Hoofstuk van die dag: Jeremia 52

Die getal mense wat deur Nebukadnesar weggevoer is […] was altesaam 4 600 mense. (Jer 52:28 en 30)

Jer 52 is ’n epiloog tot die boek. Die samestellers het dit waarskynlik bygevoeg om aan te toon dat Jeremia se profesieë betroubaar was en vervul is. Sy boodskap oor Juda moet daarom ernstig opgeneem word. Jy kan hiervan ook lees in 2 Kon 24:18 – 25:21 en 27 – 30.
Die getal Jode wat weggevoer is, lyk vir ons klein. Dit is egter nie die groot wegvoering nie; net die laaste klompie wat nog oor was ná die vorige twee wegvoerings (verse 28-30).
Die nuwe koning van Babel, Ewil-Merodak, begenadig koning Jojagin, wat toe al 37 jaar lank in ballingskap was. Hy het slegs 3 maande regeer voordat hy hom aan Nebukadnesar oorgegee het (2 Kon 24:8). Hy kry ’n hoër status as die ander balling-konings en is nie langer as ’n balling hanteer nie, maar as ’n gas aan die koninklike hof in Babel. So eindig dié droewige boek op ’n hoopvolle noot. God se genade is steeds aan die werk.

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die Brief van Jakobus.




RE: Hoofstuk van die dag: Jeremia 44

’n Leser het my aandag daarop gevestig dat ek my nie juis uitgespreek het oor die feit dat die vroue van Jer 44 afgodsdienaars was nie. Hulle het inderdaad die hemelkoningin, oftewel Asjera, aanbid. Dit was waaroor Jeremia se aanklag gegaan het (vers 3). Die punt wat ek wou maak, is dat vroue se bydrae in die samelewing baie belangrik is, maar dit kan ook ’n verderflike bydrae wees, soos in die geval van die Judese vroue.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 51

Wanneer jy hierdie boekrol klaar hardop gelees het, moet jy ’n klip aan hom vasbind en hom in die Eufraat gooi en sê: So sal Babel wegsink en nie opkom nie as gevolg van die onheil wat Ek oor hom bring; sy inwoners het hulle afgesloof vir niks, sê die Here. (Jer 51:63-64)

Die berig in verse 59-64 pas kronologies heelwat vroeër in die Jeremia-verhaal in. Nadat Jojagin na Babel weggevoer is, het Nebukadnesar vir Sedekia as koning aangestel. In sy vierde jaar het Sedekia Babel besoek, vergesel deur die kwartiermeester Seraja. Jeremia het sy laaste profesie oor Babel op skrif gestel en Seraja versoek om dit in Babel aan die ballinge voor te lees, en dan in die Eufraat te gooi, simbolies van Babel wat uiteindelik sou wegsink in vergetelheid. Dit herinner aan Jesus se waarskuwing in Mark 9:42 en aan die handeling van die engel in Op 18:21, waar die verwoesting van Rome ook so beskryf word.
God is soewerein, en sy oordeel gewis. Hy het Babel as instrument gebruik, en dit kon lyk of die bose Babel en die kwaad ongehinderd voortgaan, maar God sal geregtigheid eindelik laat triomfeer.

Ons lees hierná nie weer van Jeremia nie. Volgens oorlewering is hy in Egipte deur die Jode gestenig.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 46 – 49

’n Woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het. Dit handel oor die ander nasies. (Jer 46:1)

Jer 46 tot 51 is profesieë wat Jeremia oor Juda se buurvolke, en oor die wêreldmoondhede van destyds (Egipte en Babel) uitgespreek het. ’n Opsomming van hierdie profesieë kry ons in Jer 25.
Ek gaan nie al die uitsprake afsonderlik behandel nie; al die profesieë voorspel in digterlike taal die ondergang van hierdie antieke volkere. Ons gaan wel môre na Jer 50 – 51 kyk, om die leeswerk effens te verdeel. Vir ons vandag is die detail van hierdie profesieë nie regtig relevant nie, behalwe dat ons terugskouend die vervulling van hierdie woorde kan waardeer.
Hierdie profesieë plaas die oordeel van God oor Juda in perspektief. Dat God sy volk veroordeel het en die oordeel voltrek het, beteken nie dat Hy sy aanspraak op ander volke laat vaar het nie. Hy bly die Here oor almal. Daarom dat ook die ander nasies nie skotvry gaan kom nie. As die oordeel by die huis van God begin, hoe sal die ander nasies dit kan vryspring? (vgl 1 Pet 4:17)
Wat volkere aan mekaar doen, ook vandag, gaan nie ongemerk by God verby nie. Dis ons troos.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 45

So sê die Here: Wat Ek gebou het, slaan Ek plat; wat Ek geplant het, ruk Ek uit. Dit het gebeur met ’n hele land. En jy soek roem vir jouself? (Jer 45:4b-5a)

Jer 45 se gebeure speel af nadat Jojakim die boekrol verbrand het, en Baruk dit weer moes skryf (Jer 36). ’n Mens kan verstaan dat Baruk moedeloos was; dit was immers ’n jaar se werk wat hy moes oordoen (vgl 36:1 met 36:9). Daarby het hy die druk gevoel wat die oordeelswoorde van God gebring het: verwoesting en dood in die land. Baruk sou verkies dat hy die skrywer van ’n beter, hoopvolle boodskap moes wees. Dit was hom nie beskore nie.
As jy in God se diens staan, kan jy nie kies wat jou rol is nie. Talle van God se instrumente (soos bv Jeremia) het gely as gevolg van die boodskap wat hulle moes bring (bv ook Paulus, Hand 9:16). Want dit gaan nie in die eerste plek om jou en jou aansien nie, maar om God en sý plan met die wêreld. Tog is God nie ongevoelig oor jou lot nie (vers 5b). En buitendien volg jy in die voetspore van Een wat álles verloor het om diensbaar te wees (Fil 2:5-8).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 44

Die vrouens het bygevoeg: “Dink jy ons het sonder die medewete van ons mans vir die hemelkoningin wierookoffers gebring en drankoffers uitgegiet en vir haar offerkoekies gebak wat soos sy lyk?” (Jer 44:19)

Dis opmerklik hoe prominent vroue in hierdie gedeelte is (vers 7, 15, 19-20). Dit is duidelik dat die vroue hier die leiding geneem het. Hulle was immers die voorbokke in die aanbidding van die hemelkoningin (vers 19). Hulle was ook nie tevrede met hoe hulle mans Jeremia geantwoord het nie, en daarom het hulle voortgeborduur op hulle mans se antwoord. In ’n tyd toe vroue eintlik nie ’n stem gehad het nie en moes stilbly in ’n vergadering, was dit merkwaardig.
Die waarheid is dat vroue die ruggraat van die samelewing is. Dit is ook by ons so, soos toe die vroue gedreig het om kaalvoet oor die Drakensberge te loop toe hulle mans gehuiwer het om Natal te verlaat. Ons Nasionale Vrouedag herdenk ook die besondere rol wat vroue in ons landsgeskiedenis gespeel het.
Kerkhistorici sê die besondere groei in die vroeë kerk is te danke aan die vroue in die kerk. Húlle was die draers van die geloof, en húlle het dit aan hul kinders oorgedra (vgl 2 Tim 1:5).
Wat ’n voorreg! Wat ’n verantwoordelikheid!