Hoofstuk van die dag: Jakobus 5

En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. (Jak 5:1)

Is dit dan verkeerd om ryk te wees? Is rykdom inherent boos? Wat dan van Abraham, of Salomo, en talle ander skatryk gelowiges? Nee; dis nie rykdom as sodanig waarteen Jakobus dit het nie, hoewel die glinstering van geld vir baie ’n groot versoeking is, en dit sterk bene verg om rykdom te dra.
Waarteen Jakobus dit hier het, is rykdom wat op ’n oneerlike manier bekom is – ten koste van ander (vers 4). Hy waarsku ook dat ’n ryke afgestomp raak oor die behoeftes van die armes (vers 5-6). Hiermee sluit hy hom aan by talle profete in die Ou Testament (vgl bv Miga 6:12, Sef 1:18).
Jesus het ook al teen so ’n selfsugtige en selfgenoegsame rykdom gewaarsku in die gelykenis van die ryk dwaas (Luk 12:16-21; kyk ook na Luk 6:24), en die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Luk 16:19-31). Die uiteinde van só ’n lewe is die ewige oordeel. So eindig die twee gelykenisse, en so skryf Jakobus ook (vers 5).
Uiteindelik sal ons elkeen verantwoording moet doen oor hoe ons ons geld versamel en spandeer. Dís die punt van Jakobus se vermaning.

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die boek Haggai.




Hoofstuk van die dag: Jakobus 4

Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê? (Jak 4:5)

God wil ons hele hart hê. Hy is met niks minder tevrede nie. Daar is nie so-iets soos ’n midde-weg nie. Jy kies òf vir God en dien Hom met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand en al jou krag, òf jy kies die wêreld en lewe volgens die reëls en norme van die wêreld.
Dit was die probleem met die Christene aan wie Jakobus skryf: Hulle het gedink hulle kan vir God kies en steeds bly lewe soos die ongelowiges. Nou sê hy: Nie almal kwalifiseer om God se kinders te wees nie. Die Here Jesus het self by geleentheid gesê (Matt 7:21): “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here Here’ sal in die koninkryk van God ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”
Die vraag is: Maak die feit dat jy ’n Christen is en in God glo, enige verskil aan jou lewe? Maak dit dat jy anders optree teenoor eggenoot, jou kind, jou (skoon)ouers, jou buurman of jou werkgewer of werknemer of politieke teenstander?




Hoofstuk van die dag: Jakobus 3

So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. (Jak 3:5a)

Die idioom “die pen is magtiger as die swaard” kom uit ’n era waar geskrewe kommunikasie die botoon gevoer het. In Jakobus se tyd was die gesproke woord die invloedrykste. As Jakobus die idioom geken het, sou hy waarskynlik gesê het _die tong_ is magtiger as die swaard (vers 8). Vandag is digitale kommunikasie die belangrikste medium. Vandag sou hy waarskynlik sosiale media bygevoeg het. Maar die punt is een en dieselfde: mense vernietig mekaar met wat hulle vir ander en oor ander sê. Dit kom uit ’n hart van bittere naywer en selfsug (vers 14).
In Jakobus se tyd was daar sterk wedywering om ’n leraarspos te bekom (vers 1), en het die kandidate die ander aanspraakmakers met die tong bygekom om só hulleself te bevoordeel. In die werkplek vandag is dit nie anders nie. Dit help nie jy sing die Here se lof Sondae in die kerk, maar in die week skinder jy, kraak jy ander af, beledig ander en pleeg karaktermoord nie.
Ons woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel (Kol 4:6, 2020-vertaling). Só eer ons die Here en dien ons mekaar in liefde.




Hoofstuk van die dag: Jakobus 2

’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood. (Jak 2:26)

Jakobus skryf sonder om doekies om te draai dat geloof wat net by vroom belydenisse bly, geen geloof is nie. Dit druis so half in teen ons belydenis dat jy gered word deur Jesus se offer op Golgota, en dat jou dade jou nie kan red nie, nie waar nie? Martin Luther het hieroor so sterk gevoel dat hy aanvanklik gesê het Jakobus se brief is vol strooi. Later het hy hom darem bedink.
Daar is inderdaad geen weerspreking tussen Paulus en Jakobus nie. As Paulus oor geloof praat, bedoel hy dis ’n leefstyl, nie net ’n mooiklinkende belydenis nie. Dis hoekom hy in 1 Kor 13:4-7 skryf dat liefde ’n daad is: liefde gee om (2020-vertaling), beteken iets vir ander, doen of gee iets goeds. En dis presies wat Jakobus ook sê. Hy skryf dat geloof sonder dade nie regtig geloof is nie.
Die Heidelbergse Kategismus Vraag 88 en 90 sê die ware bekering “… is ’n hartlike vreugde in God deur Christus en ’n lus en ’n liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.” Dís hoe geloof moet wees.




Hoofstuk van die dag: Jakobus 1

Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou. (Jak 1:27, 2020-vertaling)

As óns moes sê waaruit godsdiens bestaan, sou ons seker nie soos Jakobus in vers 27 geantwoord het nie. Ek vermoed baie van ons sou gesê het: Suiwer en onbesmette godsdiens is om … baie te bid, getrou Bybelstudie te doen, gereeld kerk toe te gaan, deel te neem aan die aktiwiteite van die gemeente, ens. Natuurlik is hierdie dinge deel van ’n suiwer en onbesmette godsdiens. Maar Jakobus vestig ons aandag daarop dat godsdiens uit meer as dit bestaan. Godsdiens wat nie prakties sigbaar word in ons optrede nie, wat net bly by ’n geestelike verhouding tussen jou en God, is tevergeefs; dis nuttelose godsdiens.
Willie Jonker sê oor hierdie gedeelte: “Of ons godsdiens rein en onbesmet is, dit moet nie net blyk uit ons ure van gebed nie, maar veral ook uit wat ons doen as ons van ons knieë af opstaan.” Ek sou wou byvoeg: uit wat ons doen by die huis, in die winkel, op of langs die sportveld, in die agterste ry van die fliek …




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Jakobus

Ek weet dat ons met die eerste lees van hierdie brief in 2022 reeds na die videotjie gekyk het oor die brief. Om ons geheue te verfris, kan ons weer daarna kyk om ’n oorsig oor die brief te kry: