Hoofstuk van die dag: Job 42:7-17

Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. (vers 7)

Elifas, Bildad en Sofar was nie kwaadwillig in hulle gesprekke met Job nie, en het by alles wonderlike dinge oor God gesê. Maar hulle was verkeerd in hulle beoordeling van die situasie, en té stellig oor wat hulle geglo het die waarheid is. Hulle goeie bedoeling om God se eer te verdedig, het nie hulle verkeerde konsepsies reg gemaak nie.
Ek dink dis vandag steeds ons probleem. Mense probeer God se eer verdedig in wat hulle glo die waarheid is. In die proses val hulle ander aan en raak selfs beledigend oor wat hulle beskou as dwaling. Hulle is doodseker hulle is reg, en die ander ook weer op hulle beurt. Dis wat tans in die NG Kerk aan die gang is, met vernietigende gevolge.
Ons het eenvoudig nie al die wysheid in pag nie, en moet daarom liewer ons woorde (en oordele) tel. Dis wat die boek Job my geleer het. Geduldig wees en troos, eerder as heilige verontwaardiging. Só help ons as gelowiges mekaar.

Naskrif: Môre begin ons weer Romeine lees.
Naskrif 2: Ek en Elmien is tans in Sydney, Australië, vir die geboorte van ons jongste dogter se eerste baba. Ek is onseker hoe dit my skrywery sal raak. Dit kan wees dat ek nie noodwendig elke dag ’n stukkie sal kan skryf as die baba eers gekom het nie, en ek vra by voorbaat daarvoor verskoning. Dankie vir julle begrip.




Hoofstuk van die dag: Job 40:1 – 42:6

Wie wil aan Mý eise stel dat Ek iets aan hom verskuldig is? Alles onder die hemel behoort aan My. (41:2)

In hierdie tweede diskoers wys God vir Job hoe mateloos arrogant hy is om selfs te dink dat hy met God kan meeding in ’n stryd. Hy kan nie eers die trotsaards en goddeloses onderwerp nie (40:5-9), wat nog te sê die magtige seekoei en krokodil tem (40:27-28). En hulle is skepsels van God. Hý het hulle gemaak. Dit is belaglik dat Job kan dink hy kan op gelyke voet met God meeding.
Uiteindelik sien Job die waarheid in. Hy erken dat hy oor dinge probeer praat het wat hy nie begryp het nie (42:3). Hy ken slegs ten dele, maar hy het geredeneer soos iemand wat alles weet. Daarom bely hy in diepe berou (42:6) sy skuld oor sy arrogansie en hubris voor God.
Job het geen rasionele antwoord op sy probleem gekry nie, maar besef duidelik, God self is groter as ’n antwoord. Hy beleef dat God hom omvou ten spyte van teenspoed, en hy kan weer lewe en rus beleef.
Daar is vandag nog mense wat probeer om die misterie van God te ontrafel. Dit bring hulle nóg by God nóg by gemoedsvrede uit.




Hoofstuk van die dag: Job 38-39

Toe het die Here vir Job aangespreek uit ’n stormwind uit … (38:1)

Uiteindelik verbreek God die stilte. Hy doen dit in twee groot diskoerse (Job 38 – 39, en 40 – 41). Hy reageer nie op Job se aantygings nie, maar Hy bevind Job ook nie skuldig (soos die vriende gemeen het Hy sal doen) nie. Hy praat oor die skepping en stel ’n reeks vrae aan Job wat Hy weet Job onmoontlik kan antwoord. Daarmee onderstreep Hy die feit dat Job geensins insig in God se verborge raad het nie. Só sit Hy Job op sy plek. Kyk bv na God se spottende opmerking in 38:21: “Jy moet dit weet, jy wat maak of jy toe al gebore was, of jy ’n lang lewe agter die rug het.” Job verstaan nie die binnewerke van die skepping nie (38:4-38). Job is ook nie die een wat die wilde diere versorg nie (39:1-33). Die wêreld kom heel goed klaar sonder die mens se toedoen!
Hierop bly Job liewer stil (38:37-38). Hy het nog baklei in hom, maar besef hy is nie opgewasse vir ’n geveg teen God nie. Daarom lê hy hom neer voor God se alwysheid. Eers later (42:3) sal hy sy eie dwaasheid bely.




Hoofstuk van die dag: Job 36-37

Ja, dit staan vas: My woorde is nie leuens nie; iemand met volmaakte kennis is hier by jou. (36:4, 2020-vertaling)

’n Mens is so half verslae as jy lees hoe Elihu oor homself dink. Hy beskik oor volmaakte kennis (36:4)! Dis niks anders nie as matelose hubris. Dit is jammer, want baie van wat hy sê, maak sin. Sy beskrywing van God se verhewenheid en almag, soos dit in die skepping duidelik blyk, is aangrypend mooi (36:26-33). Sy raad aan Job is dat hy moet toelaat dat die skeppingswonders hom sal ontroer voor God (37:14), eerder as dat hy God se plan met sy lewe bevraagteken.
Die probleem met Elihu se betoog is dat hy hoegenaamd nie Job se wroeging verstaan het nie. Job het nog nooit God se almag en grootheid bevraagteken nie (vgl 9:10); sy vraag lê by sy eie situasie, en hoe dit rym met God se regverdigheid. So mis Elihu die punt.
Voordat jy aan ’n ander raad kan gee, moet jy jou eers in sy of haar situasie probeer indink en die probleem probeer verstaan. Daarsonder slaan jy die bal mis en is jou raad misplaas en afbrekend. Veralgemenings en slimmighede oor God help niemand wat in ’n spesifieke nood verkeer nie.




Hoofstuk van die dag: Job 35

… as jy sondig, wat doen dit aan God, as jy baie keer oortree, hoe raak dit Hom, as jy sonder sonde is, wat baat dit Hom, wat kry Hy van jou? Jou sonde raak jou medemens en jou onskuld raak jou medemens. (vers 6-8)

Elihu verstaan nie God se hart nie. Ons sonde raak nie nét ons medemens nie (dit natuurlik ook); ons sonde breek God se hart. Die hele verhaal van die Bybel skreeu dit uit. Jy hoef nie verder as Gen 3 te lees om dit te verstaan nie. Dawid beskryf dit goed in Ps 51. Dis nie vir Hom om ’t ewe of ons Hom dien of nie dien nie; trouens, ons sonde en sondigheid het Hom uit die hemel laat afkom om ons daarvan te verlos (Rom 3:23-24). Daarom was daar ’n kruis op Golgota (vgl 2 Kor 5:21).
Die probleem met Elihu se denke oor God was dat hy oor Hom geteoritiseer het, sonder dat hy aan Hom as ’n lewende, handelelende God gedink het wat in Jesus ons Vader geword het. Dan word God die soewereine, absolute Beginsel, en laat jy Hom nie toe om in jou lewe betrokke te wees nie. Dís nie die God van die Bybel nie!




Hoofstuk van die dag: Job 34

Elihu het voortgegaan: “Hoor wat ek te sê het, julle wat die wysheid het, luister na my, julle wat die kennis het. (vers 1-2)

Elihu het die hele karakter van die vriende se gesprek met Job verander. Waar hulle hom vermaan het en probeer oortuig het van hulle siening van vergelding, neem Elihu die gesprek na die stadspoort en begin ’n hofsaak teen Job, waar die stadsvaders die jurie is (vers 2). Volgens hom is Job se argumente soos dié van die goddelose mense, en hy hoop sonde op sonde tussen hulle op (vers 36-37). Boonop beweer hy dat Job sou gesê het dit baat ’n mens niks om die wil van God te doen nie (vers 9). So verdraai hy Job se woorde om sy regsaak te wen.
Wat Elihu met hierdie regsaak probeer, is om God se eer te verdedig en vir Job as skuldige uit te wys. Dis natuurlik ’n totale miskonsepsie om te dink God het mense soos Elihu, of enige iemand anders, nodig om vir Hom op te kom. Hy kan sy eie sake behartig, en doen dit ook. Dis nie ons taak om God se handelinge te probeer verdedig nie. Ons kan dit gerus onthou as iemand God se besluite bevraagteken.