds aan Jakob by Bet-El verskyn het (Gen 28:12-15) as hulle net die volle Naam van die Here noem (vers 6).
Nee, antwoord Hosea. Dit werk nie so nie. Wat jy moet doen is om na God toe terug te keer. Jy moet Hom liefhê, sy bevele gehoorsaam en altyd jou hoop op Hom vestig (vers 7).
Daar is vandag nog mense wat dink as hulle al die Hebreeuse Name van God opnoem, dit op een of ander wonderlike manier vir God in beweging sal bring. Nee. Jy moet God liefhê, jou hoop op Hom vestig en sy Woord gehoorsaam. Dán ervaar jy sy seëninge.




Hoofstuk van die dag: Hosea 11

Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. (vers 9)

Die woord van die Here deur sy profeet Hosea was hard. Hoofstuk ná hoofstuk moes Israel hoor dat hulle op pad is na ondergang en vernietiging omdat hulle die rug op die Here gedraai het en die Baäls gedien het (vers 2).
Maar net wanneer ’n mens hande in die lug wil gooi uit pure moedeloosheid, kom die Here met ’n ongelooflike woord (vers 8): “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? […] Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.”
Ongelooflik dat God, ten spyte van alles, steeds sy volk (en vir jou!) liefhet en nie wil los nie. Dít is die evangelie in die profesieë van Hosea. Die Here is God, nie ’n mens nie. Hy is die Heilige wat by ons is en nie met woede wil ingryp nie (vers 9). Daarom staan daar ’n kruis op Golgota, waar die woede van God oor die sonde van sy mense (ook joune en myne) by ons verbygegaan het en sy Seun getref het.




Hoofstuk van die dag: Hosea 10

Maar julle het sonde ingeploeg en julle het vyandskap geoes. (vers 13)

Israel het ’n hoë roeping gehad. Hulle moes vir hulle ’n nuwe land ploeg (vers 12) – hulle moes in Kanaän die wil van God bekendmaak en uitleef. Dit sou hulle kon doen deur na die wil van God te vra en daarvolgens te leef, sodat die mense van Kanaän ook die lewende God kon leer ken. Maar hulle het nie. In plaas daarvan het hulle Baäl begin dien en al die eer vir hulle voorspoed in die land aan Baäl gegee. Die afgodsaltare en klippilare waar Baäl vereer is (vers 1), en die goue kalf (vers 5) wat simbolies van Baäl se houvas op Israel was, was vir hulle belangriker as die opregte diens aan die Here.
Dit laat my wonder oor ons eie roeping as God se mense op aarde. Ons het óók ’n land om te ploeg. Die mense om ons dors na die wil van die Here. Hulle smag na die genade wat God oor hulle wil uitstort. Soos Jesus gesê het (Luk 10:2): “Die oes is groot, maar die arbeiders min.” Ek en jy is die arbeiders wat God wil uitstuur. Dit is ons roeping as navolgers van die Here Jesus.




Hoofstuk van die dag: Hosea 9

Efraim is dodelik getref. Sy wortels het verdroog, hy kan nie meer enige vrugte dra nie. (vers 16)

In die Ou Testament word die vyeboom dikwels as simbool van Israel gebruik; veral ’n vyeboom wat geen vrugte het nie. Treffende voorbeelde hiervan kry ons in Jer 8:13 en Miga 7:1-3. Dit vertel van God se diepe teleurstelling in sy volk. Hulle het met soveel belofte begin (vers 10), maar hulle het God se hoop vertrap deur hulle rug op Hom te draai en agter die vrugbaarheidsgode van die Kanaäniete aangeloop (vers 1 en 10). Hulle het net soos die Benjaminiete in die tyd van Gibea geword (lees gerus Rig 19-21).
Die aanklag van Hosea teen Israel help ons om te verstaan wat in Matt 21:18-20 gebeur het toe Jesus die vyeboom vervloek het omdat daar geen vrugte was nie, hoewel die blare die moontlikheid van voorvye gesuggereer het. Dit was nie uit frustrasie of spanning of woede wat Jesus die vyeboom vervloek het nie. Dit was uit teleurstelling in God se mense wat geen vrug in hulle lewens gedra het nie, al het hulle al die uiterlike tekens gehad van ’n godsdienstige volk.
Christus soek ook by jou die vrug van die Gees (Gal 5:22-23).