Hoofstuk van die dag: Levitikus 27

Een tiende van al die produkte van die land behoort aan die Here, of dit nou graan of vrugte is. Dit is aan die Here gewy. (vers 30)

Die hoofstuk oor geloftes en loskoopwaardes is nie regtig meer vir ons relevant nie, behalwe dat dit ’n mens se aandag vestig op die onbreekbaarheid van ’n gelofte aan die Here. In Pred 5:1-4 waarsku die Prediker dat jy mooi moet dink voordat jy ’n belofte of gelofte aan God maak, want beloftes maak skuld.
Die gee van tiendes (vers 30-33) is soms aan ’n gelofte verbind (Gen 28:20-22), of aan vrywillige gawes uit dankbaarheid vir God se hulp en seën (Gen 14:17-20); daarom dat dit hier by die geloftes genoem word. Wat my getref het, is dat die tiendes aan die Here behoort en nie teruggevat of teruggehou mag word nie, want dis in die eerste plek nie die gewer van die tiende se eiendom nie.
Ons dink nie vandag meer so wetties oor ons dankoffers nie. Elkeen moet gee soos hy dit in sy hart voorgeneem het, en daar behoort nie dwang by te wees nie, het Paulus (2 Kor 9:5-7) gereël. Tog gee jou dankoffer uitdrukking daaraan dat jy besef alles wat jy het, kom van die Here af.

Naskrif: Ek gaan vir die volgende maand die dagstukkies onderbreek. Ek gaan (DV) Pinksterdienste in Betlehem Panorama hou, en daarna gaan ons vakansie hou met ons dogter wat uit die VSA by ons kom kuier. Intussen bid ek jou ’n geseënde Pinkstertyd toe.




Hoofstuk van die dag: Levitikus 26

As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd, sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra. (vers 3-4)

Om deel van die heilige God se mense te wees, het verreikende implikasies, want die Here God is ’n besitlike God (Eks 20:5, 2020-vertaling). Hy gee om vir sy mense, en wil hulle graag oorlaai met sy seëninge – goeie oeste, vrede en veiligheid in die land, vrugbaarheid en sy blywende teenwoordigheid (vers 3-13). Dit gee Hy alles ruimhartig aan hulle wat naby Hom leef en sy voorskrifte nakom.
Die keersy daarvan is dat teenspoed en ellende oor hulle kom wat Hom die rug toekeer (vers 14-33). Dit is skrikwekkend, selfs om net te lees. En dit het helaas so gebeur met God se volk.
Dit is in ons eie tyd steeds waar. Mense wat naby God leef, ervaar sy seëninge (Matt 5:3-12), maar, waarsku Jesus: Mense wat nie heilig lewe voor God nie, word buite gegooi en vertrap (Matt 5:13).
Ek wonder of die toestand van ons land – korrupsie, moord, misdaad, armoede, onveiligheid – nie deel van dié oordeel is nie. God is heilig, en Hy verwag heilige lewens van sy mense.




Hoofstuk van die dag: Levitikus 25

Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My. (vers 23)

Die reëlings oor die sabbatsjaar en die jubeljaar (hersteljaar) is vir ons moderne lesers uiters vreemd, en baie verklaarders wonder of dit ooit werklik só toegepas is. Tog is daar aanduidings in die Ou Testament dat dit wel gegeld het. Terloops, die woord “jubel” kom van die Hebreeuse woord wat “ramshoring” (vers 9) beteken.
Wat dié reëling beklemtoon, is dat die land nie Israel s’n is om mee te maak wat hulle wou nie. Die land behoort aan God (vers 23), wat dit in sy goedheid aan hulle gegee het, nie om eiegeregtig te besit nie, maar eerder om dit te bewerk en te bewaar (vgl Gen 1:28). Daarom beveel Hy as eienaar dat sy lande op ’n gereelde grondslag moet braak lê sodat dit kan rus en die vrugbaarheid kan herstel.
Jou verhouding met God en met ander mense tel swaarder as jou besittings, en daarom stel God die reëling van die sabbatsjare en jubeljare in om mense die geleentheid te gee om uit ’n spiraal van skuld te kom. God se barmhartigheid moet ook in die onderlinge verhoudings tussen mense sigbaar word.




Hoofstuk van die dag: Levitikus 24

As iemand ’n medemens beseer, moet aan hom presies dieselfde gedoen word … (vers 19)

Ons ken hierdie regsbeginsel uit die Nuwe Testament. Jesus verwys daarna in Matt 5:38, waar Hy Eks 21:24 aanhaal: “’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.” Dít wat jou aangedoen is, moet in gelyke mate aan die oortreder gedoen word.
Dit is belangrik om te verstaan dat dit riglyne vir regters was vir wanneer hulle oor ’n gepaste straf moet besluit, sodat die straf en die oortreding in balans is. Dit was nie vir persoonlike vergelding bedoel asof elkeen die reg in eie hande kon neem en die ander in eie munt terugbetaal nie.
Dit is hierdie siening waarteen die Here Jesus standpunt ingeneem het in Matt 5:39. In ons persoonlike lewe mag daar van vergelding en wraak geen sprake wees nie. Jesus vra dat ons mense se woede moet ontlont, nie met erger woede nie, maar met vriendelikheid, behulpsaamheid en saggeaardheid.
Makliker gesê as gedaan? Inderdaad. Maar wie het gesê dis maklik om ’n navolger van Jesus te wees? Dit is waaraan Petrus ons herinner in 1 Pet 2:21-23. Hy het nie teruggeskel of met wraak gedreig nie, maar dit aan God oorgelaat. Ek en jy moet ook.




Hoofstuk van die dag: Levitikus 23

Wanneer julle julle lande oes, moet julle nie die wenakkers afoes of die are wat bly lê, optel nie. Julle moet dit los vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God. (vers 22)

Mense wat aan die Here geheilig is, behoort aan Hom met alles wat hulle is en het. Dit geld ook hulle tyd. Tydens die voorgeskrewe feeste moes die Israeliete hulle eie programme opsyskuif en tyd maak om die Here te dien en te vereer. Dit het van hulle tyd gevra en hulle gekos. Destyds was tyd ook geld.
Mense sê dikwels, as dit by kerksake kom, dat hulle nie tyd het nie. Dit hoort nie so nie. As jy te besig is vir diens aan die Here, is jou prioriteite verkeerd. Jou tyd is die Here s’n, en dit moet in jou program reflekteer.
Jou goed is ook die Here s’n, en daarom mag jy nie toe-hand leef nie. Dis hoekom Israel tydens oestyd só geoes het dat die armes en vreemdelinge ook kon eet (vers 22). ’n Treffende voorbeeld van hoe dit in die praktyk gewerk het, sien ons in Rut 2, waar Rut op Boas se land graan gaan optel het, en hy gereël het dat sy genoeg kry (Rut 2:15-16).




Hoofstuk van die dag: Levitikus 22

Die hele Israel moet My as die Heilige erken. Ek, die Here, heilig julle. (vers 32)

Nie net priesters nie; ons almal word deur God geheilig!
Hoe gebeur dit? Heiligheid is nie in die eerste plek iets wat jy moet doen nie, soos kerk toe gaan en nie dobbel en drink en vloek nie. Dit natuurlik ook. Maar ons heiligheid lê nie in die eerste plek in wat ons doen nie; dit lê in ’n verhouding met die Here God. ’n Heilige mens is iemand wat aan die Here behoort, wat aan die Here vasgebind is, wat Hom bo alles liefhet en daarom wil dien en volg en gehoorsaam. Dáár begin heiligheid – by ’n innige en opregte liefde vir die Here.
Daarom is heiligheid ’n gawe van die Here, wat Hy deur die werk van die Heilige Gees aan ons wil skenk (vers 32); ’n gawe waarvoor ons moet bid, wat ons moet najaag, waaraan ons moet werk. Heiligheid is iets wat ons ontvang na die mate waarin ons nader aan God lewe. Heiligheid is die wonder dat jy die beeld van die Here Jesus begin vertoon in jou lewe, namate jy groei in die geloof, nader aan die Here kom, aan Hom begin vasgroei.