Hoofstuk van die dag: Josua 24

Toe sê Josua vir die volk: “Julle is self getuies daarvan dat julle gekies het om die Here te dien,” en hulle antwoord: “Ons is.”
Toe sê Josua: “Verwyder dan die vreemde gode tussen julle uit en wy julle heeltemal aan die Here die God van Israel.” (vers 22-23)

’n Predikant-oom van my het eenkeer by ’n doop ’n groot opskudding veroorsaak. Die pa van een van die babas was nou nie juis wat ’n mens sal noem ’n kerkmens nie. Maar toe die doopvrae en -belofte aan hom gestel is, het hy dadelik en flink “Ja!” geantwoord. My oom was nie beïndruk nie, want hy het die man geken. Toe vra hy vir die man: “Is jy doodseker?”

Dis min of meer wat Josua ook hier doen. Hy dwing die volk om tot drie keer toe te bevestig dat hulle die Here sal dien en aan Hom getrou sal bly (vers 14, 19, 22). Boonop rig hy ’n monument op om hulle aan hulle belofte te herinner (vers 27). Want hy weet woorde is goedkoop, en God is nie met leë woorde en leë beloftes tevrede nie.

Dit is vandag nog so.

 


Naskif:
Ek nooi jou uit om van môre af vir twee weke saam met my verder in die Psalm-boek te lees. Ons het vroeër vanjaar al Ps 1 tot Ps 26 gelees. Nou lees ons Ps 27 tot Ps 40. Dit gaan ons neem tot die Woensdag voor Hemelvaart, wanneer ons die boek Handelinge gaan begin lees.




Hoofstuk van die dag: Josua 23

Lê julle dus daarop toe om die Here julle God lief te hê. (vers 11)

Josua se lewe staan einde se kant toe. In sy afskeidsrede wat aan die hele Israel gerig is, kyk hy terug op die pad waarmee hulle gekom het, en wat vir hom uitstaan, is die Here se trou. Nie een van al die goeie beloftes wat die Here oor hulle gemaak het, het onvervul gebly nie (vers14). Daarom het hy vertroue vir die toekoms, want die Here is nie ’n wispelturige God nie. Soos wat Hy met hulle was tydens die verowering van die land, so sal Hy ook vir hulle sorg vir die pad vorentoe.

Dít is die God wat ons vandag nog dien. Dis Hy wat vandag nog sorg en ons deur hierdie pandemie sal bring. Daaraan hoef ons nie te twyfel nie, want die Here se handelinge tot nou toe gee ons dié versekering. Ons kan Hom vertrou.

Die vraag wat Josua voor die volk (en voor ons) stel, is: Wat van ons? Sal óns getrou bly? Sal óns Hom bly liefhê en dien?




Hoofstuk van die dag: Josua 22

Toe hulle by Gelilot aan die Jordaan in Kanaän kom, bou hulle daar by die Jordaan ’n altaar, ’n groot indrukwekkende altaar. (vers 10)

Oorhaastige gevolgtrekkings kan baie gevaarlik wees, veral wanneer die eer van die Here op die spel is. Dit is wat hier gebeur. Die Oos-Jordaanstamme het hulle mede-Israeliete gehelp om die Wes-Jordaangebied te verower, soos Moses hulle versoek het (Jos. 1:12-15). Noudat hulle taak afgehandel is, kan hulle terugkeer na hulle mense anderkant die Jordaan. Wanneer hulle die Jordaan oorsteek, bou hulle ’n monument in die vorm van ’n altaar om almal te herinner dat hulle aan die Here getrou sal bly.

Die Wes-Jordaanstamme hoor van die altaar en lei dadelik daaruit af dat hulle volksgenote die Here verlaat het en ’n eie godsdiens gaan begin. Hulle is reg om oorlog te maak en die sondaars uit te roei. Wat die situasie ontlont, is ’n goeie gesprek tussen die twee groepe.

Dit is gevaarlik om met onvolledige inligting ons eie gevolgtrekkings te maak oor ander se motiewe en optredes en hulle dan te veroordeel. Dit lei tot spanning en konflik tussen gelowiges. Daarom waarsku die Here Jesus ons in Joh. 7:24: “Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.”




Hoofstuk van die dag: Josua 21

Die Leviete het altesaam ag en veertig stede met weivelde gehad in die woongebied van die Israeliete. Elke stad het weiveld rondom hom gehad. Dit was die geval met al dié stede. (vers 41-42)

Nadat al die stamme hulle grondgebied gekry het, was nog net die Levi-stam oor. Hulle het nie ’n eie stamgebied gekry nie, maar stede en weiveld versprei deur die hele land. Hulle primêre taak was om die diens aan die Here te bevorder deur die offerdiens en deur die tabernakel in stand te hou. Verder was hulle ook die mense wat die volk moes onderrig in die Wet van die Here.

Hulle het nie almal op een plek gewoon nie, maar verspreid onder al die stamme, want die diens aan die Here is nie beperk tot dít wat by die tabernakel (en later die tempel) gebeur het nie. Die teenwoordigheid van die Here, soos vergestalt deur die Leviete, moes oral sigbaar en tasbaar wees.

Vandag is daar steeds mense wie se deel is dat hulle afgesonder is vir die werk van die Here. Maar dit is ook elke gelowige se roeping om waar jy woon, die teenwoordigheid van die Here te vergestalt deur jou woorde en dade. Wat ’n voorreg!




Hoofstuk van die dag: Josua 20

Die vlugteling moet in die stad bly totdat hy voor die bevoegde vergadering tereggestaan het en totdat die hoëpriester van dié tyd dood is. Eers dan mag die persoon wat die dood veroorsaak het, vry teruggaan huis toe … (vers 6)

Bloedwraak was deel van die ou familiereg, waar die naaste bloedverwant van iemand wat gedood is, die verpligting gehad het om die dood te wreek. Die wreker het nie die diskresie gehad om te besluit of dit ’n opsetlike dood ( moord), of onopsetlik (manslag), was nie. Iemand is dood, en dit moes gewreek word. Dit kon natuurlik lei tot ’n kringloop van wraak en weerwraak, wat nooit die intensie van bloedwraak was nie.

Die instel van asielstede was ’n meganisme om ’n balans te vind tussen die vereiste dat die skuldige gestraf moet word, en die “onskuldige” beskerm moet word. Interessant dat selfs wanneer die betrokke persoon in die hof onskuldig bevind is, hy of sy nie vry was om huis toe te gaan nie. Eers as die hoëpriester sterf, was hy of sy vry.

Wat moet ons hiermee maak? Ons is almal skuldig, leer die Woord (Rom. 3:23). Maar Jesus, ons Hoëpriester (Heb. 4:14), het gesterf en ons só vrygemaak.




Hoofstuk van die dag: Josua 19

Nadat die Israeliete die land in sy onderskeie gebiede aan die stamme toegewys het, het hulle aan Josua seun van Nun ’n eiendom tussen hulle toegeken. (vers 49)

Die verdeling van die land onder die twaalf stamme kan vergelyk word met ’n erflating wat tussen die kinders verdeel word. Dikwels hoor ’n mens van groot ongelukkigheid en selfs erge vyandskap as die verdeling nie volgens almal regverdig is nie.

Hierdie gevaar was natuurlik ook groot toe Josua die land tussen die verskillende stamme verdeel het. As daar net ’n sweem van bevoordeling of onregverdigheid iewers bespeur is, sou die gort gaar gewees het. Ons lees niks daarvan nie, wat ’n baie groot prestasie van Josua was. Hy het regverdig en met integriteit opgetree. So hoort dit by ’n godvresende leier.

In ons moderne wêreld waar dit dikwels ’n geval is van elke man vir homself; waar mense hulle nie steur aan landswette en regulasies as dit hulle nie pas nie, is die versoeking groot dat mense gryp wat hulle nie toekom nie, veral as jy in ’n posisie is om die stelsel te manipuleer om jouself te verryk ten koste van ander. Lees gerus wat Jesus hieroor sê in Matt. 20:25-28.