Hoofstuk van die dag: Jeremia 22

So sê die Here: Handhaaf die reg en wees regverdig! Red dié wat beroof word, uit die mag van die uitbuiter, ook die vreemdeling, die weeskind en die weduwee. (Jer 22:3)

Dis opmerklik dat God se aanklag teen die leiers van sy volk telkens hierop neerkom: onreg teenoor die weerloses. Ja, en natuurlik ook afgodediens. Dié twee aanklagte het saamgehang. Hoe dan ook anders? Die Tien Gebooie skarnier om dié twee kante van liefde en trou: dat jy God, en God alleen, liefhet en dien, en dat jy jou naaste liefhet soos jouself (Matt 22:36-40).
Die eerste ding wat by die deur uitgaan as God nie meer alleen gedien word nie, is sosiale geregtigheid. Dan is liefde vir die self die hoogste goed. Dan draai alles wat jy doen, om selfverryking en selfhandhawing (vers 17). Daarom, as Christus op die wolke van die hemel kom om as regter die finale oordeel te vel, is die maatstaf wat Hy gaan aanlê, nie of jy Hom bely het nie, maar of jy jou naaste behandel het soos jyself behandel wil word (Matt 25:31-46; vgl Matt 7:12). Egte en suiwer godsdiens, sê Jak 1:27, kom tot uitdrukking waar jy jou oor die randfigure van die samelewing ontferm.
Laat mens dink, nè.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 21

Die woord van die Here het tot Jeremia gekom toe koning Sedekia vir Pasgur seun van Malkija en die priester Sefanja seun van Maäseja na Jeremia toe gestuur het met die versoek: “Raadpleeg asseblief die Here namens ons …” (Jer 21:1-2a)

’n Mens kan amper nie glo dat koning Sedekia, ten spyte van alles, die vermetelheid gehad het om Jeremia te vra om die Here namens hulle te raadpleeg nie. En dan stuur hy boonop vir Pasgur, die einste man wat Jeremia geslaan en in die blok laat vasskroef het (Jer 20:2)! Hoe kon hy dink dat God enige tyd vir hom sou oor hê, nadat hy hóéveel dringende vermanings geïgnoreer het?
En tog. Dalk het koning Sedekia God beter geken as wat ons dink. Dalk het hy daarop gereken dat God ’n God van tweede kanse is, en derde, en vierde kanse … Daarom hoor ons, selfs op hierdie laat stadium, van die moontlikheid dat God hulle situasie kan omkeer (vers 11).
Dis hoekom ons die Here Jesus selfs in sy sterwensuur aan die kruis hoor bid om vergifnis vir sy moordenaars: “Vader, vergeef hulle …” (Luk 23:34). Daarom het Jesus gekom, ook vir jou en my, wat vyande van God was (Rom 5:8).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 20

Here, U het my omgepraat en ek het my laat ompraat. U is baie sterker as ek, U het my oorweldig. (Jer 20:7, NLV)

“Mislei” in vers 7 in die NAV is ’n ongelukkige vertaling, dink ek. Dis nie asof God Jeremia ooit onder ’n wanindruk gebring het nie. Van die begin af was dit vir hom duidelik dat God hom gaan gebruik. Tóé al (1:5-8) het Jeremia uitkomkans probeer soek, maar God se oorreding was te sterk. En nou oorweeg hy dit weer, maar steeds kan hy nie God se opdrag nie weerstaan nie. Dit vreet hom van binne af op (vers 9).
Die mense was nie meer lus om Jeremia se aanklagte te hoor nie. Hulle koggel hom in sy eie woorde (vers 10). Daarom doen Jeremia die enigste ding wat vir hom oorbly: hy wend hom na die Een wat hom gestuur het (vers 11). In God se teenwoordigheid ontdek Jeremia dat die Een wat hom oorrompel het, ook vir sy vyande te sterk is. So word sy klag by God uiteindelik ’n oorwinnigslied (vers 13).
Paulus sou later dieselfde gewaarwording hê (2 Kor 12:10). “As ek swak is, dan is ek sterk,” bely hy. Dis vandag nog steeds waar vir jou en my.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 19

Jy moet dan die pot breek voor die oë van die mense wat met jou saam is … (Jer 19:10).

Daar is ’n finaliteit in hierdie handeling wat God beveel. ’n Erdekruik wat flenters is, kan nie heelgemaak word nie. Sy bruikbaarheid is verby. Daar is niks aan te doen nie, as om die skerwe op die rommelhoop te gooi – presies waar Jeremia gestaan het.
Die finaliteit van God se aankondiging laat ’n mens ineenkrimp. Of liewer, dit behoort ’n mens te laat ineenkrimp van vrees. Die leiers van die volk en die priesters wat alles gehoor en gesien het, het egter nie gereageer nie; in elk geval nie waarvan ons lees nie. Dit was eers toe Jeremia sy aankondiging by die tempel herhaal, dat Pasgur reageer (Jer 20) – met woede.
Hierdie gebeure was ’n keerpunt. Jeremia is van toe af toenemend mishandel en op verskillende maniere die swye opgelê. Die woord van die Here bly egter geldig, of jy nou luister, jou ore toedruk, dit ignoreer, of die een wat die woord aflewer, stil maak.
Was Jeremia se optrede tevergeefs? Tog nie. Sy waarskuwings het die Jode in Babel laat besef dat die ramp wat hulle getref het, nie was omdat God onmagtig was om te help nie.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 18

Tog het my volk My vergeet en wierookoffers gebring vir gode wat nie bestaan nie … (Jer 18:15a)

Die “probleem” met geloof is dat ons nie dít wat ons glo, en Hom in wie ons glo, empiries kan bewys nie. Ons kan nie deur redenasies die bestaan van God, of die nie-bestaan van God, uitklaar nie. Daar was juis nou weer so ’n poging toe George Claassen op Netwerk24 ’n giftige meningstuk geskryf het om geloof belaglik te maak. Hy is goed geantwoord deur ’n paar stewige Christen-wetenskaplikes. Maar dié polemiek is futiel. Dit handel oor sake wat nie op gewone wetenskaplike maniere hanteer kan word nie. ’n Benadering van “sien is glo” gaan jou nie hier help nie. Dit het Jesus al vir die Jode gesê (Joh 6:30, 36; vgl Heb 11:1).
Die raaisel van die sonde is dat ons telkens hunker na bewyse vir God se bestaan. Omdat daar nie sulke bewyse is nie, máák mense bewyse (afgode), soos die Judeërs destyds (vers 15; vgl vers 9). Dié wat hulle gewete daaroor aanspreek, neutraliseer hulle (vers 18). Dit klink vir my alte veel na die taktiek van moderne god-loënaars.
Is ons geloof dan uit die duim gesuig? Nee! Christus is die onomstootlike bewys dat God lewe en ons liefhet.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 17

Maar as júlle aan My gehoorsaam is, sê die Here, en niks deur die poorte van hierdie stad dra op die sabbatdag nie, die dag heilig hou en geen werk doen op dié dag nie, sal daar altyd konings wees wat op die troon van Dawid sit en deur die poorte van die stad gaan met hulle amptenare. (Jer 17:24-25a)

Hierdie hoofstuk is ’n samestelling van uitsprake wat Jeremia gemaak het op verskillende tye in sy lewe. Sy preek oor die sabbat (vers 19 e.v.) kom waarskynlik uit ’n tyd vroeg in sy bediening, toe die belofte van redding uit die bedreiging nog geldig was. Die belofte was later in sy bediening nie meer van toepassing nie (vers 4).
Genadetyd kan verbygaan as jy jou hardkopping verset teen God se aanbod van genade. Wat my tref, is dat die volk met relatief min aanpassings hulle lewe weer in lyn met God se verwagtings kon bring. Terugdraai begin dikwels met klein, doenbare stappies van gehoorsaamheid aan God se woord. Van weer jou Bybel optel en weer begin bid, of kerk toe gaan, of by ’n kerkaksie betrokke raak.
Moenie wag vir ’n groot oomblik van radikale inkeer nie; dit kan dalk te laat wees. God se resep is: Vandag.