Hoofstuk van die dag: Jakobus 5

As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. (vers 13)

Christen-wees is nie ’n somber besigheid nie. Ja, swaar tye is daar ook, en dan kan ons ’n liefdevolle Vader nader en ons nood voor Hom uitstort, want Hy sorg (Ps 68:6-7).
Alles hoef egter nie somber te wees nie. Om die lewe en die oorvloed wat God gee, te geniet, is net so deel van geloof. Jakobus sê: dan moet ons lofliedere sing. Paulus roep ons ook op om bly te wees in die Here (Fil 3:1 en 4:4). Jesus was dikwels by geleenthede waar daar fees gevier is, soos die bruilof in Kana (Joh 2:1-11; kyk ook na Luk 5:29). Hy is selfs uitgeskel as ’n vraat en ’n suiplap (Luk 7:34, 2020-vertaling).
Daar sal altyd pretbederwers wees wat die neus optrek as gelowiges bly is, soos Mikal toe koning Dawid voor die ark uit gedans het (2 Sam 6:16). of dink ’n regtig vroom mens is ’n ernstige mens wat nie tyd het vir vrolik wees nie. Maar die Bybel begin waar God Hom in sy skepping verbly het (Gen 2:1-3), en eindig met die bruilofsfees van die Lam (Op 19:1-10).

Naskrif: Môre begin ons DV met die boek Nehemia.




Hoofstuk van die dag: Jakobus 4

Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” (vers 15)

Dit gaan in vers 13-17 oor mense wat hulle dinge vooruit beplan het tot in die fynste besonderhede. Dit klink nogal heel modern. Alles in die moderne lewe draai om toekomsbeplanning, om projeksies oor hoe dinge sal verloop vorentoe. Maar Jakobus is glad nie beïndruk met hierdie manne se beplanning nie.
Die rede vir Jakobus se verontwaardiging was nie hulle beplanning as sodanig nie, maar dat hulle beplan het sonder om God in hulle planne te ken. God het nie in hulle lewens ’n rol gespeel het nie, en daarom ook nie in hulle beplanning nie. Dit gaan oor ’n lewe waarin die mens self in die middelpunt staan, sonder om daarmee rekening te hou dat hy nie oor sy eie lewe beskik nie, maar dat dit ’n gawe uit God se hand is.
Dit gaan hier oor die sonde van God uitskakel uit jou lewe. Dit was van Adam en Eva se tyd af ons probleem. Ons dink ons kan sonder God klaarkom. Waaroor Jakobus verontwaardig is, is nie soseer die besluite wat geneem word nie, maar die houding wat daaragter lê – ’n totale ignorering van God.




Hoofstuk van die dag: Jakobus 3

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. (vers 17)

Die eerste ding wat ons moet onthou as ons lees hoe Jakobus hom hier uitspreek teen naywer en selfsug (vers 14), is dat hy aan gelowiges skryf (Jak 1:1). Dis nie net ongelowiges wat met selfsug en jaloesie leef nie. In die kerk is dit helaas ook ’n probleem.
Jakobus se oplossing is dat ons met die wysheid wat van Bo kom moet leef (vers 17). Dit is van Bo, die wysheid wat die Heilige Gees in ons werk; ’n wysheid waar die klem nie op onsself en óns belangrikheid val nie, maar op ander, soos Jesus mos geleer het (Matt 22:39). Daar is nie plek vir narsiste in die Koninkryk nie. Jakobus sê ’n narsis se gerigtheid is aards, sinlik, demonies (vers 15).
Wat gebeur wanneer die Heilige Gees hemelse wysheid in ons werk? Ons begin lyk en dink en doen soos Jesus (kyk ook na 2 Kor 3:18)! Ons tree sonder bybedoelings en verskuilde agendas op. Ons is nie bakleierig nie, maar inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg (vers 17).
Soos Jesus. Dís ons roeping.




Hoofstuk van die dag: Jakobus 2

So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. (vers 17)

Jakobus draai nie doekies om nie: geloof wat net by vroom belydenisse bly, is geen geloof nie. Dis net praatjies, en so ’n geloof beteken niks. En tog bely ons: sola gratia, sola fide, solus Christus – genade alleen, geloof alleen, Christus alleen. Niks van dade nie?!
Maar dis hoe Jesus die wet verduidelik het. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:30ev) vertel Hy dat om jou naaste lief te hê, presies dit beteken: om iets goeds aan ander te doen. In die Bergrede, die grondwet van die kerk (Matteus 5-7), sê Jesus dit ook: gelowiges leef anders en doen anders.
Dís die punt: om in God te glo, is baie meer as net ’n klompie regte woorde. Dis ’n lewe wat verander het, ’n lewe wat vir die mense om jou iets werd is. Dit vra ’n leefstyl soos Jesus s’n. Dit vra ’n lewe wat ’n verskil maak; wat nie by mense in nood verbystap nie, wat nie tuis ’n verskrikking vir jou gesin is nie, wat by die werk maak dat jy jou kollegas help …
Geloof sien ander raak, soos Jesus.




Hoofstuk van die dag: Jakobus 1

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom … (vers 2)

Ai, sou jy kon sê. Wie sal nou bly wees as dit sleg gaan, of as die land in die drein afspoel?
Maar dis nie wat Jakobus bedoel nie. Jy hoef nie bly te wees oor die beproewing self nie. Jy moet bly wees, omdat jy weet dat God die beproewing gaan gebruik om jou geestelik sterker te maak. Jy moet opgewonde wees omdat God besig is om jou te vorm en te toets (vers 3), en die beproewings daarvoor inspan.
Natuurlik is dit nie eenvoudig nie. Die Here verwag nie van ons om te sê: “Prys die Here, ek het ’n beproewing!” en dan sit jy agteroor en wag dat iets moet gebeur nie. Die sleutel lê in die manier waarop jy jou beproewings hanteer: met geduld, met blymoedigheid, met volharding, sê Jakobus.
’n Mens kan in jou beproewing moedeloos in ’n bondeltjie gaan sit en wens dit gaan verby. Of jy kan kwaad raak vir die Here wat so ’n ding oor jou gebring het. Of jy kan jou oë optel na God en jou vertroue op Hom stel vir wysheid om deur die krisis te kan kom (vers 5).




Hoofstuk van die dag: Inleiding tot Jakobus

Kyk gerus na hierdie kort video om ’n oorsig oor die brief te kry: