Hoofstuk van die dag: Job 25 – 26

Met wie se hulp het jy gepraat? By wie het jy gehoor wat jy gesê het? (26:4)

Dis duidelik uit Bildad se “antwoord” op Job se rede dat hy geensins geluister het wat Job sê nie. Daarom raak Job kwaad en sarkasties oor Bildad se gebabbel, wat net al om die een draai is. CJ Langenhoven het gesê: “Wat ek van Job die meeste bewonder is nie die geduld wat hy onder sy teëspoed betoon het nie, maar dié wat hom gekeer het dat hy sy drie vrinde nie één vir één by die deur uitgeskop het nie.”
Job se vraag in 26:4 impliseer dat Bildad ook nie na God geluister het voordat hy hom kom leer het nie. Later erken Job dit van homself ook (42:3). Ons kan dit gerus ter harte neem. Wanneer ons iemand wil help of raad gee, moet ons seker maak ons doen dit vanuit ons verhouding met God, en dat jy Hom reg gehoor het. Anders kan jou woorde harteloos en selfs brutaal klink, soos Job se vriende se woorde was.
Paulus skryf in Kol 4:6 (2020-vertaling): “Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om ’n ieder en ’n elk te antwoord.”




Hoofstuk van die dag: Job 24

Waarom stel die Almagtige nie tye vas vir afrekening nie? Waarom moet dié wat Hom ken, tevergeefs uitsien na sulke dae? (vers 1)

Job se frustrasie (sien gister) lê ook in die feit dat God skynbaar nie die goddelose kortvat in hierdie lewe nie (vers 1), ondanks die feit dat hulle die kwesbaarstes in die samelewing vertrap. Daar kom wel ’n tyd van afrekening ná die dood (vers 24), maar tot dan maak en breek hulle soos hulle lus het.
In “Robinson Crusoe” deur Daniel Defoe gesels Robinson en Man Friday op ’n keer oor sonde en straf, en Man Friday wil weet, soos Job: Maar hoekom straf God nie die sondaars nie? Waarop Robinson antwoord: “En sê nou Hy begin by ons?”
Inderdaad. Dis maklik om God se wraak oor ander af te bid as jy vergeet dat jy self óók voor Hom sal moet verskyn. Buite Christus om is ook ons doemwaardig, al wil ons graag die splinters in ander se oë uitwys (Matt 7:3).
Petrus (2 Pet 3:9 ) skryf die uitstel van God se oordeel toe aan sy genade; Hy gee mense tyd om hulle te bekeer. Laat ons dit onthou voor ons die helse vuur op ander afbid. Los dit by God. Hy weet die beste.




Hoofstuk van die dag: Job 23

As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel. (vers 3-4)

’n Mens kan Job se frustrasie verstaan. Hy wou sy saak voor God stel, maar hy weet nie waar om Hom te kry nie. Interessant dat Job só seker is van sy onskuld dat hy selfs bereid was om voor die lewende God te verskyn, en dit terwyl God ontoeganklike lig bewoon (1 Tim 6:16; Eks 33:20). Jesaja het gedink dis klaar met hom toe hy God gesien het (Jes 6:5; vgl Op 1:17).
Ons het gelukkig nie meer daardie probleem nie, want Jesus het die kloof tussen ons en God kom oorbrug. In Hom het God sigbaar geword. Hy het self gesê: “Wie My gesien het, het die Vader gesien”(Joh 14:9). Hy is die beeld van God (Kol 1:15, Heb 1:3).
Meer nog: Hy het nie net God vir ons sigbaar kom maak nie; Hy het ook ons saak voor God besleg (2 Kor 5:21) en só die weg na die Vader oopgemaak, sodat ons sonder skroom voor Hom kan staan (Heb 10:19-20; vgl Rom 5:1-2). Én Hy tree vir ons in by die Vader (Rom 8:34)!




Hoofstuk van die dag: Job 22

As jy terugkom na die Almagtige toe, sal jy herstel word. (vers 23)

Elifas se “preek” laat my dink aan ’n erediens wat ek as hoërskoolkind bygewoon het in die destydse Suid-Wes. Ons het met ’n karavaan getoer. Een naweek het ons op ’n kusdorp oorgestaan, en is daardie Sondagaand oudergewoonte kerk toe. Dit was in die winter-vakansie, en dit was net ons sewe (’n gesin met vyf kinders), die dominee, die koster en die orrelis in die kerk; geen ander mense nie. Die dominee het ’n ernstige bekeringspreek afgesteek. My predikant-pa het later sy Bybel gevat en daaruit begin lees terwyl die dominee preek. Op pad terug na ons karavaan het my pa opgemerk dat die dominee darem moes gedink het wie in die kerk sal wees voor hy sy preek gemaak het.
Elifas moes gewéét het sy preek is misplaas. Maar in plaas van simpatie beskuldig hy Job van aaklige goed (vers 5-10), soos die dominee se oordeelspreek vir die stomme besoekers in sy kerk.
Iemand het gesê jy kan nie iemand in die hemel injaag deur hom bang te maak vir die hel nie. Jesus se boodskap was immers telkens ’n uitnodiging om by Hom rus te kry (Matt 11:28-30). Dís hoe ons mense kan bereik.




Hoofstuk van die dag: Job 21

Maar tog is dit hulle wat vir God sê: ‘Laat staan ons, ons weier om u wil te ken. Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? Watter nut het dit om Hom te aanbid?’ (vers 14-15)

Ons ken almal mense wat hulle nie steur aan God en sy gebod nie, en tog lewe hulle voorspoedig. Dan sê ons hy of sy kom met moord weg. In Bybelse tye het mense ook daaroor gebrom. Lees gerus Mal 3:14-15. Jesus het self daarna verwys in Matt 5:45, waar Hy sê ons hemelse Vader laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en dit reën op regverdiges en onregverdiges.
Dié feit trek natuurlik ’n streep deur die soort redenasies van Job se gespreksgenote.
Vir ons sin vir geregtigheid is dit eenvoudig verkeerd. Ons wil hê dit moet met die goddelose sleg gaan, en die vromes (óns!) moet geseën word. Is ons dan nie God se kinders nie?
Die fout wat ons maak, is om God se seëninge in materiële voorspoed te soek, terwyl dit eerder op geestelike gebied lê – die geborgenheid en troos van aan God te behoort (HK vraag 1); die ewige lewe en dat niks of niemand ons uit Gods hand kan ruk nie (Joh 10:28-29 en Rom 8:38-39).




Hoofstuk van die dag: Job 20

Jy weet tog dat die vreugde van die goddelose van korte duur is, dat die blydskap van die godlose net ’n oomblik duur? (vers 5)

“The good ended happily, and the bad unhappily. That is what fiction means,” skryf Oscar Wilde in “The Importance of Being Earnest”. Ons wil almal hê dis hoe die lewe moet wees, maar Wilde sê dis net in fiksie so. Dis nie hoe die lewe regtig is nie (soos Job in 21:6 e.v. uitspel).
Sofar se basiese denkfout is dat hy die uiteinde van goddelose mense in die hier en nou wil laat gebeur. Dit was ook Asaf se frustrasie in Ps 73, waar hy die voorspoed van die goddelose skets, en sy eie ellende ondanks sy vroom lewe. Talle boeke en artikels is al oor hierdie onderwerp geskryf – hoekom slegte goed goeie mense tref. Dit maak nie vir ons sin nie, en dan dink ons God is onregverdig. Hy behoort mos die goddelose te straf en die goeie mense te seën, soos Sofar redeneer.
Sofar se logiese afleiding is dat Job godloos is, daarom straf God hom. Vir hom is die lewe eenvoudig en duidelik. Dat dit ’n vals afleiding is, is duidelik uit die dood van Jesus, of die lewe van ’n Paulus.