Hoofstuk van die dag: Jeremia 43

Jy lieg! Die Here ons God het jou nie beveel om vir ons te sê ons moenie na Egipte toe gaan om daar te gaan woon nie. (Jer 43:2)

Daar is baie maniere om God se stem in jou lewe stil te maak. Asarja-hulle het eenvoudig God se profeet tot leuenaar te verklaar. Iemand het op ’n keer vir my geskree dat hy nie wil hoor wat die Bybel sê oor ’n spesifieke saak nie. Iemand anders het haar oë gerol met: “Al wéér die Bybel.” Dan was daar die vrou wat reguit vir my gesê het sy stem nie met ’n uitspraak in die Bybel saam nie. En dit terwyl ons almal bely dat die Bybel God se Woord is, ’n geskenk van Bo om ons op ons weë te lei (Ps 119:105).
Een predikant het in sy preek ’n hele klomp gedeeltes uit die Bybel voorgelees, en dan telkens dié betrokke bladsy uit die Bybel geskeur, want, het hy vir die gemeente gesê, hulle steur hulle tog nie aan God se Woord nie. Sy teks dié oggend was seker koning Jojakin wat die boekrol stukkie vir stukkie verbrand het (Jer 36:23). Die gemeente was woedend.
Wat maak jý as God se Woord jou ongemaklik maak?




Hoofstuk van die dag: Jeremia 42

Bid tog dat die Here jou God aan ons bekend maak waarheen ons moet gaan en wat ons moet doen. (Jer 42:3)

Dis duidelik dat Joganan-hulle klaar besluit het om Egipte toe te gaan. Op geen stadium het hulle teruggedraai na Mispa nie. Hulle was al in Betlehem, suid van Jerusalem. Eers dáár besluit hulle (as ’n nagedagte?) om die Here te raadpleeg. Hoekom hulle boonop met ’n eed sweer dat hulle God se uitspraak sal aanvaar, weet ons nie. Dalk het hulle gedink dit klink vroom? Maar eintlik het hulle gehoop om deur die Here te raadpleeg, sy seën op hulle planne te verseker.
Ongelukkig was dit die patroon in Juda. Jojakim (36:23), Sedekia (37:2), Joganan – almal reageer presies dieselfde. Hulle hoor God se uitdruklike uitsprake en beloftes, maar verkies om hulle eie kop te volg.
Jeremia het nie dadelik geantwoord nie. Hy het die Here geraadpleeg en tien dae later eers God se antwoord gebring. Dit moes vir almal duidelik gewees het dat wat hy gesê het, inderdaad God se boodskap was.
Die Jode aanvaar egter nie die leiding van die Here nie. Hulle het God nie vertrou dat Hy hulle teen Nebukadnesar se wraak sal beskerm nie (vers 11). Daarvoor moes hulle geloof gehad het.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 40 – 41

Maar Gedalja seun van Agikam het hulle nie geglo nie. (Jer 40:14)

Gedalja was die eerste goewerneur van Juda, nou ’n provinsie van die Ryk van Babel. Hy het uit ’n lang linie van administrateurs gekom (39:14), en is deur Nebukadnesar aangestel in hierdie pos. Onder die agtergeblewe Jode was daar egter ook iemand uit die koninklike geslag: Ismael (vgl 41:1). Hoekom Ismael nie ook weggevoer is nie, weet ons nie. Dit lyk egter of Ismael gedink het die leiersposisie kom hom, eerder as Gedalja, toe.
Daar was gerugte dat Ismael sy mes (letterlik) vir Gedalja ingehad het, maar Gedalja het dié gerugte afgelag. Hy was té seker van sy saak en sy posisie as administrateur van Nebukadnesar. ’n Skrifverklaarder skryf dat hy, net soos koning Sedekia, aan dieselfde soort hubris gely het – ’n oordrewe trots en selfvertroue – wat Israel reg deur haar geskiedenis gepootjie het. As ’n mens na die huidige konflik tussen Israel en Palestina kyk, is dit nog steeds ’n probleem.
Hubris is ook deel van ons eie geskiedenis. Hoe anders kan jy Apartheid verklaar? En die treurige toestand waarin ons land is danksy die huidige regering se hubris?
Hubris skree teen alles wat ons moet wees as navolgers van Christus (Matt 11:29; vgl Rom 12:3).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 39

Die Galdeërs het die paleis en die huise van die volk afgebrand en die mure van Jerusalem platgeslaan. (Jer 39:8)

In een kort sin word ’n eindelose ellende meegedeel. Jerusalem, die eens feitlik oninneembare vestingstad en trots van elke Jood, se einde het aangebreek. Hoe dit die Joodse psige geraak het, sal jy goed verstaan as jy Psalm 139 lees. Klaagliedere 1 en 2 gee ’n mens ook ’n goeie indruk van hulle uiterste gebrokenheid.
Dat Nekukadnesar se magtige leër agtien maande nodig gehad het om die stad in te neem, sê iets van dié vestingstad se ligging en bou.
Die Jode se probleem was presies dit: Jerusalem, hulle veilige vesting. Ondanks al die vermanings en waarskuwings van God se profete, o.a. Jeremia, het hulle volhard op hulle verkeerde weë, want hulle het nooit kon glo dat Jeremia se profesieë waar kon word nie. Maar as God se oordeel opgeroep word deur bose afvalligheid, is selfs die beste beskutting niks werd nie. Dan help selfs die beste aardse voorsorgmaatreëls niks.
Daarom soek gelowiges hulle beskutting nie by aardse sekuriteite nie, maar by God. Hý is ons Rots en veilige vesting. By Hom kan ons rus vind (Ps 62:2-3; kyk ook na Ps 146).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 37 – 38

Later het koning Sedekia hom laat haal en in die geheim in die paleis vir hom gevra: “Is daar ’n woord van die Here af?” (Jer 37:17)

Sedekia het die twyfelagtige eer gehad om die laaste koning van Juda te wees. Die prentjie wat die Bybel van hom teken, is een van ’n weifelaar wat nie die moed van sy oortuiging gehad het om oor sy mense te regeer en te doen wat hy geweet het reg is nie. Aan die een kant het hy probeer reghou met Jeremia en die Here, maar aan die ander kant het hy sy amptenare vrye teuels gegee om Jeremia te mishandel.
Keer op keer het hy Jeremia geraadpleeg, selfs in die geheim (37:3,17 en 38:16), en keer op keer dieselfde antwoord gekry: Gee jou oor aan Nebukadnesar, dan sal jy lewe. Maar hy was te bang vir sy eie mense, en – hoe pateties – hy was bang die verraaiers onder sy mense sou hom aanrand (38:19). Uiteindelik was sy lot veel erger as dit, soos Jeremia in 38:23 vir hom uitgespel het. Want anders as koning Dawid (2 Sam 24:14) was sy vrees vir mense groter as sy vrees vir God.
Ons hoef egter nie vir mense bang te wees nie (Matt 10:28).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 36

Elke keer wanneer Jehudi drie of vier kolomme klaar gelees het, het die koning dit met ’n skrywersmes afgesny en op die vuur in die kolebak gegooi. Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was. (Jer 36:23)

Dit was nie die laaste keer dat iemand, of ’n owerheid, God se Woord probeer stilmaak het nie. Die Bybel is sedertdien al talle kere in die openbaar verbrand. Gelowiges is verbied om in die Naam van God te praat, in die tronk gegooi en gemartel. En tog weerklink God se Woord nog steeds. Selfs al word elke enkele Bybel in die wêreld vandag vernietig, sal die Bybel nie weg wees nie. Net uit al die aanhalings van Bybelgedeeltes in verskillende boeke, sal ’n mens steeds die volledige Bybel kan saamstel.
God word nie stilgemaak nie, nie deur inperking van sy profeet nie, nie deur die papier waarop sy Woord geskryf is, te vernietig nie, en ook nie deur dit verkeerd te verstaan of af te maak as politieke propaganda, soos koning Jojakin gedoen het, nie. Daarom sing ons in Lied 255:3:
Trotse berge sal eens wankel,
elemente sal vergaan.
As die skepping selfs verander,
bly Gods woord onwrikbaar staan!