Hoofstuk van die dag: Kolossense 3

Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. (vers 1)

Wat Paulus hier skryf, is ingrypend vir jou mens-wees. Jy is op ’n geheimenisvolle manier aan Christus verbind. Wat met Hom gebeur het, het ook met jou gebeur. Sy dood op Golgota is ook jou dood. En – sy opstanding is ook jou opstanding. Jy is saam met Christus uit die dood opgewek (vers 1). Paasfees is nie net Christus se oorwinning oor sonde en dood nie, maar ook joune!
Dit beteken dat jy op ’n nuwe manier moet leef. Met jou gedagtes op die dinge wat daarbo is, gerig (vers 2).
Bedink en soek die hemelse dinge, sodat jy nuut en anders met die aardse dinge besig kan raak. Dit gaan nie daaroor dat jy in ’n ander, geestelike wêreld moet begin lewe nie, maar dat jy oor die geestelike dinge sal dink, sodat jy anders en op ’n geestelike wyse in hierdie wêreld sal begin lewe.
God maak jou nuut, sodat jy veranderd en nuut kan lewe, sodat jy na die gewone lewe kan teruggaan met nuwe waardes en nuwe prioriteite. Paulus spel dit uit in verse 5-17.




Hoofstuk van die dag: Kolossense 2

In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. (vers 11, 2020 vertaling)

Hoe raak ons ontslae van die pes van die sonde?
Daar ons is kant, en God se kant. Ons kant is om Christus Jesus as Here aan te neem (vers 6). Dan ontdek jy dat God sý kant al lank voor jou begin het. Toe ons sondige geaardheid nog nie weggesny is nie, het Hy al met ons begin (vers 13). Hý het die sondige geaardheid uit ons lewens uitgesny deur die doop (vers 12). Verder: ons is in Hom gewortel en ons word in Hom opgebou en versterk in ons geloof (vers 7). Dis óók God se werk. Hy plant ons in Christus in, en Hý bou ons op. Hý vul ons met die volheid van Christus (vers 10).
God doen sý kant. Ons kant is nie net om Hom aan te neem en dan kan ons terugsit nie. Ons moet in Hom bly leef (vers 6b).
In Hom. Deel van Hom. Saam met Hom. Aan Hom vas. Sy passie jou passie; sy wil jou wil; sy liefde jou liefde; sy dood jou dood; sy nuwe lewe jou nuwe lewe …




Hoofstuk van die dag: Kolossense 1

God het ons uit die mag van die duisternis gered, en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun … (vers 13, 2020 vertaling)

Paulus herinner ons daaraan dat daar ’n groter werklikheid is as die een wat ons met ons eie oë kan sien: God se werklikheid. Dis ’n leuen van Satan dat hy die hef in die hande het, en dat ons slagoffers geword het van sy skrikbewind. Nee, daar is Iemand anders as Satan wat heers: Jesus Christus (vers 13).
God regeer! Ek wonder of ons dit goed gesnap het. Want ons skouers hang maar net soos ongelowiges s’n. Ons kla en mor net so hard soos almal, en lewe nie soos mense met ’n uitsig op die Here Jesus nie.
As jy lewe vanuit die oorwinning van die Here Jesus, kom daar iets los hier binne-in jou. Dan trek jou skouers weer regop en lig jou kop; dan kom daar ’n lied in jou hart en op jou lippe. Dan staar jy jou nie blind teen alles wat skeef en stukkend is nie, maar kyk jy daarby verby, en sien jy die Here Jesus raak, wat met ons besig is. Dan tel jy die kruis wat oor jou lewe lê, met vreugde op en volg jy jou Verlosser.




Hoofstuk van die dag: Kolossense (Inleiding)

Kyk gerus na hierdie video vir ’n goeie opsomming van die brief: