Hoofstuk van die dag: Jeremia 16

Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat daar nie meer gesê sal word: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte laat trek het” nie, maar: “So seker as die Here leef wat vir Israel uit die noordland laat trek het en uit al die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.” (Jer 16:14-15)

’n Mens kry verskillende soorte predikers. Daar is dié wie se “preke” só deurspek is van storietjies en Youtube-video’s dat jy daarvan wil skree. Ander probeer relevant wees deur dinge te doen wat nie in ’n erediens hoort nie. Daar is predikante wat van elke preek ’n bekeringspreek maak. In my studente-dae was daar ’n predikant wat Sondag ná Sondag op “die vreeslike dinge wat in die gemeenskap aan die gang is” gehamer het. Dan is daar weer predikante wat die besondere vermoë het om die evangelie in elke Skriflesing te mis.
Dis nie hoe Woordverkondiging behoort te wees nie. Predikante moet uitdelers van hoop wees, anders, hoe sal die hoorders draers van hoop word? God verstaan dit. Daarom, tussen al die oordeel wat Jeremia moes verkondig, was daar ook hoop (vers 15).
Jesus het dit met woord en daad geleef (vgl Heb 12:1-3). Daarom noem Paulus Hom ons hoop (1 Tim 1:1).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 15

Die Here het toe gesê: As jy jou woorde terugneem, sal Ek jou weer in my diens neem. As wat jy sê, waarde sal hê en nie onsin sal wees nie, sal jy weer namens My kan praat. Die mense moet jóú volg, nie jy vir hulle nie. (Jer 15:19)

Jeremia moes God se woorde verkondig, maar die mense hou nie daarvan nie. Hulle haal hulle verontwaardiging op Jeremia uit, asof hý die verkeerde een is. Dit word vir hom te veel. Hy neem sy ma kwalik dat hy gebore is (vers 10), en dan, byna ondenkbaar, kla hy dat God onbetroubaar is (vers 18b).
As predikant verstaan ek Jeremia se dilemma. Jy verkondig wat jy by God hoor, maar dit word nie goed ontvang nie. Wat mense wil hoor, is dat hulle op die regte pad is, maar nou kom jy en praat van inkeer en terugdraai na die Here toe. Die uiteinde is alte voorspelbaar. Jý word die skurk in hulle oë, want jy sê nie wat hulle wil hoor nie.
Dis dán dat jy kwaad en verontwaardig word, ook teenoor die Here (vers 19), en goed dink wat kon gebly het. Maar uiteindelik moet jy weer na God terugkruip en vergifnis vra. Bid tog vir jou predikant!




Hoofstuk van die dag: Jeremia 14

So sê die Here vir hierdie volk: Hulle is lief om van My af weg te dwaal [..] Daarom is Ek, die Here, hulle nie meer goedgesind nie. Ek sal hulle nou hulle sonde toereken en rekenskap van hulle eis vir hulle oortredings. (Jer 14:10)

Die volk verkeer in die uiterste ellende. Daarom doen hulle die enigste ding wat vir hulle oorbly: Hulle vlug na God toe. Hulle roep ’n nasionale biddag uit en stroom na die aanbiddingsplekke. Die volk is verenig in gebed. Hulle smeek om uitkoms.
Jy het hulle hartroerende gebede gelees. ’n Mens voel om te vra: Is dit dan nie goed genoeg nie? Wat wil God dan nog verder hê moet hulle sê? Hulle beroep hulle op God se trou, sy verbond, sy Naam, sy eer, sy hulp in die verlede. Die Here is egter nie geroer of geraak nie (vers 10).
Die probleem was: Hulle doen dit omdat daar nood is, nie omdat hulle berou het oor hulle sonde nie. Skuldbelydenis is nie bloot ’n resep om te verseker dat die Here sal help nie. Verootmoediging vra ’n gebroke hart en ’n verslae gees. Berou wat nie uitloop op ’n hartsverandering en gevolg word deur ’n bekeerde lewe nie, is van geen waarde vir God nie.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 13

Ja, soos die lendedoek om die heupe van ’n man vassit, so het Ek die hele huis van Israel en die hele huis van Juda aan My laat vassit,’ is die uitspraak van die Here, ‘om vir My ’n volk te wees, ’n roem, ’n lof en ’n sieraad. Maar hulle het nie geluister nie.’ (Jer 13:11)

Die simboliese handeling wat God Jeremia laat doen, spreek eintlik vanself. Hy moet ’n nuwe lendedoek koop en om sy lyf dra, en dit dan by die Perat-rivier gaan wegsteek (die NAV en OAV sê Eufraat, maar dit sou ’n reis van 800 km of meer beteken). Ná ’n tyd moes hy dit weer gaan haal, net om te sien dat die lendedoek gevrot het en nutteloos geword het.
In vers 11 verduidelik God sy simboliek. Israel en Juda was aanvanklik naby aan Hom, en Hy het hulle bewaar en digby Hom gehou. Maar sedert hulle afgedwaal het na afgode, is die band tussen Hom en sy volk verbreek en is God se beskerming tot niet.
Solank jy naby die Here bly, beskerm Hy jou teen verleiding en is jou lewe vir Hom ’n sieraad (vers:11). Maar as jy die band tussen jou en die Here losmaak, gee jy dit alles prys.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 12

As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop? (Jer 12:5)

Sy roeping as profeet is besig om Jeremia onder te kry. In vers 1-4 bekla hy sy lot by die Here. Dis reg dat God die goddelose straf, en daarvoor bid hy, maar hoekom moet hý swaarkry? Hy lewe immers naby aan die Here (vers 3).
Ons kry hierdie soort klag op verskillende plekke in die Bybel. Dink maar aan Abraham, wat op die Here se roepstem sy land en mense gelos het en die onbekende ingetrek het, net om vir jare kinderloos te bly (Gen 15:2). Of Josef in die tronk. Of Dawid, op vlug vir Saul. Dis mense wat ontdek het dat God se pad vir hulle glad nie so blink is nie. Selfs Paulus het daarmee geworstel (2 Kor 12:7-8; vgl Hand 28:15b). En natuurlik die Here Jesus in Getsemane!
Dalk het jy ook al so gevoel. Dis deel van ons navolging van Christus, om ons kruis op te neem en Hom te volg. Soms, as jy so voel, kom die Here met troos en bemoediging, maar ander kere moet jy eenvoudig besef dat vasbyt die enigste manier is. Dit was God se antwoord aan Jeremia (vers 5). Kyk ook na Rom 5:3-5.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 11

Maar hulle het nie geluister nie, nie daarop ag geslaan nie; elkeen het koppig bly volhard in sy sonde. (Jer 11:18)

As ’n mens lees hoe God by monde van Jeremia die volk voortdurend vermaan en waarsku, sonder enige gunstige reaksie van hulle kant, wil jy jou hande saamslaan. Veral ook as jy dit vergelyk met die mense van Nineve, wat ná ’n baie onlustige en oninspirerende preek van Jona, hulle hartgrondig bekeer het van hulle verkeerde dade (Jona 3). Op grond van Jona se preek het hulle tot inkeer gekom, terwyl die volk van God hulle ongeroerd aan Jeremia se pleitdooie afgevee het.
Ons kry hier ’n klein kykie in hoe God oor die mense van Juda voel. Sy teleurstelling en hartseer is duidelik. Dit is immers sý volk (vers 4) oor wie Jeremia die oordeel moet aankondig. In vers 15 gaan Hy verder: dis sy volk wat Hy liefhet, sê Hy, en in vers 16 vertel God hoe Hy die volk soos ’n olyfboom geplant en vertroetel het. Dis sý mense wat Hom so diep teleurstel. Later sou Jesus ook hierdie hartseer en onbegryplike verwerping ophaal (vgl Matt 12:41).
God het nie ’n hart van klip nie. Hoe ons leef, raak Hom diep.