Hoofstuk van die dag: Johannes 21

Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” (vers 12)

Dis nou so twee weke ná Jesus se opstanding. Die dissipels het Hom al twee keer gesien, maar wat nou?
Dis waar die dissipels daardie dag in Galilea was: verward, onseker oor die toekoms, onseker oor Jesus.
Hoe help Jesus hulle? Hy stuur nie ’n engel nie, want Hy weet hulle het Hóm nodig. Hulle het sy teenwoordigheid nodig. Hulle het tyd saam met Hom nodig. Hulle het nodig om sy stem te hoor, Hom te beleef, sodat hulle oortuig kan word dat Hy regtig opgestaan het, en sodat hulle kan weet wat om te doen.
Daarom kom Jesus daardie oggend Self na die dissipels toe; verskyn Hy nie net vir ’n rukkie nie, maar kom Hy om tyd met hulle te spandeer.
Jy gaan nie ’n vurige volgeling van Jesus word as jy nie tyd maak om in sy teenwoordigheid te wees nie; as jy nie tyd maak dat Hy met jou besig kan wees nie; as jy nie toelaat dat Hy jou verander soos Hy daardie dissipels van Hom verander het nie. Jy gaan nie opgewasse wees vir jou roeping in die wêreld as jy nie toegerus en versterk word deur die Here en sy Gees nie.

Naskrif: Môre begin ons DV met Hooglied.




Hoofstuk van die dag: Johannes 20

Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’” (vers 17)

Jesus se opstanding het nie by die leë graf geëindig nie. Hy vaar op om sy koningsheerskappy vanuit die hemel verder te volvoer, want God se plan met Jesus strek veel verder as net die dissipels in Jerusalem.
Verder: Jesus se opstanding maak ons familie. God is ons Vader, en ons is broers en susters van Jesus en van mekaar. Daarom moes Maria by die ander uitkom. Sy kon nie op haar eie in verwondering by Jesus bly nie.
Ons behoort aan mekaar. Ons is vir mekaar gegee. Jesus het tog gebid dat ons een sal wees, soos Hy en die Vader een is (Joh 17:21-22). Daarom skrei dit ten hemele dat gelowiges mekaar beskinder en uitkryt en verdag maak. Dis tog nie hoe familie met mekaar maak nie.
’n Mens wat die opgestane Here ontmoet het, dink nuut oor jouself voor die Here en in sy wêreld, en leef nuut met jou geloofsfamilie.




Hoofstuk van die dag: Johannes 19

Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.” (vers 15c)

Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser. Want ons wil nie hoor wat hierdie Man vir ons van God se aanspraak op ons lewens kom leer nie. Dit is die verskriklike van Jesus se lyding: dat sy eie mense, hulle ter wille van wie Hy sy hemelse heerlikheid prysgegee het om mens te word, Hom as Koning verwerp.
Maar daarmee is Hy nie uit die weg geruim nie. Want sy kruis het ook sy triomf geword. Sy dood het sy troonsbestyging geword. Daarom staan daar bo-aan sy kruis vasgespyker: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode” (vers 19). Want ook vir hulle wat Hom nie liefhet nie en sy aanspraak op hulle lewens verwerp – ook vir hulle is Jesus Koning.
Ook vir ons wat so graag ons eie gang wil gaan, wat so maklik die aansprake van Christus op ons lewens en ons harte en ons liefde en tyd en kragte en beursies minag, ons wat dikwels lewe asof ons geen Koning het nie behalwe onsself – ook vir ons het Hy daar aan die kruis gehang om die sonde en die bose in ons lewens te oorwin, sodat Hy werklik Koning kan wees.




Hoofstuk van die dag: Johannes 18

En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie.” (vers 38)

’n Mens kan nie glo dat dinge só skeef kon loop met Jesus se verhoor nie. Onskuldig bevind, en tog gekruisig. Dit was van begin tot end ’n bekookte hofsaak waarvan die vonnis lank voordat dit begin het, reeds gevel is.
Die duiwel het daardie oggend waarskynlik sy hande in genoegdoening gevryf. ’n Klinkende oorwinning vir die duisternis, of hoe?
Néé! Dan het ons sleg gelees wat die Bybel ons leer. Dit is wel so dat Jesus se verhoor ’n skreiende verkragting van die reg was. Dit is so dat die duiwel die Jode gebruik het om die Seun van God te vermoor. Maar dit is ook so dat God die hele tyd in beheer was. Jesus het self vir Pilatus gesê: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie” (Joh 19:11).
Jesus se sterwe was Gód se plan, nie die duiwel s’n nie. Hier was immers ’n ánder hofsaak aan die gang waarin God die Regter is, en óns die skuldiges. Net, ons is nie gestraf nie. Jesus is. Dit is die Evangelie!




Hoofstuk van die dag: Johannes 17

Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. (vers 10)

Ek moes hierdie woorde van Jesus twee keer lees om mooi te verstaan wat Hy sê, want dit is eenvoudig verstommend. “Ek word deur hulle verheerlik” (vers 10b). Deur ons optrede word Jesus in die wêreld geëer. My en jou optrede maak die mag van Jesus in hierdie wêreld sigbaar.
Jesus vereenselwig Hom só volledig met ons dat ons sy liggaam genoem word (1 Kor 12:27.). Wat ons as gelowiges doen, raak Hom ten diepste, reflekteer op Hom, en moet Hom verheerlik. Dis nou, as ons ons roeping as gelowiges reg uitleef; as Hy in ons leef (Gal 2:20).
Dit maak my benoud as ek oor myself dink, want die vraag kom onwillekeurig by my op of ek aan die hoë verwagting van Christus beantwoord. En of ons as liggaam van Christus regtig die Here verheerlik. Daar is net te veel dwarstrekkery en bakleiery in die kerk. Dikwels is ons eerder ’n bespotting as ’n verheerliking vir Hom.
En tog! Dis wat Jesus van jou en my glo en verwag. Ons mag Hom nie teleurstel nie. Hy bid dit dan vir ons!




Hoofstuk van die dag: Johannes 16

“Nog ’n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer ’n klein rukkie, dan sal julle My weer sien.” (vers 16)

’n Mens voel half jaloers as jy hier lees hoe die Here sê dat sy dissipels Hom weer sal sien (vers 16), en dat hulle dan baie bly sal wees (vers 22). Dis te hope! Wie sal dan nie bly wees om die Here te sien nie!
Maar die Here praat nie hier van sy opstanding uit die dood nie, Hy praat hier van sy terugkoms wanneer die Heilige Gees uitgestort sal word. Die “sien” waarvan Jesus in vers 16 en 22 praat, is eintlik niks anders nie as die geestelike sien van Jesus, die wete dat Hy by jou is, dat Hy altyd teenwoordig is in jou lewe deur die werking van die Heilige Gees. Dit is immers waarom die Gees gekom het: om die Here Jesus ’n werklikheid in ons lewens te maak, om ons in ’n lewende verhouding met die Here Jesus te stel (vers 14).
Daarom hoef ons nie jaloers te wees nie, want die Here Jesus se belofte dat sy dissipels Hom weer sal sien, geld ook vir ons. Die Heilige Gees het immers ook na ons gekom.