Hoofstuk van die dag: Job 19

Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! (vers 25)

Job praat oor hoe sy lewe geword het. Hy voel van God vervreem; trouens, dit voel vir hom of God hom aanval (vers 7-12). Sy bestaan het ’n lewende hel geword. Hy laat ons so ’n klein stukkie van sy fisieke toestand en lyding sien (vers 17, 20), en hoe hy ’n aanstoot geword het vir almal wat vir hom lief en dierbaar is (vers 13-19). Maar in plaas van medelye dra sy “troosters” by tot sy lyding (vers 1-5, 22). Hy is ’n eensame verworpene.
En tog klou Job aan God vas, ten spyte daarvan dat hy God as vyand ervaar. Hy is oortuig daarvan dat God, wat hy tot sy afgryse as ’n vyand ervaar, steeds regverdig sal wees, al beleef hy Hom op die oomblik nie só nie (vers 25-27). Job praat nie net van sy persoonlike verlossing nie; dit gaan vir hom ook oor God se heerskappy op die hele aarde, en dat alles uiteindelik onder sy heerskappy sal kom.
In Jesus het hierdie geloof van Job ’n werklikheid geword. Hý tree vir ons in by God (Heb 7:25); aan Hom het God alles onderwerp (Ef 1:22; vgl. Kol 1:15-20).




Hoofstuk van die dag: Job 18

Hoe lank gaan jy nog aanhou praat? Kom eers tot ander insigte dan kan ons verder praat. (vers 2)

Bildad se tirade laat ’n mens eintlik sprakeloos. Hy is onverbiddelik in sy standpunt dat teenspoed God se oordeel oor ’n sondige lewe is, en voorspoed volg as God jou lewe goedkeur. Geen ander standpunt kan oorweeg of geduld word nie. Daarom moet Job sy siening verander, anders gaan hulle nie mekaar vind nie (vers 2).
Bildad hou vol dat daar vir die goddelose geen toekoms is nie, wat natuurlik natuurlik ’n Bybelse waarheid is (vers 5 e.v.; kyk gerus na Ps 73:17b-20). Die groot fout wat hy egter maak, is dat hy Job as ’n goddelose beskou. Maar Job is nie goddeloos nie. Daarom is sy veroordeling nie op Job van toepassing nie.
Ons kan baie uit Bildad se woorde leer, en die belangrikste is dat ons nooit ooit op só ’n manier iemand mag probeer reghelp nie. Uitskel en slegsê bereik buitendien niks. ’n Mens praat eenvoudig nie so met iemand nie, ongeag die omstandighede. Dit is soos outydse vuur-en-swael bekeringspreke, waarin die luisteraars só gekasty is dat hulle omtrent nie anders kon nie as om tot bekering te kom. Ons God is gelukkig meer genadig as dit!




Hoofstuk van die dag: Job 17

Ek is gedaan, my tyd is verby, net die graf bly vir my oor. (vers 1)

Job is ’n gebroke man. Hy het nie net sy familie, besittings en gesondheid verloor nie; ook die laaste bietjie trots wat hy nog gehad het, is van hom gestroop (vers 6). Op aarde het hy niemand meer om hom by te staan nie, maar in die hemel wel (vers 19). Daarom pleit hy dat God vir hom ’n borg moet wees en hom uithelp in sy nood (vers 3). Net God kan hom nog help.
Daar is vir Job niks oor om voor te lewe nie (vers 11), en tog … Hoewel Job eintlik wens dat alles net verby sal gaan en hy die rus van die dood sal ervaar, is hy tog bang dat die hoop dat God sal antwoord daarmee ook sal sterf, en saam met hom na die doderyk toe sal afgaan (vers 16). In sy donkerste uur laat hy steeds die hoop op ’n woord van God nie vaar nie.
Te midde van Job se worsteling groei sy sekerheid dat God hom nie sal los nie. Vroeër het hy gewens hy het Iemand om sy saak te behartig (9:33-34); nou wéét hy God sal help (vers 19).




Hoofstuk van die dag: Job 16

My vriende het my bespotters geword, daarom pleit ek met trane by God … (vers 20)

Die Bybel in Praktyk noem by Job 16 ’n paar dinge wat ’n mens kan help om jou vriende wat in nood verkeer, meer effektief te ondersteun: (1) moenie net praat om te praat nie; (2) moenie vir hulle preek of geykte dinge sê nie; (3) moenie kritiseer nie; (4) stel jouself in die ander persoon se plek, en (5) bied hulp aan en bemoedig.
Dit is goeie raad, maar Job se sogenaamde “vriende” het nie dié insig gehad nie. Hulle skop Job terwyl hy lê. Daarom noem Job hulle “hopelose troosters” (vers 2) wat altyd die laaste woord wil inkry (vers 3).
Job sê dat hy, vanweë sy ervaring, nie só sal optree nie. Hy het geestelik gegroei. Hy sou medelye betoon en nie net voortbabbel soos hulle nie (vers 4-5).
In die bekende Halleluja-lied “Wat ’n Vriend” sing ons: “As ons vriende ons versaak het, soek ons in gebed die Heer …” Dis presies wat Job doen (vers 20). Selfs al beleef hy God as vyand (vers 12), verkies hy om na Hom te draai, eerder as om op sy “vriende” staat te maak. Dis wat Dawid ook in 2 Sam 24:14 gedoen het.




Hoofstuk van die dag: Job 15

Beteken die troos wat van God kom, vir jou niks, die woorde wat met soveel deernis tot jou gerig is? (vers 11)

Elifas praat nou uit die hoogte met Job. Daar is nie ’n sweempie van deernis in sy woorde nie; net verwyte en oordeel. Wat hom so kwaad maak, is dat Job sy raad verwerp, terwyl hy van mening is dat hy as ’t ware met die stem van God self praat (vers 11). Hy is sarkasties en beledigend, maar het eintlik niks nuuts om by te voeg by sy eerste toespraak nie.
Sy slotsom is dat Job afstuur op ’n droewige, troostelose einde onder God se oordeel omdat hy God uitgedaag het en hom verset het teen die Almagtige (vers 25).
Een van die moeilikste lesse om te leer, is dat jy nie altyd reg is nie, of die enigste een is wat ’n geldige standpunt het nie. Dit was Elifas se probleem, en daarom was hy hoogmoedig en te selfversekerd oor wat hy dink hy weet.
Wanneer jy iemand wil troos of moed inpraat, móét jy ruimte daarvoor laat dat daardie persoon nie noodwendig met jou sal saamstem nie. Om dan kwaad te word soos Elifas, help niks. Hy het nóg troos nóg hoop vir Job gebied.




Hoofstuk van die dag: Job 14

As ’n mens sterf, sal hy weer lewe? Dan sou ek al die dae van my swaarkry kon wag tot daar vir my nuwe lewe kom. (vers 14)

Die idee van ’n lewe ná die dood het nog nie in Job se tyd bestaan nie. Destyds het hulle geglo dat die dood die einde is; dat jou toekoms in jou kinders se voortbestaan gesetel is (vers 10-11). Dit was eers in die tyd van die ballingskap (honderde jare later), onder invloed van die Persiërs, dat die gedagte aan ’n hiernamaals by die Jode posgevat het. Die Fariseërs het dit in hulle teologie opgeneem, en Jesus het daarby aangesluit (Luk 23:43).
Job se uitspraak hier is daarom besonder merkwaardig, want teen die aanvaarde opvatting van sy tyd hoop hy tóg teen alle hoop in dat daar ’n toekoms vir hom ná die dood mag wees (vers 14). Dis asof hy hier die eerste saadjie van ’n toekomsverwagting by Ou Israel plant.
Ons weet natuurlik vandag dat daar ’n lewe ná die dood is. Daarvan vertel Jesus ons, en Paulus, en natuurlik die boek Openbaring. Selfs in jou donkerste uur is dié verwagting jou troos – ons het ’n toekoms saam met Jesus!