25 Desember 2023: MARIA SE GELOOF (Luk 1:26-38)

Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan. (Luk 1:38, 2020-vertaling)

Watter prentjie het jy in jou kop as jy aan Maria dink?

Elke jaar in die Kerstyd duik Maria as ’t ware weer van voor af op in ons gedagtes. Party mense het ’n baie romantiese beeld van haar, maar ek het ’n vermoede dat die werklikheid van dié meisie van Nasaret glad nie so wonderlik was as die prente wat ons op Kerskaarte en in ons gedagtes van haar het nie. Want in die eerste plek was Maria waarskynlik nie ouer as so 12,13 of dalk 14 jaar nie: iemand van gr 7of 8, dus.

Jonk; eintlik nog kind, nie waar nie? ’n Kind met wie die ongelooflikste ding gebeur. ’n Engel verskyn aan haar, wat natuurlik al klaar raar is. Ek bedoel, aan wie van die mense wat jy ken, het daar al ’n engel verskyn? In Bybelse tye was dit nie anders nie. Engele het nie sommer om elke hoek en draai vir jou gestaan en wag nie!

En wat die engel vir haar vertel het, moes haar, om die minste te sê, onkant gevang het. “Jy gaan ’n baba hê, al het jy nie by ’n man geslaap nie.” Dink julle in in haar situasie. Wat sou haar ouers sê? Wat sou haar verloofde sê? Ek weet wat ék sou gedink het, en heel waarskynlik gesê het ook: Maria was gruwelik. Sy het oor die tou getrap, en noudat sy verwag, soek sy uitkomkans. Dis dié dat sy sulke nonsens loop en vertel. Josef, so weet ons uit die Matteus-verhaal, het daar en dan besluit om die verlowing stilweg te verbreek. Ek meen, as dit mý verloofde was wat swanger was, sou ek sekerlik ook so gereageer het.

I
So, Maria moes op die minste besef het dat die engel se aankondiging ingrypende implikasies vir haar lewe vorentoe sou hê; dat haar hele lewe op daardie moment onherroeplik verander het. Natuurlik sou sy nog nie verder as die geboorte kon dink nie; natuurlik sou sy nie op daardie stadium al planne agtermekaar kon hê oor wat haar te doen staan met die buite-egtelike swangerskap nie. Maar sy het geweet dis nie ’n eenvoudige ding wat die engel – wat God – vir haar kom sê en van haar verwag nie. Sy sou sekerlik daarmee rekening gehou het dat Josef haar sou los en dat sy die baba as ongehude ma sou moes grootmaak. En in daardie dae was dit nie eintlik iets wat ’n mens gedoen het nie.

En tog, nadat Maria die engel aangehoor het en ’n vraag of wat gevra het om seker te maak sy verstaan wat die engel vir haar gesê het, antwoord sy: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (v 38).

Probeer jou in Maria se skoene plaas. Nee, dis tog nie moontlik nie. Maar probeer jou indink in ’n situasie waar God van jou ’n moeilike ding vra; ’n ding wat jy voor jou siel weet baie van jou gaan verg; ’n ding wat jou hele toekoms op sy kop gaan keer. Wat sal jy vir God antwoord? Sal jy kans sien om ja te sê vir God, al beteken dit dat jy jou eie toekomsdrome moet laat vaar? Al beteken dit dat hulle vir wie jy die liefste is, dalk teen jou gaan draai?

Maria se antwoord op die engel se boodskap is nie vanselfsprekend nie. Dit het moed gekos om so te antwoord. Geloof verg moed. Geloof kos jou iets. Koning Dawid sê in 2 Sam 24:24: “Ek bring nie aan die Here my God offers wat my niks kos nie.” Om gelowig vir God ja te sê, kom teen ’n prys. Want geloof vra dat jy God toelaat om sy wil vir jou lewe uit te werk. Sý wil, nie joune nie. Dís waartoe Maria hier instem.

II
Maar – en dit is baie belangrik – instem beteken nie gelatenheid nie. Geloof beteken nie dat jy sê: As dit dan nou nie anders kan nie, sal ek maar moet ingee nie. Want as ons dít in Maria se antwoord hoor, het ons nie goed geluister nie. Of miskien moet ek sê, die NAV help ons nie op dié punt om Maria se antwoord goed te verstaan nie. In Maria se antwoord slaan daar ’n opgewonde klank deur. Sy spreek ’n wens uit dat God se woord in haar lewe uitgewerk sal word. Daarom die “mag met my gebeur” van die 2020-vertaling. Die NLV vertaal haar antwoord só: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.”

Hier is niks van gelatenheid nie. Niks van ’n “ag, arme ek”-houding nie, of van “ek moet maar tevrede wees” nie. Ons hoor in haar antwoord ’n opgewondenheid, ’n blydskap, omdat God ook deur haar lewe aan die werk is. Daarom, in die volgende paragraaf, hoor ons haar sing, hoor ons hoe sy haar opgewondenheid en vreugde in die Here uitjubel: Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam!

Dit is Kersfees. Dis natuurlik nie moeilik om in hierdie dae opgewonde te wees oor die Kind in die krip en oor God se dade met ons nie. Wie word nie aangegryp deur die eenvoudige verhaal van Josef en Maria en die stal en die sterrekykers en die herders nie?

Maar is jy opgewonde saam met Maria oor wat God besig is om in en veral deur jóú lewe te doen? Is jy saam met haar opgewonde oor die jaar wat kom, oor wat 2024 gaan inhou vir jou as gelowige? Is jy nou al vol blye verwagting oor al die dinge wat die Here se pad vir jou persoonlik beteken?

Want dít is die soort geloof wat God by ons soek. Dis by sulke mense wat Hy tuis is en woning maak – mense soos Maria, wat hulleself tot God se beskikking stel, sodat Hy sy plan in hulle lewens kan uitwerk; mense wat met blydskap en entoesiasme deel wil wees van sy plan, wel wetende dat dit nie noodwendig ’n gelyk pad gaan wees nie.

Geseënde Kersfees!




Hoofstuk van die dag: Lukas 24

Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. (vers 51)

Die belydenis dat Jesus opgevaar het hemel toe, is die enigste van die Twaalf Artikels wat in die teenwoordige tyd is. Die ander is almal óf in die verlede tyd (Jesus se geboorte, lewe, sterwe en opstanding), óf in die toekomstige tyd (wederkoms, opstanding en laaste oordeel). As ons van Jesus se hemelvaart en sy rol as ons Koning praat, is dit oor wat Hy nóú doen.
Iewers, dink ek, het ons dié wonderlike troos verloor. Daarom weet ons nie so mooi wat om met hemelvaart te maak nie. Ons dink nie aan Christus as die Een wat vir ons intree en bid, die Een wat aan óns kant van die troon staan as ons bid nie.
Dis dalk hoekom dit vir ons vreemd klink as Lukas vir ons vertel dat die eerste dissipels met groot blydskap terug is Jerusalem toe. Want ons verskraal Jesus se rol tot iets wat Hy gedoen het (Hy het vir ons sondes kom sterf) en iets wat Hy nog gáán doen (Hy gaan eendag weer kom om ons te kom haal). Maar Jesus wil vandag jou lewe vul met sy teenwoordigheid!

Naskrif: Môre begin ons (DV) met die boek Job.




Hoofstuk van die dag: Lukas 23

Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (vers 43)

Ek wonder wat die eerste misdadiger gedink het toe Jesus die tweede een die paradys belowe het. Was hy spyt oor sy spot? Daar was egter ook ander wat op daardie donker dag spyt sou gewees het; mense soos Pilatus en Herodes, wat ’n gulde geleentheid om Jesus werklik te leer ken, deur hulle vingers laat glip het, en talle van die omstanders wat net gestaan en kyk het (vers35).
Jesus het gesê Hy bring skeiding tussen mense (vgl Matt 10:34 en Luk 12:51-53). Nêrens is dit duideliker as aan die kruis nie. Hoekom die twee misdadigers nie op dieselfde manier na Jesus gekyk het nie, sal ons nooit weet nie. Hoekom Pilatus en Herodes nie kon sien met Wie hulle te doen het nie, is ook ’n raaisel. Wat ons wel weet, is dat jou manier van kyk na Jesus die verskil is tussen lewe en dood.
Dis vandag nog so. Die meeste mense in ons samelewing weet van Jesus. Party kyk na Hom en trek die skouers op. Wie egter in Hom die Koning sien, ontvang die paradys. Bid dan dat mense se oë sal oopgaan vir Wie Hy is!




Hoofstuk van die dag: Lukas 22

Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.” (vers 33)

Petrus het geglo sy taak is om die Here te volg en dat hy bereid moet wees om selfs tot die dood toe vir Hom te veg. Daarom pluk hy ’n swaard uit om sy Here te beskerm (vers 50, Joh 18:10). Maar dís nie wat die Here toe nodig gehad het nie. Hy het Petrus se voorbidding (vers 40), en ondersteuning in sy verhoor nodig gehad.
Hierin het Petrus tragies misluk. Selfs voor die vraag van ’n diensmeisie val hy vas (vers 56). Petrus was nie ’n lafaard nie, maar Jesus het ’n ander soort moed van hom gevra: die moed om aan Hom getrou te bly en vir Hom te getuig in alle omstandighede.
Ons kan ook in die slaggat trap om aan óns idee van wat God verwag, vas te klou in plaas daarvan om te vra wat Jesus wil hê. Daarom dink party dat as jy werklik ’n goeie gelowige wil wees, jy iets groots vir God moet doen.
God vrá soms groot dinge, maar hoofsaak is dat ons aan Hom getrou bly en nie skaam is om sy kinders genoem te word nie.




Hoofstuk van die dag: Lukas 21

Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie beangs raak nie, want hierdie dinge moet eers plaasvind, maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie. (vers 9)

Jesus het gesê dit gaan nie aldag maklik wees nie. Vals stemme, oorloë, aardbewings, hongersnode en epidemies, vervolging … Selfs jou familie en vriende kan teen jou draai.
Jesus sê vier goed wat ons vandag kan help:
Daar kóm moeilike tye, ook vir Christene. Dan moet jy nie dink alles is verlore en die duiwel het gewen nie. Ook (en veral!) in die moeilike tye is God teenwoordig om ons te bewaar (vers 18).
Armpies gevou wag is nie ’n opsie nie (vers 19). Ons moet elke dag leef in die verwagting dat Jesus enige oomblik weer kan kom, want dit gaan gebeur op ’n tyd wanneer ons dit nie verwag nie.
Dis nie ’n ramp wat op ons wag nie, maar ’n geleentheid om te getuig (vers 13).
Wanneer dinge rof gaan, is Hy by ons om ons te help en te lei (vers 14). Ons hoef nie haarfyn te weet wat die toekoms vir ons inhou sodat ons ons daarop kan voorberei nie. Ons moet net innig aan die Here verbind leef. Hý sal sorg, belowe Hy.




Hoofstuk van die dag: Lukas 20

Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het. (vers 36)

Die Bybel gee vir ons hopeloos te min inligting oor die hiernamaals om ons nuuskierigheid te bevredig. Ons sal eenvoudig moet wag tot ons eendag deel in die groot geskenk wat God vir ons voorberei het. Dit help nie om daaroor te bespiegel nie, want God bêre dit vir ons as ’n verrassing (vgl Rom 8:17-18).
Hier en daar gee die Bybel wel vir ons ’n glimps van die hiernamaals, soos Jesus doen in sy gesprek met die Sadduseërs. Jesus sê die hiernamaals is nie bloot ’n verlengstuk van ons aardse bestaan nie. Dit gaan ’n heel nuwe bestaansorde wees. Die dood is vernietig (vgl Op 21:4); die noodsaak aan ’n nageslag is daarmee verby.
Die intieme saamwees in die huwelik sal ook nie in die hiernamaals vir net een verhouding geld nie. Dit beteken egter nie dat dié besondere verhoudings ewe skielik tot niet sal wees nie. Daar is immers nie nét diskontinuïteit nie, maar ook kontinuïteit in die lewe hierna. Volgens Op 14:13 volg jou aardse lewe en werke jou.
Anders, ja, maar hemels anders. Ek kan nie wag nie!