Hoofstuk van die dag: Job 29

Kon dit maar weer met my gaan soos lank gelede, soos in die dae toe God nog sy hand oor my gehou het … (vers 2)

Job verlang terug na die goeie ou dae, toe hy voorspoedig was en hy dit beleef het dat God by hom is. Al wat hy nou het, so het hy gedink, is ’n klomp Jobstroosters wat sy ellende vererger met hulle verdoemende uitsprake.
Dalk was jy ook al (of is jy nou) daar. Jy wens dit kan weer gaan soos destyds toe jy gelukkig was en ’n vol lewe gehad het. In sulke tye moet jy onthou:
• Sukses (vers 2-6) is nie noodwendig ’n teken dat God by jou is nie, of teëspoed dat God ver weg is of teen jou is nie. Job sou later ontdek dat uiterlike omstandighede nie noodwendig ’n bewys is van God se werk in en deur jou lewe nie.
• Hoe belangrik is die waardering van ander (vers 7-11), of wat jy vir ander beteken (vers 12 e.v.), vir jou? Is dit hoe jy God se goedkeuring oor jou meet?
• Wanneer is jy die naaste aan God? In jou voorspoed, of as jy platgeslaan is? Job het God in voorspoed én teëspoed geëer (1:1-3 en 2:10). Jy kan ook.




Hoofstuk van die dag: Jesaja 66

Ek sal van hulle as priesters en Leviete aanstel, sê die Here. (vers 21)

Een van die groot faktore wat spanning in die wêreld veroorsaak, is rassespanning. Mense van verskillende rasse, tale, agtergrond en kulture sukkel om mekaar te verstaan en te vind. En tog het God ons almal geskep, en ons word almal geroep om aan Hom gehoorsaam te wees.
Jesaja voorspel ’n tyd wanneer al die spanning opgehef sal wees; ’n tyd wanneer die belofte van God aan Abraham en Sara in vervulling sal gaan en al die volke van die aarde geseën sal wees (Gen 12:2-3). Mense van nie-Joodse afkoms sal selfs priesters en Leviete wees (Jes 66:21). Later sien Johannes in ’n hemelse visie hoe mense uit elke stam en taal en volk en nasie saam die Here aanbid (Op 5:9-10).
Dís hoe dit eendag in die hiernamaals sal wees – ’n harmoniese saambestaan voor God. En ons, die kerk, word geroep om nou al ’n venster te wees waardeur die mense van ons dag iets van die hiernamaals kan sien. Dis tog hoekom ons bid: “Laat u koninkryk kom!” (Matt 6:10)
Dit is hoog tyd dat iets van die hemelse harmonie in ons verhoudings sigbaar word!

 

Ns. Ons gaan (DV) môre voort met die lees van die boek Psalms. Ons lees Psalm 61.




Hoofstuk van die dag: Jesaja 65

Daarom, so sê die Here my God, sal my dienaars genoeg hê om te eet, maar julle sal honger ly … (vers 13a)

Een of ander tyd gebeur die onvermydelike: daar kom skeiding. Nie almal wat nakomelinge van Abraham is, sal dit maak nie, sê die profeet. Daar kom ’n tyd wanneer “ons” en “julle” nie meer een sal wees nie, wanneer die dienaars deur God versorg sal word, terwyl die afvalliges (vers 11) eenkant toe gestoot sal word.
Dit is pynlik om dit te lees en ook te ervaar – mense wat altyd deel van “ons mense” was, is dit nie meer nie. Oud-teoloë, sien ek al meer, wat nou “post-teïsties” geword het en die geloof en godsdiens agtergelaat het. Gewese lidmate wat nie meer saam aanbid nie.
Kom ek sê dit reguit: die Afrikaner-volk is lank nie meer ’n gelowige volk nie. Te veel het die geloof verlaat en God agtergelaat, God se smekende pleidooie ten spyt (vers 2 en verder). Dis natuurlik nie waar van almal nie. Daar is steeds “dienaars” wat aan God getrou gebly het. Hulle sal ’n nuwe toekoms (vers 15b) van God ontvang.
Dalk het dit tyd geword dat ons, soos God, ophou probeer om almal te paai en in te sluit.




Hoofstuk van die dag: Jesaja 64

U was kwaad vir ons, want ons het gesondig. Ons het so lank daarmee aangehou, hoe kan ons dan nog gered word? (vers 5b)

Ons het hier een van die aangrypendste klaagliedere van die Ou Testament te make. Dit is ’n gebed tot God om hulp; ’n gebed dat God sy volk nie aan hulle lot moet oorlaat nie, nie in hulle sondes moet los nie, maar met magtige dade, soos in die verlede, hulle weer te hulp moet kom (vers 1).
Dalk vreet die onsekerheid aan jou ook, soos aan die digter – want dalk is daar ’n afsnypunt vir God se genade? Dalk het jy te lank aangehou en jou kanse verspeel.
En tog! ’n Gelowige wat in die Vader veranker is, kan nooit ophou hoop nie. Ons is immers die klei in die hande van die hemelse Pottebakker (vers 8). Selfs al wéét jy jy het jou kanse opgebruik. Selfs dan mag jy, móét jy, met hoop na God roep soos Jesaja. Want gelukkig is God nie soos ons nie. Hy kom elkeen tegemoet wat met vreugde doen wat reg is, wat op sy paaie aan Hom bly dink (vers 5a, 2020-vertaling).




Hoofstuk van die dag: Jesaja 63

In al die nood het Hy ook nood beleef. Hy was die engel wat hulle toe gered het. In sy liefde en genade het Hy hulle gered. Hy het hulle opgetel en gedra soos in die vroeë dae. (vers 9, NLV)

Dit gebeur ongelukkig heeltemal te maklik dat ons só met onsself worstel, ons tekortkoming, ons laksheid, ons eie sondigheid, dat ons kan vergeet oor wie dit eintlik gaan in ons geloof. Of anders gestel, waaroor dit gaan in ons godsdiens. Natuurlik gaan dit oor God, dink jy seker nou verontwaardig. Maar dis ongelukkig nie so eenvoudig nie. Ons godsdiens vervlak maklik in ’n kultuur-ding, waar die kerk-kultuur en volkskultuur belangriker is in ons denke as wat God is.
Dit was wat in Jesus se tyd gebeur het. Vir die Jode destyds het dit oor godsdiens gegaan, oor reëls en wette, en nie oor die vraag na God nie.
Dink jy genoeg oor God? Oor Hom as ’n lewende Drie-eenheid? Wat nood beleef saam met jou? Wat in nood is omdat dinge verkeerd gaan met sy kinders?
Dit gaan immers uiteindelik, in finale instansie, oor God en ons verhouding met Hom. As dit nié so is nie, het ons die spoor byster geraak.




Hoofstuk van die dag: Jesaja 62

Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie. Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het, totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het. (vers 6b-7)

Hoekom word ons opgeroep om te bid en die Here aan sy beloftes te herinner? Nie omdat ons, soos in Jesaja se tyd, bang is dat God ons dalk vergeet het nie. Ons herinner die Here aan sy beloftes omdat ons verlang na die dag wanneer Hy alles en in almal sal wees, dié dag wanneer elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely: “Jesus is Here!” tot lof van die Vader.
Iemand wat ontdek het dat Jesus die Hoop van die wêreld is, só iemand kan nooit ophou droom en verlang en bid en werk sodat ander dit ook sal ontdek nie. Want Christus het tog nie mens geword net sodat ek en my huis verlos kan word nie. Hy het mens geword vir ’n wêreld in nood, ’n wêreld sonder God en sonder hoop. Dáárom moet ons die Here aan sy beloftes herinner en nie stilbly nie!
Verlang jy, droom jy van die dag wanneer Christus weer sal kom om alles nuut te maak?