Hoofstuk van die dag: Jeremia 35

Maar hulle het geantwoord: “Ons drink nie wyn nie, want ons voorvader Jonadab seun van Rekab het ons beveel: ‘Julle mag nooit wyn drink nie, nie julle nie en ook nie julle kinders nie.’” (vers 6)

Jonadab seun van Rekab was een van die aanvoerders van Jehu, toe hy die dinastie van koning Agab van Israel beëindig het (2 Kon 10:15-17). Dit was meer as 250 jaar vroeër. In al dié jare was hulle getrou aan hulle voorvader Jonadab se bevel, ook toe die hele Israel en Juda die pad byster geraak en God vergeet het.
Die Rekabiete was die bewys dat jy nie met die stroom hoef saam te gaan nie; dat jy nie hoef te sê: “Maar almal doen dit, daarom kan dit tog nie so erg wees nie” (vers 16).Daar is geen verskoning vir die Jode, of vir die moderne ja-broers en meelopers wat God se weë versaak omdat die samelewing hulle nie meer aan God steur nie.
Die Rekabiete se gehoorsaamheid het nie maklik gekom nie. Dit het offers gevra, wat hulle bestaan elke dag geraak het. Gehoorsaamheid aan God vra dit ook, en nog meer. Hy eis immers onverdeelde trou aan Hom (Eks 20:5; vgl Jesus se antwoord aan Satan in Matt 4:10).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 34

Daarom, so sê die Here: Julle het nie na My geluister nie. Julle het nie julle volksgenote vrygelaat nie. Daarom laat Ek julle nou vry, sê die Here, vry vir oorlog, vir pes en vir hongersnood, en Ek maak julle tot iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik. (Jer 34:17)

Wat hier oor die rykes van Juda berig word, laat my dink aan vandag se politieke leiers, wat ook gou is om die wonderlikste beloftes te maak, maar wanneer die beloftes in dade omgesit moet word, kom daar dadels van. Die Jode was diep in die moeilikheid. Nebukadnesar se leërmag was vir ’n derde keer op pad na Jerusalem. Toe kom koning Sedekia met die idee dat hulle al die Hebreeuse slawe moet vrylaat, soos Eks 21:2-6 stipuleer. Hy en die rykes het seker gedink hulle sal God se hart daarmee sag maak. Maar toe Nebukadnesar sy magte terugtrek omdat ander sake hulle aandag geverg het, vergeet hulle van hulle plegtige belofte en onderwerp die vrygelate slawe weer met geweld (vers 16).
Diepgewortelde sonde verg baie meer as ’n oppervlakkige “verbondshernuwing”. Dit het hartgrondige berou en hartsverandering nodig. Dít het die Joodse adel destyds nie verstaan nie, en politici vandag besef dit ook nie. En ons?




Hoofstuk van die dag: Jeremia 33

Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie. (Jer 33:3)

Jeremia is steeds ’n gevangene (soos in Jer 32). Dit lyk egter of die omstandighede waarin die Here se woord hier na Jeremia gekom het, verander het. Dis nie meer in die tyd toe die stad nog beleër is nie; hier is die stad reeds verwoes, met lyke wat oral gelê het ná die inval (vers 4-5). Skrifverklaarders sê dat hoofstukke 32 – 36 uit verskillende uitsprake van Jeremia saamgestel is en nie noodwendig in kronologiese volgorde hier ingevoeg is nie.
In vers 3 nooi God Jeremia uit om met sy vrae na Hom te kom. In die lig van die veranderde situasie in die land moet Jeremia dít wat hy reeds van God gehoor het, heroorweeg en herbedink. Sy beloftes van ouds is steeds van krag, al lyk dit nie so nie. Die land sal weer bewoon word. Daar sal weer ’n koning uit die geslag van Dawid wees (vers 14). Ons weet dat dié belofte in Christus waar geword het.
In elke nuwe omstandigheid nooi God ook vir óns uit om in afhanklikheid van Hom sy Woord te bedink en nuut te ontdek.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 32

… so sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Daar sal weer huise en grond en wingerde in hierdie land gekoop word. (Jer 32:15)

Dit was die jaar 587 vC; die jaar waarin Nebukadnesar Jerusalem sou inneem en verwoes. Die beleëringswalle is klaar teen die stadsmure gegooi. Dit was net ’n kwessie van tyd voor die einde van die Ryk van Juda sou aanbreek.
In dié tyd kom Jeremia se neef Ganamel na hom waar hy in huisarres is, met die versoek dat hy sy lossersreg en -plig moet uitoefen en ’n stuk familiegrond in Anatot koop (vers 8). Die versoek was uiters onbillik. Die land was reeds beset, en daar was nie ’n manier dat Jeremia die grond sou kon benut nie. Jeremia het nie gedink dis ’n plan nie, soos dit blyk uit sy gesprek met God ná die transaksie (vers 16 ev). Tog gehoorsaam hy God se bevel, al verstaan hy nie (vers 25). Vir hom moes dit gelyk het of dit die einde van die pad vir hulle almal is.
Geloof is om, ten spyte van omstandighede wat jou wil oorweldig, met die gewone lewe voort te gaan in die vertroue dat God sy goeie werk in jou lewe end-uit sal voer (Fil 1:6).

Naskrif: Jammer, iewers het hierdie epos verlore geraak so ek stuur dit weer. Groete!




Hoofstuk van die dag: Jeremia 31

Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. (Jer 31:33)

In die Ou Testament was die godsdiens gesentreer rondom die tempel, waar die offers gebring is, die feeste gehou is, geloftes afgelê is, ens. God se wil is ook daar bekend gemaak, deur die lering van die priesters en Leviete. Die mense was volledig afhanklik van die geestelikes om hulle die pad te wys. En toe die geestelikes die pad byster geraak het, was dit vir gewone Jode baie moeilik om koers te hou.
Wat Jeremia voorspel, was ’n ingrypend nuwe bedeling, waar gelowiges nie meer op die geestelike leiers aangewese was nie. In plaas van die kliptafels wat Moses ontvang het, sou God sy wet op hulle harte en gedagtes graveer (vers 33). Jesus het ook daarvan gepraat in sy gesprek met die Samaritaanse vrou by Sigar (Joh 4:21-24).
Dit het op Pinksterdag gebeur, toe die Heilige Gees uitgestort is (vgl Joh 16:12-15). Die Gees lei ons nou om aan God se eise te voldoen (Rom 8:4). Wat ’n voorreg!




Hoofstuk van die dag: Jeremia 30

Daardie dag, sê die Here die Almagtige, sal Ek die juk van die vyand afgooi van julle nekke af en julle vry maak. Julle sal nie meer uitlanders dien nie, want julle sal die Here julle God en julle koning Dawid dien. (Jer 30:8-9)

Een van die groot misverstande wat by mense bestaan, is wat jou posisie is wanneer die Here jou verlos. Party mense dink jy betree dan ’n luilekker nuwe bestaan, waar daar nie meer enige sorge of probleme is nie.
Dit was ook die Jode se verwagting. Hulle het geglo alles gaan terugkeer na hoe dit was vóór die ballingskap, maar sonder al die politieke probleme wat hulle gehad het. Die vyande van die volk is vernietig, en elkeen kan terugkeer na sy eie lappie grond en onder sy eie vyeboom gaan sit en rustig baai in God se voorsiening.
Jeremia stel dié misverstand gou reg. Enersyds sal hulle verlossing nie sonder pyn en opoffering kom nie (vers 7). Maar God sal die verbondsverhouding weer herstel (vers 22). Dan sal alles verander, en hulle sal nie meer kan leef soos voor die ballingskap nie. Hulle roeping sal dan eerstens wees om die Here te dien (vers 9).
Ons word verlos, sodat ons Jesus kan volg.