Hoofstuk van die dag: Jeremia 10

Hulle is almal gekke en dwase, want ’n stuk hout kan vir ’n mens niks leer nie. (Jer 10:8)

Jeremia onderbreek sy aankonding oor die dreigende inval uit die Noorde met ’n kort himne (vers 1-16) waarin hy die onsinnigheid van afgodsdiens beskryf en dit teenoor die lewende, ware, almagtige God stel.
Afgodsdiens was egter nie net ’n verskysel in Ou Israel nie. Dit is steeds met ons. Dit is wanneer jy jou wegdraai van die lewende God af, en jou na iets wend wat die plek van God in jou lewe inneem. God as die Skepper word verwerp, terwyl jy die mag en gesag wat God alleen toekom, aan ’n geskape ding gee.
Só gesien is afgodsdiens eintlik ’n manier om die Een wat die ware gesag en mag in jou lewe behoort te hê, te ontwyk.
Enige iets kan ’n afgod word, selfs in ons godsdiens. Mý kerk en kerklike tradisies, mý onfeilbare Skrifverstaan … Enige iets wat my kan help om die spanning en eis van ’n persoonlike ontmoeting met die Almagtige God te ontwyk, kan ’n vorm van afgodsdiens word.
Hierdie afgodsdiens is nie net so sleg soos die afgodsdiens wat Jeremia veroordeel nie; dit is baie erger, want ons behoort van beter te weet.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 9

”Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die Here is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde.” Dit is die uitspraak van die Here. (Jer 9:24, 2020-vertaling)

Ons dink iemand het aangekom as hy of sy geleerd is, tot die adelstand behoort, ryk is, invloedryk is, of ’n superster is in die vermaaklikheidbedryf. In Jeremia se dae was dit nie anders nie. Wysheid, mag en rykdom was destyds ook kriteria waaraan mense gemeet is (vers 23). Jeremia waarsku dat dit alleen nie grootsheid bring nie. Ware grootsheid lê daarin dat jy God ken en soos Hy wil wees; en daarom jou vreugde vind in dit wat vir Hom belangrik is: troue liefde, reg en geregtigheid. Dis hoe God is, en dit is die kwaliteite wat tel – troue liefde, reg en geregtigheid, in skrille kontras met dit wat die wêreld najaag.
In 1 Kor 1:25-31 sluit Paulus in soveel woorde by hierdie uitspraak van Jeremia aan (vgl ook 2 Kor 10:17-18). Geleerdheid, wysheid of aansien volgens wêreldse terme tel nie punte by God nie. Om met Christus verenig te wees – dís waarop ons moet fokus (1 Kor 1:30).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 8

Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie ’n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie? (Jer 8:22)

Jeremia beskryf in vers 4-12 ’n ongehoorde situasie: die volk bly hardnekkig op ’n afvallige pad, al verder weg van God af. Hulle kry nie die kloutjie by die oor nie – dat die dreigende inval van Babel die straf op hulle sonde en afvalligheid is. Hulle dink hulle het tevergeefs op die Here vertrou, en waarsku die mense om in die versterkte stede te gaan wegkruip (vers 14-16).
Jeremia ween ook oor die ramp wat op hande is; nie net oor die verwoesting wat oor die volk gaan kom nie (vers 21), maar veral oor hulle gebrek aan insig en begrip (vers 22). Dis soos ons dikwels sê: daar is nie pille vir onnoselheid nie. Daar is nie medisyne of ’n dokter wat die volk kan help nie, want hulle is blind en doof vir die werlikheid waarin hulle hulleself gedompel het. Dit herinner sterk aan Jesus se woorde met sy laaste intog na Jerusalem, toe Hy gehuil het oor die mense se blindheid vir God se verlossingswerk onder hulle (Luk 19:41-44).
Selfbeheptheid maak jou blind en doof vir God se leiding.




Hoofstuk van die dag: Jeremia 7

Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, […] en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: “Ons is veilig” nie!_(Jer 7:9-10)

Hoe jy in die week leef en optree teenoor ander, is net so belangrik as hoe jy op Sondae in die kerk optree. Die twee kan nie los van mekaar staan nie. Anders gestel: naastediens is net so belangrik soos erediens. As dit wat in die erediens gebeur, nie korreleer met hoe jy van dag tot dag leef nie, is jy besig om jouself te bedrieg. Dís die boodskap wat Jeremia aan die volk wat tempel toe gekom het, moes bring.
Dit was natuurlik ook Jesus se boodskap. Lees gerus sy woorde oor die laaste oordeel in sy profetiese rede (Matt 25:31-46).
Só ontsteld is God oor wat gebeur, dat Hy Jeremia belet om langer vir die volk te bid. Daar kan ’n tyd kom dat gebede nie meer help nie. Dit was God se boodskap aan Saul ook (1 Sam 15:22). By só ’n punt is diepgaande berou en bekering, terugdraai na God en wegdraai van die kwaad, al wat jou kan red van God se oordeel (vers 3, 7, 23).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 6

Ek is met die woede van die Here vervul; ek is moeg daarvan om my in te hou. (Jer 6:11a, 2020-vertaling)

Die situasie in Jerusalem was bedenklik. Die geestelike leiers praat die volk na die mond (vers 14), al is die land deur en deur korrup (vers 13). Daar is geen skaamgevoel meer oor nie (vers 15).
In hierdie haglike omstandighede moes Jeremia die stem van die Here wees. Selfs tóé was daar nog geleentheid vir omdraai (vers 8, 16). As iemand net wou luister!
Uiteindelik bring dit Jeremia by breekpunt. Hy kon dit nie meer verduur nie (vers 11a, NAV).Hy wou oopbars, só erg brand die woede van die Here in hom. Hy bid dat jonk en oud, kinders en grysaards, deur die toorn van die Here verteer word (vers 11b).
Dalk was jy ook al daar: só ontsteld en magteloos omdat niemand hulle aan God en sy gebod steur nie, dat jy die wraak van God oor mense wil afbid, soos Jakobus en Johannes wou doen met die Samaritaanse dorp (Luk 9:54). Onthou dan dat dit nie ons taak is om te oordeel nie. Ons roeping is om liefde te bly gee. God sal op sy eie goeie tyd regspreek (vgl Rom 12:19).




Hoofstuk van die dag: Jeremia 5

… die profete tree vals op, die priesters regeer met hulle eie gesag, en my volk hou daarvan! (Jer 5:31)

Die Here se uitspraak in vers 1 herinner sterk aan sy gesprek met Abraham, toe Hy aangekondig het dat Hy Sodom en Gomorra gaan verwoes. Abraham pleit by God om die stede te spaar as Hy daar selfs net tien regverdiges kry, maar daar was nie eers dié klein getal nie (Gen 18:32-33; 19:24-25). Nou verklaar God aan Jeremia dat as daar selfs net één is wat reg doen, sal Hy die stad vergewe (vers 1). Maar – helaas – daar was niemand. Van die geestelike leiers tot by die gewone mense was daar net afvalligheid (vers 4-5).
Die situasie (vers 31) herinner aan talle sg. kerke (kultusse?) vandag, waar die geestelike leier(s) met die afskuwelikste misleiding en ander vieslike sondes wegkom, soos dit nou weer aan die lig gekom het oor TB Joshua se kultus in Nigerië. Hy het mense verblind, sodat selfs aanranding en verkragting vir hulle aanvaarbaar was.
Die Franse filosoof Voltaire het gesê mense sal enige iets glo as dit in die gedaante van godsdiens aan hulle opgedis word. Pasop! Satan doen hom voor as ’n engel van die lig (2 Kor 11:14).