Hoofstuk van die dag: Levitikus 21

Hulle moet aan hulle God alleen gewy wees en mag nie sy Naam ontheilig nie. Omdat hulle gedurig offers aan die Here hulle God bring, moet hulle gewyd bly. (vers 6)

’n Priester se lewe moes onbesproke wees. Dinge wat vir gewone Israeliete aanvaarbaar was, soos om met ’n geskeide vrou te trou, was vir ’n priester taboe (vers 7).Hy was immers God se verteenwoordiger by die volk en moes iets van die heiligheid en andersheid van God in homself vergestalt. Én hy moes die volk by die Here verteenwoordig as hy hulle offers voor Hom bring. Ons kan sê die geloofslewe van die volk voor God was in die priester saamgetrek.
Iets van hierdie spesiale plek wat die priester gehad het in die gemeentelike lewe, het behoue gebly in die amp van die predikant. Dit is hoekom ’n predikant se lewe onbesproke moet wees; as verteenwoordiger van God kan dit nie anders nie. Jesus het dit self gesê in Luk 12:48, en Jak 3:1 sê in soveel woorde dat ’n leermeester strenger as ander beoordeel sal word.
Die gemaklike verontskuldiging van moderne predikante dat hulle ook maar net mens is, is nie goed genoeg nie. Ons lewens moet van God se heiligheid getuig!




Hoofstuk van die dag: Levitikus 20

As die burgers hulle oë sluit vir so ’n oortreding en nie die skuldige doodmaak nie, sal Ek self ingryp … (vers 4-5)

Een van die groot probleme in ons moderne samelewing is dat ons oordrewe klem op indiwiduele regte en vryheid daartoe gelei het dat ons andere toelaat om met hulle sondige lewenswyse voort te gaan sonder om ’n woord daaroor te sê. Die “sensuur” van die gemeenskap (en die kerk!) het weggeval. Wat iemand anders doen, is nie my saak nie. Daarom sê ek niks en kyk ek anderpad as iemand op die verkeerde pad is.
Binne God se volk mag dit nie so wees nie. Ons ís mekaar se hoeders, al wil ons dit net so min weet soos Kain (Gen 4:9). Dis waaroor dit in hierdie gedeelte gaan. Dit is ook hoe die Here Jesus ons geleer het (Luk 17:3). Dit is merkwaardig dat Paulus, toe hy gehoor het van onsedelikheid in die Korinte-gemeente, meer ontsteld was omdat die gemeente dit oogluikend toegelaat het, as oor die spesifieke gemeentelid (1 Kor 5:1-5).
Om jou naaste lief te hê, vra nie van jou om heeltyd drukkies uit te deel nie. Dit vra eerder ’n diep omgee vir ander, veral as daardie persoon die pad byster raak.




Hoofstuk van die dag: Levitikus 19

Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig. (vers 2)

Hierdie hoofstuk is ’n praktiese uitwerk van die Tien Gebooie. Al die gebooie word hanteer, behalwe die eerste gebod, en die hoofstuk word omraam deur die inleidingswoorde tot die Tien Gebooie in Eks 20: “Ek is die Here julle God” (vers 2, 36) “wat julle uit Egipte laat wegtrek het” (vers 36).
Om heilig te wees, beteken om anders te wees, aan God gewy te wees. Omdat God uitsonderlik en uniek is, moet ons wat aan Hom behoort, ook so wees, al kan ons nooit soos Hy wees nie. Ons lewe en woorde en dade moet egter wys dat ons aan Hom behoort. Dit moet oor die hele terrein van die lewe na vore kom. Elke verhouding waarin ons staan, elke ding wat ons doen, alles moet dié feit ondersteun: ons is anders, want ons God is anders.
Die alledaagse lewe staan nie los van ons geloof in die Here nie. Belydenis en lewe gaan hand aan hand. Dalk het Jakobus (Jak 2:26) aan hierdie hoofstuk gedink toe hy geskryf het dat geloof wat nie in dade oorgaan nie, dood is?




Hoofstuk van die dag: Levitikus 18

Ek is die Here julle God. Julle mag nie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het, of soos die Kanaäniete na wie se land toe Ek julle bring nie. Julle mag hulle gebruike nie navolg nie. (vers 2b-3)

Miskien onthou jy nog hoe jy gevoel het, die eerste keer toe jy bewus geword het van die sedelose soort lewe van filmsterre. Ek weet ek was verbaas en geskok. Ons het daarvan gelees in tydskrifte. Dit was ver van ons af, in die VSA. Maar nou is dit nie meer ver nie. Dit is om ons. Dit het alledaags geword, byna aanvaarbaar, en dit skok nie meer nie. Almal doen dit. Ons het gewoond geraak aan die nuwe normaal.
Dit is presies waaroor dit in hierdie hoofstuk gaan: ’n waarskuwing om nie soos al die ander te word nie. Want seksuele losbandigheid, gesinsverbrokkeling en teenspoed gaan hand aan hand. Die Bybel bevat talle verhale wat hierdie waarheid onderstreep. Ons hoef nie verder as koning Dawid en sy huis te soek nie.
Nee, ons wat aan die Here ons God behoort, moet heilig leef, anders wees, soos Hy (19:2). Getrouheid en gehoorsaamheid aan God en sy gebod skep die ruimte waarbinne ons gelukkig kan wees.




Hoofstuk van die dag: Levitikus 17

Die bedoeling is dat die Israeliete nie meer diere in die veld moet slag nie, maar dit vir die Here moet bring. Hulle moet dit na die ingang van die tent van ontmoeting na die priester toe bring en daar slag as maaltydoffer vir die Here. (vers 5)

Die verpligting om slegs by die ingang van die tent van ontmoeting jou diere te slag, het net gegeld as jy dit as ’n offer aan die Here bring. Jy mag jou offer nêrens anders bring nie, sodat die priesters ook hulle deel kan kry. Dit was ook om te voorkom dat offers vir afgode gebring word.
Hierdie reëling het net vir offers gegeld. Vleis wat vir gewone huishoudelike gebruik bedoel was, kon tuis geslag word. Die enigste voorwaarde was dat die slagding moes uitbloei voordat jy dit kan eet (vers 14). Die bloed het aan die Here behoort; hulle mag dit nie geëet het nie (vers 12).
Hoewel alle offers by die tent van ontmoeting geslag moes word, het dit nie beteken dat die Israeliete nêrens anders as by die tent van ontmoeting met die Here kon praat nie of aanbid nie. Vir ons geld dit nog meer so, soos die Here Jesus die Samaritaanse vrou verseker het (Joh 4:21).




Hoofstuk van die dag: Levitikus 16

Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. (vers 21)

Die Groot Versoendag sê onmisverstaanbaar: Sonde kan nie sommer weggewens word nie. Ons kan nie voor God bly leef solank ons sonde het nie, want God haat sonde.
Die wonder van God se genade is dat Hy vir ons ’n weg uit ons sonde en terug na Hom gebaan het. Dit was die betekenis van die offers wat die hoëpriester moes bring. Die offerdiere se bloed het gevloei, sodat húlle bloed nie vergiet sou word nie.
Wat ons ook moet raaksien, is dat sonde nie sonder ’n belydenis van skuld uitgewis word nie. Ons moet dit erken en bely – nie sommer so terloops nie, maar elke sonde by die naam (vers 21). Aäron moes al die skuld van die volk bo-oor die sondebok bely, en die bok dan wegjaag, sodat die bok die sonde saam met hom wegvat. Dis heeltemal anders as moderne sondebokke waar ons ons eie skuld ontken en ander die skuld gee.
God se Sondebok (Joh 1:29) sal ook óns sonde wegdra, maar dan moet ons ophou om die skuld op ander te pak.