Hoofstuk van die dag: Job 13

As julle maar liewer net wou stilbly, sou dit vir julle tot wysheid gereken kon word. (vers 5)

Die spreekwoord lui: “Leë vat, hou toe jou kraan, dan sien hulle jou vir ’n volle aan.” Dis presies wat Job vir sy vriende sê (vers 5). Hulle moet liewer stilbly (vers 13), want hulle gebrabbel wys dat hulle nie verstaan wat aangaan nie. Hulle probeer om God teenoor Job te verdedig (vers 8), terwyl Hy nie verdedigers nodig het nie. Trouens, in hulle pogings om Hom te verdedig, verdraai hulle die waarheid met goedkoop afleidings (vers 7).
In Job se krisis doen die ongevraagde preke van sy “vriende” meer kwaad as goed. Daarom, met groot huiwering en vrees, wend hy hom tot God self (vers 20 en verder). Dit is merkwaardig dat hy dit waag, omdat hy al oor en oor gesê het God het sy vyand geword. Dit wys dat Job nog nie vir God die rug toegekeer het nie.
Dit is vandag ook die beste uitweg in jou nood. Praat met God. Stort jou hart voor Hom uit. Hy is per slot van rekening die enigste Een wat werklik kan help. In Jesus het Hy dit tog onomstootlik bewys dat Hy aan jou kant is (Joh 3:16).




Hoofstuk van die dag: Job 12

Vir die wat geen kommer ken nie, pas ongeluk en smaad bymekaar, by dié wat struikel, pas ’n skop. (vers 5)

As ’n mens na die sin van lyding soek (waaroor die hele boek Job worstel) is een van die antwoorde dit wat Job hier uitlig: As jy deur diep waters is, is jy nie so gou om die kop meerderwaardig te skud oor iemand wat swaarkry nie. Net oë wat self gehuil het, kan die seer in ander se lewens raaksien, het ’n wyse biskop in Ruanda ná die afskuwelike volksmoord daar gesê. Lyding kweek deernis met, en begrip vir ander wat ly. Lees gerus wat Paulus in 2 Kor 1:3-6 hieroor skryf!
Job se vriende het klaarblyklik nog nie sulke lyding verduur nie, en daarom is hulle gou om blink antwoorde vir Job te gee; antwoorde wat in sekere situasies wel reg mag wees, maar nie in Job s’n nie. Nie net verstaan hulle nie Job se diepe worsteling met God nie; hulle “raad” is soos ’n skop. Dit maak seer en druk hom verder in die ellende in (vers 5).
Ons sal goed doen as ons Job se woorde ter harte neem. Pred 7:16 waarsku juis (OAV): “Wees nie alte regverdig nie.”




Hoofstuk van die dag: Job 11

Kan jy begryp wie God werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan? (vers 7)

Sofar draai nie doekies om nie. Job is verkeerd en verwaand om selfs te dink hy kan homself voor God verdedig. Hy is natuurlik reg – God ís soveel meer as wat ons ooit kan dink. Hy bewoon ontoeganklik lig (1 Tim 6:16), en die Prediker (5:1) waarsku dat ons woorde voor Hom liewer min moet wees. Daarom, as ons oor Hom nadink en praat, moet dit altyd met die grootste ontsag en huiwering wees. Om vir die Here ontsag te hê, is die begin van kennis, sê Spreuke 1:7 (2020-vertaling). En tog maak juis Sofar presies dié fout. Hy wat sê ’n mens kan nie die Almagtige ten volle verstaan nie (vers 7), redeneer asof hy presies weet hoe God se beskikking werk.
Hoe ouer ek word, hoe duideliker word dit vir my dat ’n mens nie alte seker moet wees dat wat jý dink en glo, presies reg is nie. Daarom moet ons standpunte oor die Bybel en Bybelse leiding altyd getemper word deur ’n erkenning dat ons maar ten dele ken en verstaan (1 Kor 13:12).
Nederig voor God, en beskeie voor ander. Dis wat ek glo.




Hoofstuk van die dag: Job 10

U weet dat ek nie skuldig is nie, maar niemand kan my uit u hand red nie. (vers 7)

Job se gesprek met God duur voort. Hy het ook, soos sy vriende, geglo dat God die goeie beloon en die verkeerde straf, maar dit maak nou glad nie meer sin nie, want hy ly, al weet hy (én God) dat hy onskuldig is (vers 7). Dís die groot worsteling in sy gemoed: hy verstaan nie wat aangaan en waarmee God besig is nie (vers 2).
Die lewe, so begin Job agterkom, is nie so eenvoudig soos hy altyd gedink het nie, en soos sy vriende steeds glo nie. Alles kan nie met ’n logiese oorsaak en gevolg verklaar word nie. Een plus een is nie altyd twee nie. Die lewe is veel komplekser as dit.
Só werk dit ook in die geestelike lewe. Daar is eenvoudige waarhede wat die grondbeginsels is waarop ’n mens kan staatmaak. Dinge soos God wat gebede verhoor, wat genadig en barmhartig is, wat ons lief het meer as wat ons kan dink. Siekte, verganklikheid en boosheid pas nie so gemaklik in dié prentjie nie. Dan moet ons glo dat God alles ten goede laat uitwerk (Rom. 8:28), ook te midde van ons lyding.




Hoofstuk van die dag: Job 9

Wat Hy doen, is groot en ondeurgrondelik, wonder op wonder. (vers 10)

In dié hoofstuk hoor ons in watter warboel Job se gedagtes is. Enersyds staan Hy in verwondering voor God se almag (vers 10); andersyds beleef hy dit dat God sy vyand geword het met wie hy nie kan redeneer nie, of by wie hy nie dink hy ’n antwoord gaan kry op sy vrae nie. Dit help nie eers om te probeer om sy houding te verander nie; sy lot is klaar beslis (vers 22, 29).
Só verpletter is hy oor wat met hom gebeur het, dat hy nie meer dink God sal hoor as hy bid nie (vers 16). Dit is ’n ervaring wat baie mense het wat deur ’n diep krisis worstel – dat God skynbaar afwesig is in hulle nood. Dat God stom geword het en nie antwoord nie. Dit voel dan of jy tussen vier mure vasgekeer is, sonder enige uitsig of uitkoms. As jy dáár is, maak niks meer sin nie en val al jou ou sekerhede weg. God word ’n vreemde God, onverstaanbaar en onvoorspelbaar.
As jy daar is, moenie ophou om met God te praat nie. Hy is nie regtig weg soos dit vir jou voel nie – lees Ps 42!




Hoofstuk van die dag: Job 8

As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle vir hulle oortredings gestraf. (vers 4)

Bildad se verstaan van skuld en vergelding stem baie ooreen met dié van Elifas, die eerste spreker. God, so sê hy baie stellig, beloon die goeie en straf die kwaad (vers 20). Bildad is egter minder subtiel as Elifas. Job se lyding is ’n bewys van sy sonde en daarom God se straf.
Sy woorde is kras en baie onsensitief. Hoe dink hy ondersteun hy Job as hy in soveel woorde sê (vers 4) Job se kinders is dood omdat hulle gesondig het?
Die probleem met Bildad se redenasie is sy verstaan van wie God is. God se regverdigheid en oordeel is eenvoudig en voorspelbaar, dink hy. Vir hom is God meer soos ’n strakke outomaat as wat Hy ’n lewende, liefdevolle God is wat in ons lewe van elke dag betrokke is.
Daar is vandag nog mense wat só oor God dink. Jy sien dit as mense vir jou sê jou paadjie is vir jou uitgesit, of as hulle sê dis God se wil as ’n ramp iemand tref. Maar só eer ons nie God as ons liefdevolle Vader wat vir ons omgee nie, en hou ons nie rekening met die Bose nie.